Leesplan inligting

Nuwe Jaar, Nuwe GenadeVoorbeeld

New Year, New Mercies

DAG 4 VAN 15

Die beste teologie sal nie die raaisels uit jou lewe verwyder nie. Rus is dus net te vind as jy vertrou op die Een wat regeer, alles is en vir wie daar geen raaisels is nie.



Haar stem het gebewe toe sy my daardie oggend vra om so gou as moontlik huis toe te kom. My vrou, Luella, is 'n baie emosioneel stabiele vrou. Sy word nie gou ontsteld nie. Daarom het ek geweet iets vreesliks het gebeur. Ek was ses ure se ry van die huis af en het saam met my assistent, senuweeagtig huis toe gery. 



Ons dogter, Nicole, het die vorige dag, soos sy al vantevore gedoen het, van die werk af huis toe geloop nadat sy laat gewerk het. 'n Dronk en ongelisensieërde bestuurder het beheer verloor, teen die sypaadjie opgery en haar teen 'n muur vasgestamp. Sy het ernstige beserings opgedoen, insluitend elf breuke in haar bekken en massiewe interne bloeding. Toe ek uiteindelik by die hospitaal opdaag en by Nicole in die waakeenheid instap, het ek gedoen wat enige vader met 'n druppel ouerskap-bloed in hom sou doen. Ek het ineengestort. Ek het op haar bed gaan sit en gesê: "Dis pappa, jy is nie alleen nie, en God is ook by jou." Ek was nie seker of sy my eens kon hoor nie. 



Dit was asof die hele wêreld donker geword het toe ek in daardie kamer ingestap het. My hart het uitgeroep: "Hoekom, hoekom, hoekom?" As ek kon kies, sou ek nie toelaat dat enige van my kinders deur so 'n ervaring gaan nie. Indien ek een van my kinders moes kies, sou ek nie Nicole op daardie stadium in haar lewe gekies het nie; sy het so broos gelyk. Binne 'n oomblik was ons in 'n lewensveranderde raaisel en ons teologiese redenasies kon dit nie verwyder nie. Nicole het uiteindelik goed herstel, maar ons moes deur vier jaar se swaarkry worstel. 



Ek het aan die gedagte vasgehou dat ons lewens nie buite beheer was nie. Ons is oor en oor vertroos met die wete dat Nicole se ongeluk nie vir God 'n verrassing was nie en dat Hy ook nie daarvoor bang was nie. Jy sien, daar is geen raaisels vir God nie. Hy word nie onkant gevang nie. Hy wonder nooit hoe Hy die onverwagse dinge moet hanteer nie. Ek hou van die woorde in Daniël 2:22: "... wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig." 



God is by jou in jou donker tye, want Hy sal jou nooit verlaat nie. Jou duisternis is nie vir Hom donker nie. Jou raaisels is nie vir Hom 'n geheim nie. Jou verrassings, verras Hom nie. Hy verstaan al die dinge wat jou die meeste verwar. Hy is ten volle in beheer van alles wat vir jou en my 'n raaisel is. 



Onthou vandag dat daar Een is wat na jou duisternis kyk en lig sien. Onthou ook dat Hy uiteindelik die definisie van alles wat wys, goed, waar, liefdevol en getrou is. Hy hou beide vir jou én jou raaisels in sy genadige hande, en daarom kan jy rus vind as die duisternis by jou voordeur inkom. 


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

New Year, New Mercies

Oor die loop van die volgende 15 dae sal Paul David Tripp jou herinner aan God se genade teenoor jou – waarhede wat nooit oud word nie. Wanneer "gedragsverandering" of 'n goeie spreuk nie genoeg is om jou nuut te maak ni...

More

Baie dankie aan Crossway wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.crossway.org/books/new-morning-mercies-hcj/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid