Leesplan inligting

Breek Vry Van Afguns 'n 6-dag Leesplan deur Anna LightVoorbeeld

Break Free From Envy a Six-Day Reading Plan by Anna Light

DAG 6 VAN 6

Dag 6 — Dis nie Regverdig nie 


Die grootste struikelblok in ons soektog na vryheid is dat ons moontlik voel ons is nie in beheer van ons toekoms nie. Ons wil graag dink dat ons is, en die wêreld vertel ons dat ons kan wees, maar in werklikheid is daar eenvoudig net dinge wat ons nie kan laat gebeur of verhoed dat dit gebeur nie. Daardie gevoel van onreg is diep binne ons harte. Ons voel die steek van afguns en binne ons skree ons uit: "Dis so onregverdig.” 


Ons is reg. Een van die grootste lesse wat ek geleer het is dat die koninkryk van God nie belangstel in gelykheid nie. God is heeltemal daarteen om alles regverdig te maak. 


Ek het dit die eerste keer besef toe ek in Matteus 20 die gelykenis van die arbeiders in die wingerd gelees het. Die eienaar van die wingerd het ooreengekom met die arbeiders om hulle die gewone dagloon te betaal. Hy het gereeld deur die loop van die dag nog arbeiders gaan haal en elke keer die dagloon met hulle ooreengekom. Toe dit aand word en almal die gewone dagloon ontvang, het die wat eerste gehuur is verwag om meer te kry as die wat net drie ure gewerk het, maar hulle het ook net die gewone dagloon ontvang. 


Toe ek die gelykenis lees, het ook gedink dit sou darem regverdig gewees het om die eerstes meer te betaal. Wat my egter geraak het, was die eienaar se antwoord op hulle klagtes: "Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek vrygewig is?” 


God is nie regverdig nie. Hy deel nie gawes, talente en seëninge ewe veel uit nie. Ek weet nie hoekom nie, maar ek weet wel: God is nie volgens ons oordeel regverdig nie, maar Hy gee in oorvloed. 


In sy allesoorheersende liefde, het Hy Homself verneder, mens geword, en saam ons kom leef. Hy het al dieselfde versoekings as ons beleef, maar het nie gesondig nie. Toe het Hy die wrede straf van marteling en dood namens ons op Hom geneem. Hy is beslis nie regverdig nie. As Hy was, sou ons almal tot die dood veroordeel gewees het. 


Hy is nie regverdig nie en ek is so dankbaar daaroor.


Hy gee wel om oor die toestand van ons harte wanneer dit by afguns kom. Hy wil hê ons moet vry wees van die negatiewe emosies wat ons van sy oorvloed weerhou. 


C.S. Lewis het in sy bekende roman The Screwtape Letters geskryf: “{God} wil die mens by 'n denkwyse bring waar hy die beste katedraal in die wêreld ontwerp, en weet dit is die beste, en jubel daaroor, sonder dat hy meer (of minder) gelukkig sal wees as iemand anders dit sou gedoen het. {God} wil hê dat die mens uiteindelik vry sal wees van enige bevooroordeeldheid oor sy eie talente dat hy hom in sy eie talente kan verheug en net so openlik en dankbaar wees oor sy naaste se talente — of in die sonsopkoms, 'n olifant, of 'n waterval.” 


As weerspieëlings van God se heerlikheid, kan ons bly wees wanneer ons sy heerlikheid sien, in die natuur of in die talente en seëninge van ander. As alles vir Hom is, en alles van Hom af kom, kan ons, wanneer ons vlees wil vasklou aan die gevoel van afguns, ons siel leer om dankbaar te wees vir God se vrygewigheid — al is dit vir iemand anders. 


Ons moet 'n hart van bewondering en dankbaarheid kweek om werklik afguns te oorkom. Die beste manier om dit te doen is om die seën uit te spreek oor dit waarop jy afgunstig is. Praat hardop oor die unieke heerlikheid wat jy in iemand sien wat jou miskien afgunstig kan laat voel. Glo my, hulle het nodig om dit te hoor. Om lewe uit te spreek, verbreek die band wat afguns oor jou hart hou en verander dit in iets wat dit eintlik moet wees: dankbaarheid vir die vrygewigheid van God. Oefen deur bly te wees saam die wat bly is en om te bid vir iemand anders se sukses, bo jou eie. 


Dankbaarheid bevry jou van afguns. Ons kan ons gebroke harte na God toe bring wanneer ons besef hoe onregverdig God werklik is, en met 'n rustige asem fluister: “Dankie, Jesus.”


Vir meer hulpbronne oor hoe om los te breek volg @annalight09 op Instagram of besoek www.livelaughlight.com 


Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Break Free From Envy a Six-Day Reading Plan by Anna Light

Vandag, meer as ooit tevore, sien ons mense se lewens hoe hulle wil hê dit gesien moet word. Wanneer ons dit vergelyk met ons eie lewe, kan dit afguns veroorsaak. Jy wil nie toelaat dat hierdie gees in jou sweer nie, maa...

More

Baie dankie aan Anna Light (LiveLaughLight) wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.livelaughlight.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid