Leesplan inligting

Die Ek Wat Ek Wil WeesVoorbeeld

Die Ek Wat Ek Wil Wees

DAG 5 VAN 10

Ek sal graag met jou wil praat oor ʼn baie belangrike ontmoeting wat jy gehad het, waarvan jy dalk nie bewus is nie. Dit het gebeur net voor jou geboorte. Ja, jy is ʼn ewige wese en jy het ʼn gesig gehad voor jou geboorte. Die Here het jou gevra of jy saam met Hom sal hande vat om iets op aarde te kom doen. Hy is besig met die herstel van alle dinge op die aarde. Daar is iets spesifiek wat Hy wou gehad het jy moet kom doen. Hy het vir jou gesê dat Hy vir jou alles sal gee wat jy nodig het om hierdie missie te volbring. Hy gaan vir jou ouers gee, sodat jy die lewe kan binnekom, sodat jy ʼn mens kan word. Dan gaan Hy jou weef, jou vorm in die skoot van jou moeder, maar dit gaan nie daar ophou nie. Deur die hele ervaring en alles wat met jou gaan gebeur, gaan Hy aanhou om jou te vorm. Jy gaan dus iets hê wat alle mense het. Jy gaan na sy beeld geskape word. Jy gaan sy kind wees. Jy kom uit ʼn huis van liefde en uit ʼn plek van liefde.

Nou gaan daar iets heel uniek in jou lewe tot stand kom – ʼn persoonlikheid, gawes, talente, ʼn passie, alles wat totaal uniek aan jou is. Hy gaan vir jou al hierdie ervaringe gee en dit gaan nie alles aangenaam wees nie. Om die waarheid te sê, die geboorte sal gepaardgaan met pyn, en dikwels, die vormingsproses en wanneer daar ʼn nuwe jy of ʼn dimensie na vore kom, sal dit gepaardgaan met pyn.

Jy het daarvoor ja gesê. Daarom is jy hier. Nadat jy ja gesê het, het Hy jou voorgestel aan ʼn engel wat Hy vir jou gee om saam met jou deur hierdie lewe as ondersteuning te gaan. Die engel het na jou toe gedraai, sy vinger op jou lippe gesit en gesê: “Shh!” En op daardie oomblik het jy alles vergeet.

Dit is ʼn ou Joodse volksverhaal wat ek so bietjie aangepas het vir die oordenking. Hierdie verhale vind ons regoor die wêreld. Dis stories, mites, legendes om ons te help verstaan wie ons eintlik is en vir ons ʼn identiteit te gee. Wie is ek? Wie is ons as mense? Waaroor gaan die lewe?

Dit gaan om uit te vind wie jy is, waar jy in hierdie wêreld inpas; en wat jy met jou lewe moet doen. Jy kan nie jouself skep nie; jy moet uitvind wie jy is. Jy moet op ʼn innerlike reis gaan. Dan moet jy aanvaar wat jy vind in dit wat jy ontdek, want dit is vir jou gegee. Ja, jy is net soos alle mense, maar daar is ook iets heeltemal uniek aan jou.

Daar is iets wat ons in gemeen het: Ons is na die beeld van God geskape. Ons is sy kinders. Ons is sy geliefdes. Maar soos ʼn ui is daar verskillende lae wat die "ek" vorm en wat deel is van ons identiteit. Daar is ook iets baie uniek aan jou – jou persoonlikheid, jou gawes, en dan gaan dit verder: jou ras, jou volk, jou taal, jou kultuur, jou man-wees, jou pa-wees ... Alles is deel van jou lewe. As jy dit vind, moet jy dit aanvaar en moet jy uitwerk wat in jou is, sodat jy, jy, kan word en sodat jy met jou lewe kan doen waarvoor jy hier is.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Die Ek Wat Ek Wil Wees

"Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen[Godgegewe identiteit]. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy sel...

More

Ons wil graag vir Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid