Leesplan inligting

Die Ek Wat Ek Wil WeesVoorbeeld

Die Ek Wat Ek Wil Wees

DAG 3 VAN 10

Ons name is belangrik. Ons kom in die wêreld sonder ’n naam. Dit is die eerste geskenk wat ons ouers aan ons gee. Gewoonlik word die naam met groot sorg gekies. Dit is ons s’n tot ons die dag doodgaan, en selfs daarna word met ons naam na ons verwys. Dit is hoe ons herken, bemin en onthou word.

In die Bybelse tyd het name selfs nog meer gewig gedra as vandag. Dit was nie net die manier waarop mense mekaar aangespreek het nie. Name is gegee om die essensie van ’n persoon se karakter te beskryf. Dit was ook simbolies van die hoop en verwagtings wat ouers vir hul kinders gekoester het. Jou naam was ’n beskrywing van jou identiteit en van wie jy was en wie jy sou word.

Die Hebreeuse betekenis van "Jakob" was "die een wat bedrieg". Letterlik het die woord beteken "om iemand aan die hakskeen te byt". Jakob het beslis sy naam gestand gedoen. Hy het sy pa om die bos gelei. Hy het sy broer mislei. Hy het sy skoonpa bedrieg. Hy het ’n lewe van valsheid geleef.

Vir meer as twintig jaar het hy die gebruik van sy naam doelbewus vermy. Jy kan dit in sy verhaal in Genesis lees. Toe hy vir sy pa ’n geroosterde lammetjie gebring het, het hy voorgegee dat hy sy broer is. Hy het sy broer se klere aangetrek, sy arms en nek met vel bedek en vir sy blinde pa gesê: "Ek is Esau". Op ’n ander keer, toe hy die vrou van sy drome by die put ontmoet het, het hy homself voorgestel as "'n familielid van haar vader en ’n seun van Rebekka." Dis duidelik dat hy gesukkel het om sy eie naam te gebruik!

Dit kan wees dat Jakob in hierdie geveg, in ‘n oorlog met homself is. Dat hy met homself in ‘n geveg en worsteling is oor wie hy eintlik is. Hy is gekonfronteer met homself – sy skaduwee.

Jung skryf oor wat hy noem "die skaduwee", die negatiewe kant van ons persoonlikhede, die aspekte van onsself waarvan ons nie hou nie en eerder wil maak asof hulle nie regtig daar is nie. Hoe meer ons egter probeer om dit agter ons te plaas en te ignoreer, hoe meer volg dit ons soos ons skaduwees.

Hy is gekonfronteer met die persona wat hy ontwikkel het: die planmaker wat sy lewe self wou uitgewerk het.

Die keerpunt in Jakob se lewensreis het eers gekom toe hy eerlik met homself was.

As ons waarlik innerlike verandering wil ervaar, moet ons teenoor God erken wie ons werklik is. God kan ons nie verander as ons nie bereid is om ons ware self voor Hom bloot te lê nie. Ons het veral nodig om in God se teenwoordigheid daardie dele wat ons wil wegsteek — die persona, die skaduwee, die masker, ons woede en ons vrese, ons kritiese self, ons vooroordele, ons oneerlikheid en bedrog, ons begeertes en verslawings — bloot te lê voor Hom. God storm nie ons lewens binne en konfronteer ons met onsself nie, Hy kom deur ons lewenservaringe wat ons keer op keer met ‘n vraag nooi: Wie is ek? Wat is my naam?

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Die Ek Wat Ek Wil Wees

"Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen[Godgegewe identiteit]. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy sel...

More

Ons wil graag vir Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid