Leesplan inligting

Lewe Veranderd: Gesprekke met GodVoorbeeld

Living Changed: Conversations With God

DAG 1 VAN 7

Hoekom Praat Met God?



Het jy al ooit aan gebed gedink as iets wat jy op 'n lysie kan afmerk om as 'n goeie Christen beskou te word? Of het jy dit as te veel druk beskou om die regte ding op die regte manier te sê? Dalk was dit vir jou moeilik om in die krag van gebed te glo, omdat jy al te veel kere teleurgesteld was. Jy is nie die enigste een wat al ooit enige van hierdie gevoelens gehad het nie.



Dis egter nie hoe God bedoel het dat ons gebed moet beskou nie. Hy het dit geskep as 'n manier om ons te ken en ons vir Hom. Die doel van gebed is nie sodat dit mag lyk of ons alles onder beheer het, as ons sê: "Ek sal vir jou bid" nie. Dis ook nie bedoel om 'n saketransaksie of 'n Amazon wenslys te wees nie. Die doel van gebed is om in 'n nouer verhouding met God te kom.



God wil hê ons moet Hom sien as die vriend wat altyd beskikbaar en opgewonde is om na ons te luister. Hy sal nooit vir jou sê dat jy nou te veel met Hom deel nie. Sy aandag sal nooit afgelei word nie, en Hy sal nooit te moeg wees om jou sy volle aandag te gee nie. As daar lang periodes van geen kommunikasie van jou kant af was, is Hy altyd gereed om die gesprek voort te sit waar jy opgehou het, sonder enige kwade gevoelens. 



Dink daaraan toe jy 'n kind was en jou ouers jou gevra het hoe jou dag was. Hulle wou nie net hoor dat dit goed was nie. Hulle wou weet wat jou opgewonde gemaak het, wat jou bekommer het en wat jy oor alles gedink het. God wil selfs nog meer as dit alles hoor. 



Jesus het gesterf sodat ons met God kan praat soos met 'n vriend. In die Ou Testament moes God se mense reinigingsoffers aanbied om in sy heilige teenwoordigheid te kon kom, maar nou kan ons persoonlik met God praat, sonder al die formaliteite. Ons moet met eerbied en respek met Hom praat, maar dis in orde om meer informeel te wees, soos met jou beste vriend. Die volgende keer wanneer iets gebeur wat jou hartseer, woedend, oorweldig, opgewonde of passievol laat voel, word rustig en vertel eers vir God daarvan voordat jy 'n vriend bel.



Doen: Stel 'n tydhouer vir vyf minute en deel iets met God rakende jou dag. Dit kan iets goed of sleg wees. Dit kan in die middel van die dag wees, op pad huis toe of net voor jy bed toe gaan. Jy kan dit dink, hardop sê, of neerskryf. Maak net tyd om iets met Hom te deel wat werklik gebeur het.


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: Conversations With God

Baie mense wil 'n nouer verhouding met God hê, maar weet nie hoe om dit aan te pak nie. Wanneer ander mense gebed voorstel, voel dit te formeel, intimiderend of ondoeltreffend. Hierdie leesplan sal lesers help om God bet...

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.changedokc.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid