Leesplan inligting

Die Weg, Die Waarheid en Die LeweVoorbeeld

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

DAG 4 VAN 40

Dag 4 – Ek is die lig

Die wêreld is verlore en hopeloos vasgevang in duisternis (Johannes 1:4-14). Die wêreld kan nie self duisternis oorkom nie. Lig alleen is in staat om duisternis te oorkom. 'n Mens kan ook nie ander in die duisternis sien of lei nie, daarom is lig nodig sodat ons kan sien om veilig vorentoe te beweeg. In Jesaja 42:6 en 49:6 profeteer Jesaja dat ʼn persoon na vore gaan tree wat ʼn lig gaan wees wat nasies gaan red. Johannes sluit in sy evangelie aan by die ryk erfenis van die Ou Testament en verklaar dat Jesus die lig is: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Joannes.1:4-5).

Net soos die Israeliete tydens die uittog deur die vuurkolom (lig) gelei is en gered is van die Egiptenare, toe hulle die Rooi See oorgesteek het (Eksodus 13-14), so het Jesus belowe dat diegene wat Hom volg (lig) die lewe sal hê (Johannes 8:12). Hierdie lig was Jesus, en ʼn interessante verhaal word opgeteken in Lukas 2:29-32. Die verhaal van Josef en Maria wat op die agste dag na Jesus se geboorte, Hom na die Tempel toe geneem het om besny te word. Simeon, die ou profeet in die tempel, het uitgeroep toe hy die baba Jesus in sy hande neem: “Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke: 'n lig tot verligting van die nasies en tot eer van u volk Israel.”

Duisternis is ʼn metafoor vir boosheid, verlorenheid en onsekerheid. Lig is die metafoor vir hoop, rigting en sekerheid. Jesus begin ook later sy bediening in die metafoor van lig as ʼn vervulling van ʼn profesie deur Jesaja (Jesaja 9:1-2). Hy wys aan die mense van Galilea dat Hy die lig is wat hulle duisternis verdryf. Hy red mense, hy genees die siekes, bevry die wat onder die mag van die bose vasgevang is en herstel mense (Matteus 4:14-16). Later by die loofhuttefees verklaar Hy in Jerusalem: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Johannes 8:12). Jesus maak hierdie verklaring net nadat die owerspelige vrou betrap is en na Hom toe gebring is. Jesus se antwoord vir haar lewe was om hom te volg en die lig te verkry wat lewe gee. In Johannes 9:5 genees Jesus ʼn man wat blind gebore is en wys dit op Jesus wat sig bring vir die geestelike blindheid van die mens en lig vir die wat glo.

Om in die lig te wandel beteken dat ons na Jesus kyk wat die weg is. Dit beteken dat ons na sy lewe kyk, hoe Hy geleef het en dit navolg en ons lewe met Hom identifiseer. Miskien voel jou lewe in donkerte. As Jesus dan die lig is, het jy net nodig om vandag na hom te kom, jou geloof in hom te plaas, Hom te volg en die lig te voel skyn op jou lewe!

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jes...

More

Ons wil graag Collage Gemeenskapskerk bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://collage.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid