Leesplan inligting

Andrew Murray OordenkingVoorbeeld

Andrew Murray Devotional

DAG 5 VAN 7

GEHOORSAAMHEID



Toe God vir Israel die wet gegee het, het Hy hulle ook 'n opdrag gegee: "... Luister na My en doen alles wat Ek julle beveel, dan sal julle my volk wees en Ek sal julle God wees" (Jeremia 11:4). Israel het egter geen krag gehad om die wet te onderhou nie. Dus het God vir hulle 'n nuwe verbond gegee, om sy volk in staat te stel om 'n lewe van gehoorsaamheid te lei. Ons lees: "... Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê ..." (Jeremia 31:33); "... Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien en nie van My af weg te draai nie" (Jeremia 32:40); "... Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef …" (Esegiël 36:27). Hierdie wonderlike beloftes het vir Israel die versekering gegee dat gehoorsaamheid hulle sal bly maak.



Kyk wat het die Here Jesus oor gehoorsaamheid te sê gehad: "Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet ..." (Johannes 14:21); “... As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon" (Johannes 14:23); "As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly ..." (Johannes 15:10). Hierdie woorde is 'n onuitputbare skat. Deur geloof kan ons Christus waarlik vertrou om ons in staat te stel om so 'n lewe van liefde en gehoorsaamheid te leef.



Geen vader kan sy kinders opvoed as hulle nie gehoorsaam is nie. Geen onderwyser kan 'n kind leer wat gereeld ongehoorsaam is nie. Geen generaal kan sy soldate na oorwinning lei sonder oombliklike gehoorsaamheid nie. Bid dat God hierdie lesse op jou hart sal graveer: die geloofslewe is 'n lewe van gehoorsaamheid. Net soos Christus 'n lewe van gehoorsaamheid aan die Vader gelei het, het ons ook gehoorsaamheid nodig om 'n lewe in die liefde van God te leef.



So baie mense dink egter: "Ek kan nie gehoorsaam wees nie; dit is onmoontlik." Ja, onmoontlik vir jou, maar nie vir God nie. Hy het belowe om te maak "dat julle volgens [sy] voorskrifte leef" (Esegiël 36:27). Bid en oordink hierdie woorde, dan sal die Heilige Gees jou geestesoë verhelder sodat jy die krag sal hê om God se wil te doen. Die een doel van jou verbondenheid aan die Vader en die Here Jesus Christus, is dit: 'n lewe van stille, doelgerigte en onwrikbare gehoorsaamheid.


Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Andrew Murray Devotional

Andrew Murray was 'n Suid-Afrikaanse predikant wat baie boeke en kort oordenkings geskryf het om die Woord van God aan landelike gemeentelede te versprei. Hierdie bemoedigende oordenkings, wat saamgestel is uit van Murra...

More

Baie dankie aan Whitaker House wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.whitakerhouse.com/product/andrew-murray-devotional/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid