Leesplan inligting

Verander jou kop, verander jou leweVoorbeeld

Verander jou kop, verander jou lewe

DAG 6 VAN 7

Nuwe woorde skuif berge


Taal is nooit neutraal nie. Woorde het betekenis. Bepaalde betekenisse word in jou kop gestoor en van daar af oor jou lippe die wêreld vol uitgesaai. Dit word ook nie maar net passief daar geberg nie – jou negatief-gelaaide woordeskat kan ’n destruktiewe effek op jou brein hê. Sulke woorde rig alreeds daar hulle eerste sarsie skade aan. Jy is altyd die eerste slagoffer van jou eie skerp taal, nie ander mense nie. Jy drink elke keer die eerste slukkie taal-gif wanneer jou taalkonkoksies negatief, afbrekend en vreesgedrewe is. Daarom moet jy dringend let op jou woorde. Jy kan kies of jou woorde en uitdrukkings ’n mes gaan wees wat jou eie lewe en dié van ander vernietig, of salf wat genesing bring. 


Woorde is magtig. Dit is aktiewe rolspelers in die verandering van jou binnekant en buitekant, asook dié van ander. Dit is nie sonder rede dat Paulus in Efesiërs 4:25 skryf dat ons die waarheid onder mekaar moet praat nie. En dat hy in vers 29 waarsku teen vuil taal uit ons mond en byvoeg dat ons dit moet inruil vir woorde wat goed en opbouend is nie. In Kolossense 3:17 leer Paulus ons ’n verdere taalles as hy skryf dat ons alles wat ons sê of doen, moet sê en doen in die Naam van Jesus en dat ons deur Hom woordeliks dank moet bring aan die Vader. 


Verander jou “gevaarlike” woordeskat. Verras jouself ’n slag deur anders te dink en praat oor iemand met wie jy nie goed oor die weg kom nie. Hoe sal dit voel as jy skielik die teenoorgestelde woordeskat gebruik om na hom of haar te verwys? Sê nou maar jy hou aan met kyk totdat jy iets opbouends in hom of haar raaksien en sê dit dan hardop vir jouself. Dit voel vreemd, nè! Maar moenie handdoek ingooi nie. Jy hoef nie dadelik anders te voel nie. Onthou, jou gevoelens volg jou wilsbesluit. Praat die regte taal ten spyte van jou gevoelens. Dit gaan nie oor eers reg voel voordat jy reg praat nie, maar oor reg praat om reg te voel. Voel egter die aangename verandering in jouself wat jou opbouende taalgebruik tot gevolg het. Jou frustrasie maak plek vir vrede terwyl jy op nuwe maniere praat oor mense van wie jy nie hou nie. As jy sulke oefeninge oor en oor doen, gaan jou hart binnekort agterna klop!  

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Verander jou kop, verander jou lewe

Hierdie leesplan, gebaseer op Stephan Joubert se boek VERANDER JOU KOP, VERANDER JOU LEWE, wys dat jou brein die vermoë het om jou lewe te verander wanneer jy jou denke in ’n nuwe rigting stuur. Lesers sal die skakel ont...

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid