Leesplan inligting

Guns By KoningsVoorbeeld

Favor With Kings

DAG 4 VAN 7

Die Vonk

Jesus se beroemde woorde lui: "Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie” Matteus 17:20b.


Waarom sou Hy die voorbeeld van 'n mosterdsaad gebruik? Waarskynlik omdat dit die kleinste saadjie is waarmee sy luisteraars bekend was.


Wat het Hy daarmee bedoel? As jou geloof in God is, het jy net 'n klein bietjie geloof nodig om groot resultate te sien.


Sonder geloof is jy blind. As jou geloof in menslike dinge is, sal jy net hindernisse raaksien. Met geloof in God sal jy sien hoe berge beweeg.


Met Nehemia se aankoms was daar alreeds meer as 50 000 mense wat in Jerusalem gewoon het. Was Nehemia die slimste onder hulle? Waarskynlik nie. Het hy 'n agtergrond as ingenieur gehad? Nee. Was hy die beste kontrakteur? Dis te betwyfel. Trouens, toe Nehemia opgedaag het, was sy vel sag en het hy geen eelte op sy hande gehad nie.


Hy was die koning se skinker. Dit was 'n gemaklike werk wat geen handearbeid geverg het nie. Wat sou hom onder die indruk gebring het dat hy in staat sou wees om so 'n massiewe poging te kon mobiliseer onder soveel mense? Dit was eenvoudig sy geloof in die God wat aan hom guns bewys het en tot dusver 'n weg vir hom gebaan het.


Ek kan my voorstel hoe Nehemia om hom gekyk het, en wat voorheen 'n indrukwekkende, beskermende stadsmuur was, was nou net puin. Daar het tienduisende mense, in blootstelling, binne die reghoekige hoop massiewe klippe gewoon, tog het niemand daarin geslaag om enigiets aan hulle werklikheid te verander nie. Hier was Nehemia egter nou — met sy oortuiging, 'n plan, die guns wat hy geniet en voorrade.


"Hoekom nie ek nie? Hoekom nie nou nie?"


"God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?" Romeine 8:31b.


Ek moedig jou aan om jouself hierdie vrae af te vra.


Vir die Joodse ballinge wat met 'n minderbevoorregte lewe tevrede was, het Nehemia "die vonk" geword omdat hy toegelaat het dat God 'n vonk in hom aansteek. Daardie vonk het 'n vlam geword wat geloof aangevuur het — geloof dat die God wat hierdie goeie werk begin het, dit tot voltooiing sou bring.


God gebruik passievolle mense met planne as die vonk om groot dinge te doen, veral as daardie mense onthou dat dit God is wat die vonk aangesteek het om met iets groot te begin. Nehemia het seker gemaak dat die volk dit duidelik verstaan het en daarom het hulle hom gevolg.


"Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak" (Nehemia 2:18).


In my eie woorde, sê Nehemia dus: "Dit is groter as ek en jy. Dit is iets van God af! God het my 'n gebroke hart gegee. God het my tot die daad aangespoor. God het my in die koning se guns gebring. God het my ook van die gereedskap voorsien wat ons nodig het. As ons misluk — en ek glo nie ons sal nie — is dit nogtans die moeite werd omdat ons glo God is in hierdie werk. Dis nou tyd om te begin!"


Die volk antwoord: "Kom ons bou!"


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Favor With Kings

Jy smag daarna om 'n betekenisvolle lewe te lei. Wat as jy dit egter heeltemal verkeerd aangepak het? Kry die antwoorde in die memoires van Nehemia. Dit kom uit Pastoor Caleb Anderson se nuwe boek "Favor with kings".

Baie dankie aan David C Cook wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.dccpromo.com/favor-with-kings/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid