Leesplan inligting

Nuwe Lewe: 10-dae Leesplan deur Doxa DeoVoorbeeld

Nuwe Lewe:  10-dae Leesplan deur Doxa Deo

DAG 7 VAN 10

My Nuwe Leefstyl


WELKOM IN JOU NUWE LEWE


Welkom aan ‘n totale nuwe manier van lewe, ‘n ware en ewige lewe, a beter lewe as wat jy ooit van gedroom het. Jesus Christus, die Gewer van Lewe, het bevestig:


Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Johannes 10:9-10


'n NUWE HART


Jy het sopas ‘n hartoorplanting beleef:


RADIKALE VERANDERING VAN BINNE NA BUITE 


Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 2 Korintiërs 5:17 


In die lig van jou ommekeer – ‘n nuwe skepping in Christus – wil ons jou aanmoedig om te lewe op ‘n manier wat God sal gelukkig maak. Onthou, Hy bemagtig jou.


Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie  sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Romeine 12: 1b-2


INNERLIKE REINHEID


Wat God aanbetref is jy vry van die mag van die sonde en die skuld van vorige oortredings. 


So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Psalms 103:12





‘n NUWE WAARDESTELSEL


God verlang dat jy met oorgawe sal lewe soos Hy beplan het.


Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus. Filippense 3:7


…ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. Filippense 3:13b-14 





JY LEEF NOU IN DIE LIG EN DUISTERNIS HET GEEN PLEK IN JOU LEWE NIE.


Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 1 Johannes 1:7


Lig het die vermoë om alle dinge te belig. Indien jy iets bely wat jy voorheen in die ‘duisternis’ gedoen het, bring dit jou terug in die lig van Sy liefde. Die bloed van Jesus breek die bande en krag van sonde en vernietig enige houvas wat dit op jou gehad het. 


God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. 1 Johannes 1:5b


En so kom die skeiding; die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. Maar wie volgens die waarheid wandel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is. Johannes 3:19-21

 


Geloof in die vrymakende krag van God se lig ontsluit die krag om enige vorm van duisternis in jou lewe te vernietig. Dit is eenvoudig: wanneer jy die waarheid van God in jou lewe uitspreek, vind jy dat die Woord van God – wat lig is – die duisternis verslaan.



Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: die wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. Romeine 5:17


Ons weet dat Christus, wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog steeds oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Romeine 6:9-13 (klem aangebring)

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Nuwe Lewe:  10-dae Leesplan deur Doxa Deo

Daar is 'n kwaliteitslewe wat vir ons beskikbaar is wanneer ons die Here werklik leer ken. As jy die basis van jou nuwe lewe wil verstaan, is hierdie leesplan vir jou bedoel.

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.doxadeo.org

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid