Leesplan inligting

Romantiese Afsprake In Die Moderne EraVoorbeeld

Dating In The Modern Age

DAG 7 VAN 7

 


Beginsels van Romantiese Afsprake (Deel 2)


In gister se oordenking het ons met die beginsel van selfstandigheid afgesluit — met betrekking tot afsprake met 'n ander gelowige. Wanneer jy daardie beginsel volg, sal julle onder dieselfde "reëls" funksioneer terwyl julle God navolg. Dit lei na die volgende beginsel: seksuele reinheid.


Seksuele reinheid is 'n beginsel wat deesdae nie meer gevolg word nie. Dit is egter baie belangrik, want seks gaan oor meer as net fisiese kontak. 'n Baie dieper emosionele verbintenis vorm wanneer twee mense bymekaar kom. Jou man of vrou is veronderstel om jou beste vriend te wees, maar as jy seks te gou deel maak van daardie verhouding, sal jou oordeel of daardie persoon ook 'n goeie vriend is of nie, vertroebel wees. Jy bly dan langer in 'n verhouding waarin jy nie betrokke behoort te wees nie en dit maak die verbrokkeling daarvan soveel meer pynlik.


Dit lei na die volgende beginsel: behandel die persoon soos 'n kind van God. Wie jy is, sal bepaal wat jy gaan doen. As jy dus op 'n afspraak is, moet julle albei die persoon oorkant julle as 'n aangenome kind van God behandel. Hoe behandel jy die Koning van die hemel se kind? Met hoflikheid, beleefdheid, respek en vriendelikheid. Jou totale invloed op daardie persoon moet wees om hom of haar 'n beter persoon te maak. Die uitkoms van jou teenwoordigheid in daardie persoon se lewe moet wees om hom of haar aan te moedig om God meer te vertrou en lief te hê.


Jou doel moet wees om te seën en nie bloot om te beïndruk nie. Gaan eet saam, leer ken daardie persoon en doen dinge waarvan julle hou. Jy probeer nie om daardie persoon te "vang" nie, maar net om te evalueer of julle bymekaar sal pas. Luister aandagtig, vra goeie vrae en deel jou gedagtes openhartig. Komplimenteer. Bemoedig. Gee in vriendelikheid jou eerlike mening. Moenie jou bekommer om die ander persoon te beïndruk nie. Afsprake is daar om te evalueer en te seën. Dis al.


Ons kom nou by die volgende beginsel: betrek mense wat jy vertrou in gesprekke oor jou afsprake. Romantiese gevoelens kan 'n mens bedwelm en verwar. Laat toe dat die regte mense se insette deel vorm van die proses, sodat jy nie te veel tyd met die verkeerde persoon deurbring nie. Kies vriende wat vir God lief is, vir jou lief is en wat nie bang is om jou presies te vertel wat hul dink nie. Vra hulle om vroegtydig en gereeld deel van die proses te wees. Omring jouself met godvresende raadgewers.


Die laaste beginsel is om geduldig te wees. Laat die verhouding teen sy eie pas ontwikkel. Moenie haastig wees om 'n ring aan jou vinger te sien nie, maar wag en bestudeer die ander persoon se karakter. Sommige mense is sommer van die staanspoor af nie reg vir afsprake nie. Ander is dalk aan die begin baie vriendelik, maar met die verloop van tyd begin jy dele van hul karakter bevraagteken. Kyk die kat lank genoeg uit die boom sodat jy eers kan sien hoe hulle reageer as hulle nie hul sin kry nie. Gee jouself kans om hulle op alle vlakke en seisoene te leer ken.


Sal jy 'n persoon kry wat goed by jou sal pas? Ek weet nie. Ek weet wel dat God Homself aan jou gee om op staat te maak en die wysheid te gee vir jou lewensreis. Ek bid dat jou hoop op die Koning gevestig sal wees en nie op 'n prins of prinses nie. Ek bid dat jy saam met Hom sal wandel, in die geloof dat Hy vir jou behoeftes sal sorg en jou na die regte persoon toe sal lei as dit sy wil is en op sy bestemde tyd.


Reageer


Hoekom is seksuele reinheid belangrik gedurende die proses van romantiese afsprake? Hoe kan weerhouding voor die huwelik help bou aan die verhouding wat tydens die huwelik plaasvind?


Wat sê jou optrede teenoor die ander persoon oor jou karakter? Hoekom is dit belangrik om die ander persoon as 'n geliefde kind van God te hanteer?


Wie kan die waarheid met jou praat in jou seisoen van afsprake? Hoe ontvanklik is jy vir daardie persoon se raad en hulp?


Wanneer was dit vir jou moeilik om geduldig in verhoudings te wees? Watter dinge omtrent iemand anders kan jy net oor 'n tydperk van vele seisoene leer?


Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Dating In The Modern Age

Romantiese afsprake . . . wek hierdie frase angstigheid of opwinding in jou hart? Met al die tegnologiese maniere waarop ons deesdae met mekaar kan kontak maak, wil dit voorkom of afsprake meer ingewikkeld, verwarrend en...

More

Baie dankie aan Ben Stuart wat hierdie leesplan verskaf het.Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.thatrelationshipbook.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid