Leesplan inligting

Gewaagde GebedeVoorbeeld

Dangerous Prayers

DAG 3 VAN 7

Deursoek My



Sal jy waag om te bid soos jy nog nooit voorheen gebid het nie?



Met jou hele hart, siel en verstand en die volle omvang van jou wese? Wat sou in jou lewe en in die lewe van ander om jou gebeur as jy begin om gewaagde gebede te bid?



Wil jy waag om uit te vind?



Koning Saul het Dawid valslik van verraad beskuldig en sy volle weermag herhaalde kere gestuur om Dawid dood te maak. Dawid wou God met sy hele hart behaag, daarom het hy teen sy woede geveg, om steeds die koning te beskerm en aan hom eer te bewys. Tog het Dawid geweet dat sy motiewe nie altyd suiwer was nie en daarom het hy sy hart aan God oorgegee in een van die mees kwesbare, deursigtige en gewaagde gebede wat jy ooit sal hoor. In sy gebed wou Dawid vir God in elke faset van sy lewe eer: "Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad" (Psalm 139:23-24).



Om só te bid is nie net moeilik nie, maar dis selfs nog meer uitdagend om toe te pas en uit te leef. As jy die moed het om so te bid, moet jy ook die moed aan die dag lê om dit uit te leef wat God vir jou uitwys. Moet dit dus nie bid as jy dit nie bedoel nie.



Wees dus gewaarsku dat hierdie gebed die moontlikheid inhou om jou skuldig te bevind. Om jou tereg te wys. Om jou lewe in 'n ander rigting te stuur. Om die beeld wat jy van jouself het te verander. Om te verander hoe ander jou sien.



Miskien dink jy nog dat dit nie eintlik iets ernstigs is nie. Miskien wonder jy waarom jy God moet vra om jou hart te deursoek as Hy reeds weet wat daarin is. Jy weet ook.



Hy weet reeds alles. Hoekom moet so 'n vanselfsprekende vraag dan gevra word?



Dis waar dit ingewikkeld raak. Op die oog af wil dit voorkom of ons tog ons eie harte ken. Nie waar nie? Ek weet wat my motiewe is. Ek weet wat vir my belangrik is. Ek weet hoekom ek doen wat ek doen. Buitendien sê jy aan jouself: ek het 'n goeie hart. Ek probeer nie om ander seer te maak nie. Ek wil net die regte dinge doen. My hart is op die regte plek, ek bid tog, of hoe?



God se Woord openbaar juis die teenoorgestelde. Dit mag dalk as 'n skok kom, maar Jeremia vertel ons kaalkop die waarheid. Hy was die seun van 'n Levitiese priester wat ongeveer 650 jaar v.C. gebore is. God het hierdie jong profeet gedurende die bewind van koning Josia gebruik om God se woord na Israel en ander nasies uit te dra. Jeremia sê reguit, jy — saam met my en al die ander — het nie 'n goeie hart nie. Trouens, jou hart is glad nie goed nie, dit is boos en in alle opsigte ook sondig. Die profeet sê ook: "Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?" (Jeremia 17:9).



Sonder Christus is jou hart bedrieglik. Hoe nader ons aan Jesus kom, hoe meer moet ons ons tekortkominge in die gesig staar. Trots. Selfsug. Begeertes. Verslawing. 'n Kritiese gees. 



Om hierdie gewaagde gebed te bid, kan 'n kommunikasiekanaal na God oopmaak. In plaas daarvan om bloot vir God te vra om iets vir jou te doen, vra Hom eerder om iets in jou te openbaar. God sal jou nie noodwendig onmiddellik in hierdie oomblik van waarheid verander nie, maar dit sal jou help om jou geestelike behoeftes te besef en jou lewe te herskep.



Dis hoekom Dawid se gebed waansinnig gewaagd is.



"Deursoek my hart, o God."


Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Dangerous Prayers

Is jy moeg daarvan om versigtig met jou geloof om te gaan? Is jy gereed om jou vrese in die gesig te staar, jou geloof te bou en jou potensiaal vrye teuels te gee? Hierdie 7-dag leesplan van Life.Church, is gebaseer op p...

More

Baie dankie aan pastoor Craig Groeshcel en Life.Church vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.craiggroeschel.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid