Leesplan inligting

Die Weg, Die Waarheid en Die LeweVoorbeeld

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

DAG 8 VAN 40

Dag 8 – Ek is die wynstok

Vandag bespreek ons die sewende "Ek is” verklaring wat in Johannes se evangelie opgeteken is: “Ek is die ware wynstok, en my Vader is die boer” (Johannes 15:1). Hierdie stelling dui op sy unieke goddelike identiteit en doel. In die Ou Testament word die volk Israel met ʼn wingerdstok vergelyk (Jesaja. 5:7; Jeremia 2:21).

Vir Jesus om te verklaar dat Hy die ware wingerdstok is, is om te sê dat Hy die ware Israel is en dat die lote uit hom groei. Hy het dit eerstens gesê vir sy naaste vriende wat rondom Hom vergader het. Dit was net 'n kort tydjie voordat Judas Hom sou verraai; trouens, Judas het reeds vertrek om sy verraad uit te voer (Johannes 13:30). Jesus was besig om die elf manne voor te berei vir sy toekomstige kruisiging, sy opstanding en die hemelvaart. Hy het pas vir hulle gesê dat Hy hulle sou verlaat (Johannes 14:2). Hy openbaar vir hulle dat Hy die ware wingerdstok is as bemoediging.

As jy al ooit ʼn druiweboord gesnoei het sal jy uiteindelik verstaan wat Jesus bedoel het. Die wingerdstok groei uit die grond uit en daaruit groei die lote wat die vrug dra. Wanneer die seisoen verby is, word die lote teruggesnoei sodat dit weer kan groei om maksimum vrug te kan voortbring. Die loot is afhanklik van die wingerdstok. Ware lewe is nie in die loot nie, maar in die wingerdstok. Jesus is dus die bron van voeding vir geestelike groei vir gelowiges.

Ons is dus afhanklik van Jesus vir lewe en groei. Dit kan nie anders wees nie, ʼn loot dra nie uit hulself vrug nie, maar omdat dit in verhouding met die wingerdstok is. Jesus wou hê dat alle gelowiges moes weet dat Hy altyd deur sy lewegewende energie sal voortgaan om mense geestelik te voed en te onderhou net soos die wortels en stam van 'n druiwestok die energie produseer wat voed en sy takke onderhou terwyl hulle hul vrugte ontwikkel.

Jesus wou hê dat ons moet weet dat, alhoewel ons Hom nie kan sien nie, ons so nou aan Hom verbind is as wat die takke van 'n wingerdstok verbind is aan sy stam. Ons begeerte om Hom te ken en lief te hê en die energie om Hom te dien, sal in en deur ons bly vloei solank ons in Hom “bly”. Hierdie illustrasie van die wingerdstok en lote is 'n absolute werklikheid. Geen gelowige kan onafhanklik van Christus Jesus enigiets van geestelike waarde bereik nie, daarom is ʼn innige verhouding tussen jou en Jesus ʼn noodsaaklikheid. Daarom is jou stiltetyd en gebed met Jesus belangrik.

Maak vandag tyd met Jesus sodat jy deur Hom, die Weg, groei kan ervaar deur die voeding van die wingerdstok!

Dag 7Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jes...

More

Ons wil graag Collage Gemeenskapskerk bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://collage.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid