Leesplan inligting

Wie is onsVoorbeeld

Wie is ons

DAG 1 VAN 7

Gesigte

Dit het baie deskundiges verskeie dekades geneem om programmatuur te ontwikkel wat gesigte kan herken. ‘n Ma se gesig is egter dadelik vir haar baba herkenbaar — slegs ‘n paar dae na geboorte. Gesigsherkenning kom daarop neer dat ons mense wat ons vir die eerste keer ontmoet, beoordeel volgens ons vooroordele, volgens die Nobel-bekroonde Daniel Kahneman. Hierdie vorm van dink is instinktief en baie vinnig.

Die vraag wat nou ontstaan is: Hoeveel “liggaamstaal” word deur ons gesigte vertoon? In sy boek "Talking to Strangers" huldig Malcolm Gladwell die mening: "Hoe ons gesigsuitdrukkings lees, is afhanklik van die kulturele agtergrond van die spreker en van die hoorder."

Wat ons in ‘n persoon se gesig "lees" is egter dikwels vals. Ek verwys na die rolprente waarna ons kyk. Selfs in lewendige opvoerings sien 'n mens slegs die “spelgesig” van die ster. Verder kan ons vra hoe geloofwaardig die lyftaal van iemand is wie se gesig chirurgies gerekonstrueer is.

In die Bybel is verskeie gevalle opgeteken van gesigte wat ‘n buitengewone gelaatskleur aangeneem het. Moses se gesig het gegloei toe hy met die tien gebooie van die berg Sinai afgekom het. Jesus se gesig het geskyn soos die son terwyl Hy op die berg van verheerliking was. Toe Stefanus sy aanklaers toegespreek het, het sy gesig gelyk soos “die gesig van ‘n engel” (Handelinge 6:15). Die ikone van heiliges in die vroeë kerk was geverf met ligkranse. Was dit die skilders se manier om stralende gesigte te probeer voorstel?

Daar is geen waarborg dat ‘n gesig herken sal word weens die onskuld of welwillendheid van sy eienaar nie. Die mees liefderyke, eerlike en opregte Persoon wat ooit gelewe het, het haat ontlok uit die godsdienstige leiers van sy dag wat deur Hom bedreig gevoel het. Die profeet het aangaande Hom geskryf dat Hy nie buitengewoon aantreklik was nie (Jesaja 53:2). Tog is Hy die beeld van die onsienlike God (Kolossense 1:15).

Die duiwel het aangaande Job aan God gesê: “hy sal U in die gesig vervloek as U sou ophou om hom te seën." Het hy uit ondervinding gepraat? Is Jesaja 14:14 ‘n weergawe van hoe die Satan die Seun van God in die gesig gekyk het terwyl hy sê: “wie is Jy?” Het die slang Eva bedrieg om haar man in dieselfde strik te laat val, naamlik om verwaand aanspraak te maak op die plek wat vir die Messias bestem was? Die aangesig van God het blykbaar nie genoeg bedreiging vir Adam ingehou om hom te keer om ‘n god te wil wees nie. Ons weet dat Jesus presies die teenoorgestelde houding ingeneem het (Filippense 2:6-8). As ons eerlik genoeg is om dit te erken, sal ons saamstem daar is iets in elke menslike hart wat ons aanspoor om beter as God te weet.

Maar die psalmdigters moedig ons aan om God se aangesig op te soek (Psalm 27:8; 105:4) en daar is beloftes van seën aan elkeen wat dit doen (2 Kronieke 7:14). Die seënbede wat priesters oor die Israeliete uitgespreek het, bevat ‘n pleidooi aan God om sy aangesig oor hulle te laat skyn (Numeri 6:25).

Oordenking:

Hoe soek ons die aangesig van God op?

Sien ons die weerkaatsing van sy gesig in die gesigte van medegelowiges?

Paulus het gesê dat ons van gedaante verander na die Here se beeld wanneer ons sy heerlikheid aanskou (2 Korinthiërs 3:18).

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Wie is ons

Die doel van hierdie leesplan is om geloof in die betroubaarheid van die Here en die Bybel te versterk. Die leser moet verkieslik 'n Bybel byderhand hê. Om 'n oordenking in te neem, raai ek aan dat ten minste 15 minute d...

More

Ons wil graag Urban Edge Church bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.urbanedge.org.za/church-online/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid