Leesplan inligting

Gewaagde GebedeVoorbeeld

Dangerous Prayers

DAG 5 VAN 7

Verbrysel My



Dis goed en wel om vir veiligheid en seëninge te bid, maar wat as jy meer wil hê? Wat as jy smag na die krag van die Heilige Gees, krag vanuit die hemel, onwrikbare geloof, opregte intimiteit met jou Vader? 



In plaas daarvan om net vir God te vra om jou veilig te bewaar, jou meer te gee en jou lewe te beskerm, mag jy dalk vir God moet vra om jou te verbrysel.



Wanneer ek daaraan dink om hierdie gebed te bid: "Here, verbrysel my," dink ek aan die ervaring wat ek en Amy in ons kleingroep gehad het. Op 'n winderige, koue Woensdagaand in Junie, het ons in 'n warm, knus vertrek saam met sewe of agt ander paartjies gesit, terwyl ons oor hierdie presiese onderwerp —gewaagde gebede — gesels het.



Ons het almal saamgestem dat ons dit wil bid — en dit bedoel — maar kon nie ontken dat ons nogal vir die gevolge bang was nie. Die eerste vrou wat gepraat het, het die moontlikheid ernstig opgeneem, maar het erken dat dit vir haar 'n stryd was. Sy was 'n liefdevolle vrou en moeder van vier, wat Jesus al sedert graad 10 getrou gevolg het. Sy was betrokke in die kerk se kinderbediening, het haar tiende getrou gegee, met pleegkinders gehelp, 'n weeklikse Bybelstudie bygewoon en gereeld hardop in groepe gebid.



Gekonfronteer deur die opsie om God te vra om haar te verbrysel, het sy geweier. "Jammer, ek moet eerlik wees," het sy gesê. "Ek wil God nie vra om my te verbrysel nie. Ek is bang vir wat mag gebeur. Ek is 'n ma van vier kinders en het hulle te lief. Om God te vra om my te verbrysel, is eenvoudig vir my iets te vreesaanjaend om ooit te bid. Wat as ek siek of depressief raak of van my gesin geskei word?" 



Die meeste ander mense in die kleingroep het instemmend geknik.



My vraag bly egter vandag vir almal nog steeds dieselfde: wat loop ons mis deur aan ons gemak vas te klou?



Wat verbeur ons omdat ons so daaraan verbind is om pyn en ongemak te vermy?



Jesus het gesê: "... want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry" (Matteus 16:25). Jesus nooi ons nie tot 'n lewe van gemak nie, maar van oorgawe en opoffering. Ons grootste begeerte behoort nie te wees dat ons wil sal geskied nie, maar dat God se wil sal geskied. Jesus nooi ons om ons lewens af te lê, sodat ons van oomblik tot oomblik, dag na dag, vir Hom kan lewe. Om ons knus sitkamers en veilige gebede agter te laat, sodat ons kan weet wat dit beteken om ter wille van ander verbrysel te word.



Deur die veilige weg te volg, loop ons die risiko om iets verreweg meer kosbaar as ons veiligheid en gemak mis te loop. Ons besef nie watter seëninge vir ons mag wag as ons deur God verbrysel word nie.



Lukas 22:19 sê: "Toe neem Hy [Jesus] brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: 'Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.'" Byna alle Bybelgeleerdes stem saam dat Jesus se opdrag "gebruik dit", aan gelowiges 'n manier verskaf om te onthou, Hom te eer en sy dood en opstanding te vier. Sommige glo dat Jesus se woorde "gebruik dit" ook verwys na hoe ons moet lewe. Wat as Jesus nie slegs van 'n kerklike ritueel gepraat het wat ons by geleentheid deurgaan nie? Wat as Hy ons ook nooi om daagliks verbrysel en uitgegiet te word? Wat as ons die moed, durf en geloof het om te bid: "God, verbrysel my"?



Ons dink nie net aan Jesus gedurende nagmaal by die kerk nie. Ons dink aan Hom in ons daaglikse lewe. Jesus se liggaam was gebreek en sy bloed vir ons uitgestort, daarom behoort ons ook daagliks vir Hom te lewe, verbrysel en uitgegiet te word. 



Dit mag aanvanklik nie juis aanloklik klink nie. Wie wil nou "verbrysel" en "uitgegiet" wees? Ten beste klink dit pynlik en ellendig. Dit is egter wanneer ons ons lewens prysgee, dat ons ware vreugde vind. Eerder as om ons eie wil na te streef, moet ons onsself aan Hom oorgee. In plaas daarvan om ons lewens te probeer vul met alles wat ons begeer, maak ons ons lewens leeg om 'n verskil in ander s'n te maak.



Ware gebrokenheid voor God is nie 'n eenmalige gebeurtenis nie, dis 'n daaglikse besluit. Paulus sê: "Elke dag word ek deur die dood bedreig" (1 Korintiërs 15:31). Wat beteken dit? Hy kies om elke dag sy eie begeertes te kruisig, sodat hy ten volle vir God kan lewe. As jy die moed het om hierdie gebed te bid, maak jouself daarvoor gereed. Wees gereed om God te ken en deur God geken te word, op 'n manier wat jy nog nooit voorheen ervaar het nie.



Jy kan die veilige weg kies. My instink sê vir my dat jy meer wil hê. Ek kies om anders te wees. Ek is 'n geesvervulde, wat groot risiko's waag. Ek sal God nooit beledig deur klein te dink of veilig te lewe nie. As daar seëninge anderkant gebrokenheid is, verbrysel my dan.


Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Dangerous Prayers

Is jy moeg daarvan om versigtig met jou geloof om te gaan? Is jy gereed om jou vrese in die gesig te staar, jou geloof te bou en jou potensiaal vrye teuels te gee? Hierdie 7-dag leesplan van Life.Church, is gebaseer op p...

More

Baie dankie aan pastoor Craig Groeshcel en Life.Church vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.craiggroeschel.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid