Leesplan inligting

Gewaagde GebedeVoorbeeld

Dangerous Prayers

DAG 4 VAN 7

Ontbloot My Vrese 



Wat maak jou angstig? Senuweeagtig? Onrustig? Bang?



Nou praat ek nie van die normale, natuurlike vrese soos vir slange, spinnekoppe, of om bang te wees vir vlieg nie. Ek wonder wat jou snags wakker hou, wat in jou gedagtes rondmaal en weier om stil te raak. Dinge soos om jou werk te verloor. Om nie getroud te kom nie. Om in 'n ongelukkige huwelik vasgevang te wees. Jou gesondheid wat agteruitgaan. Jou spaarrekening wat jy leeg tap om kop bo water te hou.



Ons weet nie presies watter vrese deur Dawid se gedagtes gegaan het nie, maar dis duidelik dat hy oor sy veiligheid, en moontlik sy toekoms, besorgd was. Nadat hy God gevra het om sy hart te deursoek, het Dawid gebid: "...ken my onrustige gemoed" (Psalm 139:23). Hy wou sy ergste vrese met God deel. Hy wou hulle reguit in die oë kyk en by die naam noem. Dawid wou vertrou dat God groter as enige vrese was waaraan hy kon dink.



Is jy bereid om só te bid: "Here, ontbloot wat my denke gevange hou. Wys my waarvoor ek die bangste is. Gaan voort en help my om wat vir my vreesaanjaend is, in die gesig te staar." 



Wat ons vrees maak saak.



Jare gelede het ek 'n openbaring oor hierdie onderwerp gehad, wat my op 'n baie persoonlike manier aangeraak het. God het my gewys dat dit wat ek die meeste vrees, juis die areas is waar ek God die minste vertrou. Na die geboorte van ons derde dogter, Anna, het Amy fisieke uitdagings begin ervaar. Ons het aanvanklik gedink dat dit uitputting was, maar toe haar liggaam begin lam raak, was ons bang dat dit iets baie erger was. Die dokters kon ons geen antwoorde gee nie. Soos haar simptome aangehou, en selfs vererger het, het my vertroue in God ook begin verswak.



Hierdie vrees het aanleiding gegee tot ander vrese en snags het my gedagtes handuit geruk. Wat as Amy dodelik siek is? Wat as ek haar verloor? Ek was nie in staat om ons kinders sonder haar groot te maak nie. Ek sou nie as kerkleier kon voortgaan nie. Ek sou nie wou aangaan nie. Toe tref dit my. Die dinge wat my snags wakker gehou het, was die dinge wat ek God nie voor vertrou het om te hanteer nie. Ek het daaraan vasgeklou, dit gedurig oordink, self probeer om 'n manier te kry om dit te beheer, om self al my probleme op te los, om my eie gebeurlikheidsplanne te maak. Gelukkig, deur God se genade, het Amy stadigaan verbeter en haar kragte herwin, maar haar uitdagings het een van my ergste swakhede ontbloot. Vrees het my opgevreet.



Wat van jou? Aan watter areas klou jy nog vas, selfs al laat jy dit toe om jou beangs te maak? Watter vrese weerhou jy van God?



Dink hieroor na. As jy in vrees vasgevang is oor die toekoms van jou huwelik, is dit 'n aanduiding dat jy God nie ten volle met jou huwelik vertrou nie. As jy oorweldig is deur bekommernis oor die betaling van jou rekeninge, openbaar dit dalk dat jy God nie vertrou om jou Voorsiener te wees nie. As jou kommer oor jou kinders se veiligheid jou verlam, is dit dalk moontlik dat jy God nie vertrou om hulle veilig te hou nie?



Soos God jou vrese ontbloot, sal Hy ook jou geloof versterk. Jy het Hom nodig. Jy het sy teenwoordigheid en krag nodig. Jy het sy Gees nodig om jou te lei. Jy moet deur sy Woord versterk word. 



Waar jou grootste vrese lê, is waar jy geestelik moet groei. Waarvoor is jy bang? Watter angstige gedagtes het jy?



Wat is God besig om vir jou te wys?



In watter areas moet jou geloof groei?



Vertrou Hom. 


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Dangerous Prayers

Is jy moeg daarvan om versigtig met jou geloof om te gaan? Is jy gereed om jou vrese in die gesig te staar, jou geloof te bou en jou potensiaal vrye teuels te gee? Hierdie 7-dag leesplan van Life.Church, is gebaseer op p...

More

Baie dankie aan pastoor Craig Groeshcel en Life.Church vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.craiggroeschel.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid