Leesplan inligting

Die Stryd in jou Gedagtes DagstukkiesVoorbeeld

Die Stryd in jou Gedagtes Dagstukkies

DAG 6 VAN 14

Eers die Lyding

In sy genade het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Nadat julle ’n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel; Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak - 1 Petrus 5:10

‘’Waarom moet ons ly? As God ons waarlik liefhet, hoekom gebeur al die slegte dinge met ons?’’ Ek hoor baie sulke vrae. Vir duisende jare het mense, slimmer as ek, met daardie vrae geworstel, en hulle het nog steeds nie die antwoorde ontdek nie. Ek probeer nie eens die vrae beantwoord nie. Ek maak wel een opmerking: ‘’As God ons eers geseën het nadat ons gelowig geword het - as Hy alle lyding, swaarkry en verwarring van Christene weggeneem het - sou dit nie 'n manier wees om mense in die geloof om te koop nie?’’

Dit is nie hoe God werk nie. Die Here wil hê dat ons uit liefde na Hom moet kom en omdat ons weet dat ons behoeftig is - so behoeftig dat net Hy die behoeftes vir ons kan vervul.

Die werklikheid is dat ons vanaf geboorte, totdat ons huis toe gaan om by Jesus te wees, soms sal swaarkry. Sommige het moeiliker take as ander, maar lyding bly steeds lyding.

Ek dink ook dat wanneer mense ons dophou as ons na God gaan om ons te help in ons swaarkry en hulle ons oorwinnings sien, dit 'n getuienis vir hulle is. Daardie getuienisse laat draai hulle miskien nie altyd na Christus nie, maar dit wys God se teenwoordigheid in ons lewens en maak hulle bewus van wat hulle mis.

Ja, ons sal ly. Die ander dag het ek aan iets gedink: Lyding lei tot danksegging. Wanneer ons lewens chaoties raak en ons nie weet wat om te doen nie, draai ons na die Here vir hulp, en Hy beantwoord ons gebede en stel ons vry. God praat met ons en troos ons. En die resultaat is dat ons dankbaar is.

Die tyd tussen lyding en danksegging is wanneer die duiwel ons gedagtes waarlik aanval. Hy kan begin deur te sê: ‘’As God jou regtig liefgehad het, sou jy dit nie hoef deur te gaan nie.’’ Dit is 'n subtiele manier om aan ons te sê dat dit nutteloos is om God te dien. Die waarheid is dat ons probleme sal hê as ons gelowiges is; ons sal probleme hê as ons ongelowiges is. Maar as gelowiges sal ons ook oorwinnings behaal. As gelowiges in Jesus Christus kan ons te midde van die storm vrede hê. Ons kan ons lewens geniet tydens die swaarkry, omdat ons regtig glo dat God namens ons werk om bevryding te bewerkstellig.

Die volgende aanval van Satan is om te fluister: ‘’Dit gaan nie beter word nie. Jy het God verniet gedien. Kyk, dit is wat gebeur as jy regtig hulp nodig het en op God vertrou. Hy gee nie om vir jou nie. As Hy waarlik omgee, waarom sou Hy dan toelaat dat jy ly? ”

Dit is hier waar ons ferm moet staan. Ons kan moed put uit die verhaal van Job. Min van ons het gely soos hy - hy het sy kinders, sy besittings en sy gesondheid verloor. Sy kritici het hom beskuldig van skynheiligheid en misleiding. Omdat ons weet hoe Satan werk, besef ons dat sy sogenaamde vriende, instrumente van Satan was. Ek is seker dat hulle nie besef het dat hulle deur die duiwel gebruik word om Job te ontmoedig nie. Maar net omdat hulle nie daarvan bewus was nie, beteken nie dat Satan hulle nie gebruik het nie.

Job, 'n godvresende man, het egter geweier om te luister. Hy het gesê: ‘’ God kan my maar tref, maar ek het geen ander hoop nie. Ek gaan my saak voor Hom stel.’’ (Job 13:15) Hy het geweier om Satan toe te laat om sy gedagtes aan te val en om hom God te laat bevraagteken. Hy het nie verstaan ​​wat God gedoen het nie. Daar is geen aanduiding dat Job dit ooit verstaan ​​het nie., maar een ding het hy geweet; dat God met hom was en dat hy nooit getwyfel het aan die liefde en teenwoordigheid van God nie.

Dit is die gesindheid wat ons wil hê - daardie rustige versekering van God se liefde wat sê: "Al het Hy my doodgemaak, sal ek steeds wag en op Hom vertrou." Ons hoef nie te verstaan ​​of te verduidelik nie. Ek het al hierdie stelling gehoor: ‘’Gehoorsaamheid is nodig; begrip is opsioneel.”

Laastens, as ons swaarkry, kan dit net 'n kragtige herinnering wees dat ons dieselfde paadjie stap as die grootste heiliges van God. Selfs in die tyd van Petrus het hulle gely. In hulle geval was dit Romeinse vervolging; in ons geval kan dit mense wees wat ons nie verstaan ​​nie, of familielede wat teen ons draai. Hoe dit ook al sy, lyding kan en behoort in danksegging te eindig.

My Meester en my God, vergewe my dat ek altyd die maklike lewe wil hê. Ek erken dat ek nie wil ly nie en ek hou nie daarvan as dinge verkeerd loop nie. Ek vra U nou om my te help om 'n goeie houding te hê en om U te vertrou dat iets goed daaruit sal kom. Ek bid dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Die Stryd in jou Gedagtes Dagstukkies

Hierdie dagstukkies sal jou toerus met inspirasies van hoop om woede, verwarring, veroordeling, vrees, twyfel, te oorwin ... noem maar op. Hierdie insigte sal jou help om die vyand se komplot te ontbloot om jou te verwar...

More

Ons wil graag Joyce Meyer Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://tv.joycemeyer.org/afrikaans/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid