Leesplan inligting

Die Stryd in jou Gedagtes DagstukkiesVoorbeeld

Die Stryd in jou Gedagtes Dagstukkies

DAG 3 VAN 14

Terwyl Ons Fokus 

Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; - SPREUKE 23:7

Jare terug het ek ‘n onskatbare les geleer: Waarop ons fokus, bepaal wat ons word. Daardie eenvoudige stelling het my baie geleer. Waarop ons ook al ons energie of ons aandag vestig, sal in ons lewe ontwikkel. ‘n Ander manier waarop ek dit wil sê, is:’’ Waar die gedagtes gaan, sal die man volg!’’

 As ek aan roomys begin dink, sal ek myself gou in my motor bevind om roomys te gaan koop. My gedagtes sal my begeertes en emosies aanwakker, en ek sal die besluit neem om dit te volg.

 As ons net op die negatiewe dinge in ons lewens fokus, word ons negatiewe mense. Alles, ook ons ​​gesprekke, word negatief. Ons sal gou ons vreugde verloor en ellendige lewens lei — en dit het alles met ons eie denke begin.

 Jy ervaar dalk probleme in die lewe - en jy besef nie dat jy dit self skep deur wat jy kies om aan te dink nie. Ek daag jou uit om na te dink waaraan jy dink!

 Jy is miskien moedeloos en selfs depressief en wonder wat dit veroorsaak het. As jy egter jou gedagtes ondersoek, sal jy agterkom dat jy die negatiewe emosies wat jy voel, voed. Negatiewe gedagtes is olie op die vuur vir mismoedigheid, depressie en baie ander onaangename emosies.

 Ons moet ons gedagtes noukeurig kies. Ons kan nadink oor wat verkeerd is met ons lewens of oor wat reg is daarmee. Ons kan nadink oor wat verkeerd is met al die mense met wie ons verhoudings het, of ons kan die goeie sien en daaroor nadink. Die Bybel leer ons om altyd die beste te glo. As ons dit doen, maak dit ons eie lewens gelukkiger en rustiger.

Ek het 'n wonderlike lewe - en 'n liefdevolle man en kinders. Ek is ook bevoorreg om deur God gebruik te word om miljoene mense regoor die wêreld te seën deur die wonderlike bediening wat Hy my gegee het. Die lewe is egter nie volmaak nie, en as ek die duiwel toegelaat het om my gedagtes te vul met negatiewe gedagtes - soos hy lank gelede gedoen het - sou ek die onderspit gedelf het.

Ek wil op God se genade fokus en dankie sê vir al die goeie dinge in my lewe. Ek wil nie fokus op wat ek nié het nie.

‘n Ou vriend het hierdie gesegde aangehaal: ‘’Soos jy deur die lewe gaan en wat jou doel ook al is, hou jou fokus op die belangrike en nie die minder belangrike nie.’’ Te veel mense fokus op wat nie daar is of wat nie reg is nie.

Ons gedagtes  bepaal grootliks ons bestemming. Ons gedagtes bepaal ook ons ​​geluk. Spreuke 23: 7 is een van my gunsteling verse. Gedagtes is kragtig. Dit is nie net woorde wat deur ons gedagtes vloei nie. Dit is dus baie belangrik om te besluit wat ons in ons gedagtes sal toelaat.

Ons moet nie vergeet dat ons gedagtes ‘n slagveld is nie. Ons moet altyd onthou dat ons teëstander dit op enige manier sal gebruik om ons in ‘n strik te vang.

Ek word herinner aan 'n man wat na een van ons byeenkomste gekom het. Hy wou bevryding hê van sy verslawing aan pornografie. Hy het gesê dat hy eenkeer iets op die internet gesien het nadat hy per ongeluk aangemeld het op 'n webwerf met eksplisiete seksuele foto's. Die volgende dag het hy daaroor gelag teenoor een van sy kollegas. ‘’Wie wil na dié goed kyk?’’ het hy gevra. 

 Die volgende aand was hy weer terug op die webwerf. En baie aande daarna. Hy het seksuele produkte gekoop en dit na sy kantoor gestuur. Hy het dit vir sy gesin weggesteek. ‘’Hoe gaan ‘n klein dingetjie soos dit seermaak?’’ het hy geredeneer.

 Hy erken dat hoe meer hy die foto’s gesien het, hoe meer het hy aan vroue as voorwerpe begin gedink - voorwerpe vir sy plesier. Op 'n dag het sy vrou gesê: ‘’Ek weet nie wat met jou gebeur het nie, maar jy moet óf jou gesindheid verander óf ek verlaat jou.’’

 Sy lewe het vinnig agteruitgegaan voordat hy vir gebed gevra het. ‘’Ek het nooit gedink dat om na paar pornografiese webwerwe te kyk so verslawend kan raak nie.’’

Om dit anders te stel: ons kan nie 'n positiewe lewe hê met negatiewe gedagtes nie. Ons gedagtes — ons fokus — bepaal waar ons eindig.

Jesus, ons Vriend en Verlosser, wil hê dat ons gedagtes gevul moet word met positiewe, goeie en gesonde gedagtes. Hoe meer ons op hierdie dinge fokus, hoe meer oorwin ons Satan se aanvalle.

Liewe geduldige en liefdevolle God, ek vra U om my te vergewe dat ek my gedagtes op dinge fokus wat U nie behaag nie. Ek bid dat U my sal help om my gedagtes te vul met skoon, suiwer en opbouende gedagtes. In die Naam van Jesus. Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Die Stryd in jou Gedagtes Dagstukkies

Hierdie dagstukkies sal jou toerus met inspirasies van hoop om woede, verwarring, veroordeling, vrees, twyfel, te oorwin ... noem maar op. Hierdie insigte sal jou help om die vyand se komplot te ontbloot om jou te verwar...

More

Ons wil graag Joyce Meyer Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://tv.joycemeyer.org/afrikaans/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid