JAKOBUS 3:13-18

JAKOBUS 3:13-18 AFR83

Is daar 'n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid