Leesplan inligting

Om God Se Hart Te KenVoorbeeld

Knowing God’s Heart

DAG 1 VAN 4

God Is Goed



Goed is 'n woord wat ons gebruik om te beskryf hoe ons dag verloop, hoe ons voel, of hoe 'n spesifieke maaltyd gesmaak het. Tog is dit ook 'n woord wat ons gebruik om ons magtige, majestueuse en wonderbaarlike God te beskryf. Klink vreemd, nie waar nie? Om 'n woord te gebruik om God te beskryf wat ons ook sou gebruik om te beskryf hoe ons oor ons middagete gevoel het. 



Ons kan bewyse van God se goedheid oral, elke dag en in elke situasie sien. Al is ons nie bewus van sy goedheid nie, is Hy steeds goed. Alhoewel God goeie dinge doen, is sy goedheid meer as net dit wat Hy doen. Dit is wie Hy is. 



Psalm 25:8 sê:“Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan." Die Hebreeuse woord vir goed in hierdie vers is towb, en dit beteken "goed, aangenaam, welgevallig, uitstekend en as waardevol bepaal.”  God is al hierdie beskrywings!



Wanneer ons daardie bevordering by die werk kry, skree ons: “God is goed!” As ons lewens sonder probleme is, sê ons: “God is goed!” Wanneer iemand genees is, roep ons uit: "God is goed!" Maar wat sê ons in moeilike tye? Of wanneer daar uitdagings op ons pad kom? Of wanneer die lewe moeitevol geword het?



Wanneer ons geliefde sterwe ...  

Wanneer ons werk ons op verpligte verlof sit …

Wanneer die kankerverslag “kwaadaardig” sê …

Wanneer ons huweliksmaat ons verraai …

Wanneer ons kind aanhou rebelleer ...



Is God nog steeds goed in daardie omstandighede? Is sy weë nog uitstekend? Is Hy nog vir ons meer waardevol as enigiets anders?



Die waarheid is dat God se goedheid ons nie verlaat wanneer ons omstandighede verander nie. Hy is altyd dieselfde. Nie net dit nie, maar God is werklik te alle tye goed. Hy kan nie anders as om goed te wees nie. Dit is wie Hy is. Hy is die definisie van goedheid.



Wanneer iets goeds gebeur, is God goed. Wanneer iets slegs gebeur, dan is Hy nog altyd goed. Hoe moeilik dit ook al is om te sê, dit is waar. Selfs, wanneer en veral as ... God is nog steeds goed.  



Dit is baie soos die son op 'n bewolkte dag. Ons sê dat ons dit nie kan sien nie, want dit is agter die wolke. Dit is egter nog steeds daar. Dieselfde geld vir die seer en teleurstellings in ons lewens. Hulle kan ons verhinder om God se goedheid te sien, maar wees verseker dat dit nog altyd daar is, want dit is wie Hy is. 



Dit is gewoonlik in ons teleurstellings en probleme wanneer ons die goedheid van God bevraagteken. Deur egter van God weg te draai te midde van ons pyn, verwyder ons die enigste waardevolle ding uit ons hartseer omstandighede — vir God. Dus, wanneer ons in die versoeking kom om te twyfel en toe te laat dat ons huidige situasie bepaal wat ons glo, laat ons eerder God se Woord aangryp om onsself aan hierdie waarheid te herinner. 



Hy is 'n goeie God. 


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Knowing God’s Heart

Ons kan maklik vasgevang word om dinge oor God te glo wat nie waar is nie. Soms sien ons dinge op sosiale media of die nuus, wat maak dat ons Hom bevraagteken. Wat is dus waar oor God? Weet Hy wat Hy doen? Is Hy regtig l...

More

Hierdie oorspronklike Leesplan is geskep en verskaf deur YouVersion.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid