Leesplan inligting

Breek Vry Van Afguns 'n 6-dag Leesplan deur Anna LightVoorbeeld

Break Free From Envy a Six-Day Reading Plan by Anna Light

DAG 3 VAN 6

Dag 3 — Afguns van die Binne 


Was jy al ooit in 'n gesprek met 'n vriend of kennis en daar word na iemand se talent, voorspoed of prestasie verwys? Die antwoord daarop kan dikwels die persoon verkleineer wat bespreek word.


“Het jy gehoor dat ________ 'n boek geskryf het?”


"Ja, maar hulle het dit self gepubliseer.”


 


“Hulle kerk is besig om te groei.”


“Natuurlik sal dit as alles op vermaak gefokus is.”


 


“Sy het baie maer geword.” 


“Dit was 'n operasie om haar maag kleiner te maak.”


Hierdie tipe kommentaar is aaklig, maar ek sal die eerste een wees wat erken dat ek dit al gesê en gedink het. 


Ons veroordelende vernedering laat ons dalk beter voel op die oomblik wat ons gelyke grond probeer skep, maar wat dit eintlik wys is 'n swak selfbeeld en ongelukkigheid met onsself. 


Francis Bacon sê die volgende oor afguns: "Ons wat nie 'n ander se deugde kan behaal nie, vernietig hulle geluk.” Ons breek ander letterlik af met ons woorde of in ons gedagtes of deur ons houdings. Niks daarvan help ons egter om vry en in oorvloed te lewe nie.


Elke een van ons besit 'n unieke weerspieëling van God se heerlikheid. Té dikwels kan die wêreld (of ons gemeenskap, kennisse of vriendekring) nie die heerlikheid herken en vier nie. Afguns blus die heerlikheid. Ons breek ander se gawes af om te verhoed dat dit ons oorskadu. 


Die waarheid is dat daar altyd iemand gaan wees wat meer het, of meer bereik, of meer talent as jy in sekere areas het. Dit is hoe die wêreld werk. Niemand het alles nie en ware tevredenheid sal nooit aan hierdie kant van die ewigheid gevind word nie. Ons almal besit tog iets van waarde, iets wat iemand anders wil hê, al besef ons dit nie. 


Die doel is dan om nie 'n “veroordelaar” te word nie. Die volgende paragraaf van die klassieke roman Atlas Shrugged verduidelik dit so goed. “Weet jy wat die eienskap van 'n veroordelaar is? Dit is die gegriefdheid oor 'n ander se sukses. Daardie sensitiewe middelmatiges wat in vrees lewe dat iemand se werk meer waarde as hul eie het. Hulle staar jou tandeknersend aan vanuit hulle rotgate, terwyl hulle dink jy geniet dit dat jou helderheid 'n demper op hulle plaas.” 


Hierdie paragraaf het vir my uitgestaan want ek was 'n droewige “veroordelaar.” Ek het geglo dat ander my met opset verkleineer net om beter as ek te wees — deur net hulself te wees. Ek was afgunstig op hulle sukses, maar het nie die ambisie gehad om iets op my eie te bereik nie. Ek was afgunstig op sekere gawes en talente, maar het nie die insig gehad om my eie gawes en talente te herken nie. Die paragraaf gaan aan om te sê: “Hulle (die veroordelaars) drome van sukses is 'n wêreld waar almal anders minderwaardig in vergelyking met hulle is. Hulle besef nie dat daardie droom juis die bewys van middelmatigheid is nie.” 


Wil ons werklik in 'n wêreld lewe waar almal minderwaardig in vergelyking met ons is? Hoe vreeslik middelmatig sal dit dan nie wees nie? Dit is die sukses van ander wat die sukses binne ons moet wakker maak. Dit gaan nie gebeur as ons nie leer om die sukses van ander te erken, waardeer en vier nie; en besef dat die gawes en eienskappe en bekwaamhede wat God vir hulle gegee het, nie daar is om ons af te breek nie. 


Ons kan iets in iemand anders bewonder, maar as ons nie genoeg vrede het met wie ons self is om daardie bewondering te kan uitdruk nie, dan ontaard dit in 'n gif wat ons van binne af laat verrot. 


Die skade wat dit aan ons harte aanrig is vernietigend vir ons siele. Dit is die moeite werd om die wortel van hierdie gevoel uit te grawe, te vernietig en te aanskou hoe dit sy krag verloor.


Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Break Free From Envy a Six-Day Reading Plan by Anna Light

Vandag, meer as ooit tevore, sien ons mense se lewens hoe hulle wil hê dit gesien moet word. Wanneer ons dit vergelyk met ons eie lewe, kan dit afguns veroorsaak. Jy wil nie toelaat dat hierdie gees in jou sweer nie, maa...

More

Baie dankie aan Anna Light (LiveLaughLight) wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.livelaughlight.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid