Leesplan inligting

Romantiese Afsprake In Die Moderne EraVoorbeeld

Dating In The Modern Age

DAG 5 VAN 7

 


Hoe om op Romantiese Afsprake te Gaan


Etlike jare gelede, terwyl ek die Grand Canyon besoek het, het ek ver gestap om 'n waterval te sien. Op die paadjie langs die Coloradorivier het ek 'n paartjie raakgeloop wat na dieselfde waterval op pad was. Hulle het my genooi om saam met hulle te loop, maar ek het gedink hulle sou na my sin te stadig vorder. Terwyl ek vinnig vooruit geloop het, het ek gewonder of ek al verby die waterval was. Paniekerig het ek teen 'n krans opgeklim. 'n Bokkie het verskrik weggespring en het veroorsaak dat ek agteroor in die rotsagtige kloof val. Terwyl ek daar lê, hoor ek die geluid van vallende water. Ek volg die geluid en kom op die oulike paartjie af wat ek voorheen raakgeloop het. Hulle was besig om piekniek te hou aan die voet van die waterval.


Ek vertel hierdie storie om die volgende te illustreer: ek en die paartjie het almal by ons bestemming uitgekom, maar ek het 'n minder geskikte en onaangename roete gevolg om daar te kom. Dis 'n goeie beeld van romantiese afsprake. Mense vind daagliks liefde. Vir sommige is die reis partykeer langer — baie mense trou nie voor hulle 30 of ouer is nie. In die vorige geslagte was die pad duideliker, maar nou struikel ons voort deur die wildernis, met geen toerusting of gids nie, en slegs 'n halwe energiestafie. Ons kry dit met groot moeite en teleurstellings reg.


Die reëls het meer dubbelsinnig en onseker geword. Afsprake behoort met woorde soos pret, opwinding en bemoediging geassosieer te word. Maar te dikwels hoor ek die woorde treurig, uitputtend en spanningsvol. Ek is lief vir my jong, enkellopende vriende en ek wil iets beters vir hulle hê. 'n Beter reis is wel moontlik! Die pad van liefde kan pynlik wees, maar daar is 'n manier om onnodige pyn te vermy.


Baie van die benoudheid wat mense deesdae ervaar, is te wyte aan die gebrek aan 'n doelbewuste proses om afsprake te beplan. Let wel, ek sê proses — die woord beteken daar is beweging. Dit behoort 'n reeks aksies te wees wat na 'n beplande einde lei. Dis nie 'n posisie waarin jy bly sit sonder enige vooruitgang nie. Dit behoort 'n proses van evaluasie te wees, wat 'n eindpunt het — 'n bestemming wat die huwelik genoem word.


Hierdie proses word gekenmerk deur tydlose beginsels wat in die karakter en liefde van God gewortel is. Let op dat ek hulle beginsels noem, en nie stappe nie. Stappe sou makliker gewees het — volg net die instruksies en jy sal gelukkig getroud wees! Afsprake werk nie so nie, want verhoudings is té veranderlik. Dis meer soos om oor die oseaan te seil as om 'n produk aanmekaar te sit. Stappe sal nie werk as jy in 'n boot oor die oseaan vaar nie. Jy kan nie spesifieke instruksies kry nie, want die omgewing beweeg aanhoudend. Wie weet watter storms daar wag?


Beginsels kan egter jou lewe op die see red. As jy weet hoe om koers te hou deur na die sterre te kyk, of hoe om 'n kompas te gebruik, met 'n kaart en 'n sekstant, sal jy dit maak. Op dieselfde manier kan jou beginsels in verband met afsprake jou help om enige uitdaging wat mag voorkom, te hanteer. Daardie inligting sal jou vanuit die see van enkellopers tot by die hawe van die huwelik neem.


As jy die beginsels wil volg waaroor ek in die volgende twee oordenkings gaan gesels, moet jou hart en kop op die regte plek wees. Dit sal werk kos. Hierdie werk sal egter 'n avontuur word (alhoewel dit risiko's insluit), wat alles die moeite werd sal maak. Hierdie riglyne sal jou veilig deur die stormagtige see van romantiese afsprake lei — as jy hulle sal toepas.


Reageer


Watter woorde assosieer jy met romantiese afsprake? Wat is jou verwagtinge oor hoe om met iemand uit te gaan? Wat is jou ingesteldheid?


Wat beteken dit dat romantiese afsprake 'n proses is? Watter aksies is betrokke as jy in hierdie proses is? Wat is jou bestemming aan die einde van die reis? As jy nie nou in trou belangstel nie, wat is jou opsies ten opsigte van gesonde verhoudings?


Watter van jou verhoudingsvaardighede het nog skaafwerk nodig? Hoe luister jy, hou jy dop en evalueer jy mense wat jy ontmoet? Hoe kan hierdie proses 'n avontuur wees?


Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Dating In The Modern Age

Romantiese afsprake . . . wek hierdie frase angstigheid of opwinding in jou hart? Met al die tegnologiese maniere waarop ons deesdae met mekaar kan kontak maak, wil dit voorkom of afsprake meer ingewikkeld, verwarrend en...

More

Baie dankie aan Ben Stuart wat hierdie leesplan verskaf het.Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.thatrelationshipbook.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid