Leesplan inligting

Breek Vry Van Afguns 'n 6-dag Leesplan deur Anna LightVoorbeeld

Break Free From Envy a Six-Day Reading Plan by Anna Light

DAG 1 VAN 6

Dag 1 Afguns is 'n Vernietiger 


Van alle emosies, het ek nie gedink ek sou afguns ervaar nie. Jaloesie? Ja. Vergelyking? Ai tog, elke dag. Hartseer? Kwaad? Angs? Selfs haat? Die oomblik toe ek na my gunsteling potgooi oor die onderwerp van afguns luister, besef ek, al daardie emosies is gevestig in die gees van afguns. 


Ek haat dit om negatiewe emosies te voel. Op die persoonlikheidstoets, die Enneagram, is ek 'n tipe “7”. As 'n “7”, sal ek alles moontlik doen om die pyn van negatiewe emosies te vermy. Om net te maak asof hulle nie bestaan nie, het nie meer vir my gewerk nie. Ek wou die bron van my emosies identifiseer sodat ek werklik vry kon wees, nie net maak asof ek vry is nie. Dit was die moeite werd om te leer hoe om lig op die negatiewe emosies te werp en dit vir God te gee sodat dit hulle krag kan verloor. Ek weet dit is die moeite werd, dit is hoekom ek so passievol is om ander te help om verstandelike, emosionele en geestelike vryheid te vind — omdat ek so geworstel het met die donkerte wat deel vorm van die gevangenskap om met daardie negatiewe emosies te lewe.


Daardie stryd het die verandering gebring waarin ek ware vrede ontdek het. Dit is iets wat ek wil hê almal moet ondervind, en namate ek nuwe vlakke van vrede ontdek, weet ek, dis iets wat ek nie vir myself kan hou nie.


Hierdie leesplan is my eie reis na vrede weg van afguns af, en die wonderlike oorvloedige lewe wat saam met daardie vrede kom.


Wat is afguns? Hoekom is dit belangrik dat ons verstaan hoe dit ons vandag affekteer? Vandag kweek die wêreld 'n gees van afguns. Nou, meer as ooit te vore, sien ons mense se lewens hoe hulle wil hê ons dit moet sien — en die vergelyking met ons eie lewe kan afguns binne ons wakker maak. Ons lewe in 'n kultuur van afguns en ons besef nie eens hoe hierdie gees ons verstandelike, emosionele en geestelike gesondheid beïnvloed nie.


Afguns kan beskryf word as die gevoel van ontevredenheid of gebelgde verlange wat gewek word deur iemand anders se besittings, eienskappe of geluk. Dit is die wortel van negatiewe emosies soos jaloesie en vergelyking, maar afguns gaan dieper. Jaloesie sê: “Ek wens ek het wat hulle het.” Afguns sê: “Hoekom het hulle wat ek nie het nie?” Afguns haat dit om ander mense gelukkig te sien en geniet dit heimlik om te sien as hulle misluk. Skrywer Dorothy Sayers, het gesê dat afguns is om na iemand anders met kwaadwilligheid te kyk. Dit is 'n vernietiger, die gelykmaker, dit kan nie verdra om te bewonder, respekteer of dankbaarheid te bewys nie. 


“Afguns vreet 'n mens op” sê die skrywer van Spreuke. Dit is gif vir die hart. Ons vlees sal altyd afguns kies as die geleentheid hom voordoen. Dit neem doelbewuste werk in ons gees om die versoeking van afguns te oorkom en om vry te wees, om werklik saam met ander bly te wees oor hul sukses en voorspoed.


Die skade van afguns werk op twee maniere. Jy wil regtig nie toelaat dat hierdie gees van afguns in jou moet sweer nie, maar wat van die skade wat afguns aanrig wanneer dit van iemand anders teen jou gerig word? Ek was al aan albei kante van die verhaal en soos jy deur hierdie leesplan vorder sal jy dalk sien hoe afguns jou hart en moontlik verhoudinge met ander beskadig. In albei gevalle is dit nodig dat ons geestelik hard werk om ons harte en denke vry te maak. 


My hoop is dat jy oor die volgende paar dae die kennis, gereedskap, Skrifgedeeltes en selfvertroue sal kry om jouself van afguns te bevry.  


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Break Free From Envy a Six-Day Reading Plan by Anna Light

Vandag, meer as ooit tevore, sien ons mense se lewens hoe hulle wil hê dit gesien moet word. Wanneer ons dit vergelyk met ons eie lewe, kan dit afguns veroorsaak. Jy wil nie toelaat dat hierdie gees in jou sweer nie, maa...

More

Baie dankie aan Anna Light (LiveLaughLight) wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.livelaughlight.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid