Leesplan inligting

5 Minute Saam Met GodVoorbeeld

5 Minute Saam Met God

DAG 9 VAN 10

Hy wil ons fondasie sterk bou





Tydens die 2016-Olimpiese Spele was die wêreld verstom oor die gimnas Simone Biles se vermoë. Ná jare se oefening het sy en ’n klomp ander gimnaste uitstekend gevaar. Hul vermoëns het ’n klomp kinders met sterre in die oë gelaat met die gedagte om in hul voetspore te volg. My 3-jarige dogtertjie is een van hierdie kinders. 


Ná weke se gesmeek het ek en my dogtertjie eindelik die week by haar eerste gimnastiekles opgedaag. Die ma langs my, wie se 5-jarige dogtertjie ook vir die eerste keer daar was, het my vertel dat haar kind so opgewonde oor die gimnastiek is dat sy selfs haar ballet opgegee het. ’n Mens kon die afwagting op die kind se gesig sien. 


Tydens die klas is die kindertjies in drie groepe ingedeel wat om die beurt op die balk moes loop, bollemakiesies moes slaan en op die springmat spring en op die mat land. Alles is duidelik aktiwiteite om die fondasie te lê waarop hulle as toekomstige gimnaste kan voortbou. 


Deur die loop van die klas het die 5-jarige dogtertjie egter met ’n lang lip en duidelik baie ongelukkig aangestap gekom na waar ek en haar ma gesit en wag het. Op die vraag wat fout is, het sy in trane uitgebars en deur die snikke gesê: “Nee, Mamma, hierdie is nie gimnastiek nie. Ek wil gimnastiek doen soos die mense op die TV.” Sy het ook die Olimpiese gimnaste dopgehou en geglo dat sy tydens haar eerste les soos hulle sou kon presteer. 


Soms het ons ook hierdie ingesteldheid wanneer ons oor sake bid. Ons bid met ’n bepaalde verwagting. Wanneer die antwoord anders lyk as die verwagting, word ons ongelukkig. Ons bars selfs uit in trane en vergeet dat God eers ’n fondasie by ons wil lê om te verseker dat ons karakter sterk genoeg is vir die deurbraak. 


Waarvoor bid jy vandag? Kom ons bly getrou en “stap op die balk, slaan bollemakiesie en spring op die springmat” met alles in ons terwyl ons ons geloof en vertroue in God plaas dat Hy vir ons deurbrake kan bewerkstellig. Die Olimpiese Spele is op pad, maar ons fondasie moet sterk genoeg wees as ons ooit daar wil uitkom.





Plaas jou vertroue in God dat Hy vir jou deurbrake kan bewerkstellig.




Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

5 Minute Saam Met God

Die lewe kan soms soos een groot uitdaging voel. Maar God is nie ver en onbetrokke nie. Ons moet egter elke dag sy teenwoordigheid opsoek, of dit nou in daardie afgeknypte vyf minute is of intensiewe Bybelstudie. Wanneer...

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid