Leesplan inligting

Gewaagde GebedeVoorbeeld

Dangerous Prayers

DAG 6 VAN 7

Stuur My



Ek is al vir 'n paar dekades 'n pastoor en het al eerstehands die mees intieme gebedsversoeke van duisende mense gehoor. Weekliks stroom honderde versoeke na ons kerk; vanaf gebedskaartjies in eredienste tot foonoproepe gedurende die week, of aanlyn versoeke deur ons kerk se sosiale media toep. Jy sal dus nie verbaas wees om te hoor dat die algemeenste frase wat ek elke week kry, iets is wat ek graag doen nie: "Pastoor, sal jy asseblief vir ... bid?"



Ek beskou dit as 'n voorreg, 'n eer, en 'n vreugdevolle verantwoordelikheid, om stil te word en 'n behoefte voor God se troon te bring. Om God te vra vir genade, leiding, voorsiening, optrede en om 'n wonderwerk te doen vir die mense wat ek weet Hom liefhet. Elke week is daar iemand wat vra dat 'n geliefde van kanker genees word, dat bure werk kry, dat 'n gebroke huwelik herstel sal word. Studente se gebede sluit in om in 'n universiteit van hul keuse toelating te kry, finansiering vir studies of om die pyn van ouers se egskeiding te verwerk. Sommige mense bid vir die regte lewensmaat. Ander soek hulp om iemand wat hulle seergemaak het, te vergewe. 



Al wissel die versoeke, vra almal vir God om iets vir hulle of iemand wat hulle liefhet, te doen. God, help my. Vader, help iemand vir wie ek lief is. Here, my behoefte is ... Vader, sal U asseblief ...? 



God, doen iets vir my



Luister asseblief ... ons moet beslis so bid. Ons behoort altyd God se teenwoordigheid in te nooi, God se krag en vrede om in ons lewens in te gryp. Ons behoort God te vra om wonderwerke namens ons te doen. Ons behoort ons geliefdes op te dra en onsself te herinner hoe God in hul lewens kan werk. Ons behoort al ons behoeftes aan die Here op te dra.



Dit moet egter nie daar ophou nie.



Wat as ons gewaagde, selfverloënende gebede bid, om ons aan ons hemelse Vader beskikbaar te stel, eerder as om God te vra om iets vir ons te doen?



Wat as ons dalk die mees gewaagde van alle gebede bid?



"Stuur my, Here. Gebruik my."



Jesaja het so 'n gebed, van onvoorwaardelike beskikbaarheid, in God se teenwoordigheid gebid. Die Ou Testamentiese profeet vertel weer van sy ontmoeting met die Heilige Een toe God hom gevra het: "Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?" (Jesaja 6:8a) Sonder enige besonderhede, sonder om te weet wanneer of waar, het Jesaja hierdie indrukwekkende, lewensveranderende gebed gebid: "Hier is ek. Stuur my!" (Jesaja 6:8b).



Let op dat Jesaja nie vir enige besonderhede gevra het nie. Hy het nie vir God gevra waar, of wanneer of wat sou gebeur nie. Dit is hoekom hierdie gebed so gewaagd kan voel. "God, stuur my. Gebruik my. Ek vra geen besonderhede nie. Ek hoef nie van enige voordele te weet nie. Ook nie of dit maklik sal wees nie. Of ek dit sal geniet nie. As gevolg van wie U is — my God, my Koning, my Verlosser — vertrou ek U. Omdat U die Alleenheerser oor die heelal is, gee ek myself oor aan u wil, elke deeltjie van my. Neem my denke, oë, mond, ore, hart, hande en voete en lei my volgens u wil. Ek vertrou U. God, my antwoord is "ja". Wat is dan nou die vraag?"



Stel jou voor dat jy so bid. Is jy al sat van jou veilige gebede? Is jy moeg om vir dinge te lewe wat nie saak maak nie? Verafsku jy halfhartige, louwarm Christenskap? Begin dan om gewaagde gebede te bid.



Here, hier is ek.



Stuur my.


Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Dangerous Prayers

Is jy moeg daarvan om versigtig met jou geloof om te gaan? Is jy gereed om jou vrese in die gesig te staar, jou geloof te bou en jou potensiaal vrye teuels te gee? Hierdie 7-dag leesplan van Life.Church, is gebaseer op p...

More

Baie dankie aan pastoor Craig Groeshcel en Life.Church vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.craiggroeschel.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid