Leesplan inligting

5 Minute Saam Met GodVoorbeeld

5 Minute Saam Met God

DAG 1 VAN 10

Is Hy genoeg vir jou?




“Weet jy hoe moeilik dit soms vir my is om vir ander ouers se vroeggebore babatjies te bid sonder om God te verwyt of skuldig te voel omdat ek nie weet of my gebed opreg is nie?” Ek kyk na die vrou voor my. Rou emosie tasbaar. Vir ’n oomblik is sy gestroop van haar gewone glimlag en selfbeheersing terwyl sy ’n stukkie van haar gebroke hart ontbloot. 


Sewe maande gelede moes sy langs die graf van haar klein pasgebore, vroeggebore babaseuntjie staan. Die baba was ’n antwoord op haar jare lange gebed vir nog ’n kindjie. Hy het net elf ure geleef. Sy het hom slegs ’n paar minute vasgehou. Al wat oorgebly het, is ’n leë bababedjie, ’n gebroke hart en baie vrae. Komplekse vrae. Waarom het sy weer swanger geword as dit só sou eindig? Waarom het God nie haar kind genees toe die komplikasies ingetree het nie? En wat moet sy haar ouer seuntjie antwoord as hy vra waarom Jesus sy boetie weggeneem het? 


Ek staan en kyk na haar en voel gestroop van woorde. Al wat deur my gaan, is die woorde in Jesaja 55:8-9: “Die Here sê: Ek dink heeltemal anders as julle. Ek doen dinge ook heeltemal anders as wat julle dit doen. Soos die wolke ver bo die aarde is, is die manier waarop Ek dinge doen ook ver bo die manier waarop julle dit doen. Hoe Ek dink, is ook baie ver van die manier waarop julle dink” (Die Boodskap).


Dan, soos die wolke voor die son wegtrek, verander die gesprek en vertel sy my hoe sy weet dat God steeds in beheer van haar lewe is, hoe Hy bonatuurlik vir haar deure oopgemaak het om te werk in die afdeling in die kraamsaal waar sy ouers bystaan met hul vroeggebore babas. Haar eie seer vul haar met dieper empatie. Omdat sy verstaan hoe dit voel om sonder ’n kindjie daar uit te stap, word sy vir baie ander ’n skouer om op te leun. En al verstaan sy nie hoekom haar kindjie weg is nie, weet sy dat Hy vir haar genoeg is. Sjoe!


Sal Hy vir jou genoeg wees as jy jou kind verloor, jou huwelik in ’n egskeiding eindig, jy bankrot verklaar word of jy ook bid vir genesing en dit nie dadelik kom nie?




Moeilike tye skep ’n geleentheid vir goeie mense om ’n getuienis vir die wêreld te wees.




Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

5 Minute Saam Met God

Die lewe kan soms soos een groot uitdaging voel. Maar God is nie ver en onbetrokke nie. Ons moet egter elke dag sy teenwoordigheid opsoek, of dit nou in daardie afgeknypte vyf minute is of intensiewe Bybelstudie. Wanneer...

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid