Leesplan inligting

Guns By KoningsVoorbeeld

Favor With Kings

DAG 1 VAN 7

Slegte Nuus

Slegte nuus lei tot deurbrake.


Ek is seker toe Nehemia sy broer en vriende groet nadat hy hulle vir die eerste keer ontmoet het, het hulle oor 'n paar ditjies en datjies gesels, maar dit het nie lank aangehou nie. Daar was 'n ooglopende probleem waarom almal op eiers geloop het.


Nehemia het soos 'n koning in die paleis gewoon terwyl sy vriende en familie pas eenduisend twee honderd en negentig kilometer ver geloop het … met 'n rede. Hul uitputting en moedeloosheid was duidelik op hul gesigte te sien. Nehemia besluit egter om in te spring en die ooglopende te ignoreer.


Nehemia: "Hoe gaan dit regtig met julle?"


Vriende: "Wel nie te goed nie."


So gaan dit nè, of hoe? Jou hart sink in jou skoene en jy dink: "Hoekom het ek enigsins gevra?"


Niemand hou van slegte nuus nie. Niemand geniet tragedie en pyn nie. Ons weet dit is deel van die lewe, maar ons sal almal verkies om dit so ver as moontlik te vermy.


Tog is daar 'n vreemde gevoel wat ons deernis noem. Dit is die wese van omgee en besorgdheid asook gewilligheid om te help waar nodig.


Deernis is een van die suiwerste uitdrukkings van menslikheid.


Deernis is Moeder Teresa wat haar lewe opoffer om die armes te dien. Dit is die gesin wat verbysterende moeite doen om 'n kind aan te neem wat andersins geen toekoms sou gehad het nie. Deernis is die maaltyd saam met 'n hawelose persoon. Dis om langs die pad te stop om iemand se motor van die pad af te help stoot. Deernis is om in stilte by 'n vriend te sit en saam te huil oor 'n geweldige verlies omdat woorde tekortskiet.


Deernis is om te vra, te identifiseer en te doen wat jy kan.


Nehemia het deernis vir sy volk en hulle sien dit, daarom gee hulle vir hom die slegte nuus — en dis regtig slegte nuus.


Nie net is Jerusalem — 'n stad wat voorheen bekend was vir sy krag en God se seëninge — nou tot as en puin vernietig nie, maar tot nou toe was niemand nog in staat om iets daaraan te doen nie. Die tempel is herbou, maar toe die volk die stad en sy mure probeer herbou het, was daar groot teenstand. Die Persiese koning het ingegryp en die projek is beëindig. Die Jode is in 'n penarie gedompel. Aanvanklik was hulle optimisties, maar is nou gefrustreerd. Al was hulle voorheen vol moed, het hulle nou alle hoop verloor.


Daar is 'n sielkundige beginsel wat onder gevangenes in tronke voorkom en wat "gevangeniswording" genoem word. Dit impliseer dat mense wat hulleself as gevangenes beskou, (en agteruitgaan, slagoffers word, ens.) sal voortgaan om op te tree in ooreenstemming met daardie opvatting, selfs as hulle omstandighede verander. In hierdie geval is dit waarskynlik dat al is die Joodse gevangenes vrygelaat en terug by die huis, het hulle hulself nog steeds as onbeduidend, hopeloos en onwaardig of sonder die vermoë beskou om betekenisvolle vordering te maak. Met ander woorde, hulle het nog steeds soos magtelose slawe opgetree.


Daardie sielkundige oorlog is nog steeds een van die grootste menslike worstelinge. Ons leef in ooreenstemming met ons oortuigings. Ons tree op na aanleiding van hoe ons onsself sien. Die meeste mense het 'n geringe of negatiewe siening van hulleself.


Nehemia luister na die beskrywings van die afgebreekte mure en uitgebrande hekke, maar deur hulle woorde heen sien hy 'n dieper realiteit. Hy sien 'n volk wat hul identiteit en krag verloor het en nog net aan 'n flentertjie hoop vasklou — maar dalk kan Nehemia die koning beïnvloed.


Terwyl Nehemia na sy vriende kyk, sien hy verby die oppervlak van die probleme. Namate hy hul verslae hoor, luister hy op 'n dieper vlak.


Natuurlik was dit slegte nuus, maar hierdie slegte nuus was op die punt om alles te verander.


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Favor With Kings

Jy smag daarna om 'n betekenisvolle lewe te lei. Wat as jy dit egter heeltemal verkeerd aangepak het? Kry die antwoorde in die memoires van Nehemia. Dit kom uit Pastoor Caleb Anderson se nuwe boek "Favor with kings".

Baie dankie aan David C Cook wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.dccpromo.com/favor-with-kings/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid