Leesplan inligting

40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 4 VAN 40

Vernuwe Jou Denke



Weeklikse Oorsig:



Hoekom behoort ons tyd alleen met God deur te bring? Hoekom is dit so belangrik om God op 'n afgesonderde plek te ontmoet? Voordat ons nie 'n begrip van die onmeetbare waarde en beskikbaarheid van 'n ontmoeting met God het nie, sal ons nooit op 'n gereelde basis hierdie fundamentele, noodsaaklike praktyk beoefen nie. Soos ons gaandeweg ontdek dat dit God se begeerte is om ons te ontmoet sodat ons die diepte van sy liefde kan ervaar, bid ek dat jou lewe gekenmerk sal word deur 'n nuwe genade om die lewende God op 'n gereelde basis en op 'n kragtige manier te ontmoet



Skrifgedeelte:Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig” Filippense 4:8.



Oordenking:



Jou denke is die slagveld waarop die oorlog vir jou emosies, doel, doeltreffendheid en volheid van die lewe gewen of verloor word. Dis jou denke wat daagliks deur die vyand aangeval word. Dis jou denke wat die wêreld tot sy eie voordeel probeer beïnvloed. Dis ook jou denke wat die Here graag daagliks wil vernuwe sodat jy in 'n oorvloedige verhouding met Hom kan leef. Indien jou denke dus waarlik die slagveld is, hoe kan jy as wenner uit die stryd tree? Hoe behaal jy die oorwinning oor die Satan en sy planne?



Die Skrif sê duidelik dat jou denke daagliks vernuwe moet word deur die krag van die Woord van God om sodoende die oorwinning te behaal. Romeine 12:2 stel dit so: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” God plaas gelykvormigheid aan die wêreld en die vernuwing van jou denke lynreg teenoor mekaar. Daar is nie 'n goue middeweg nie. Jou denke word óf gewen vir die koninkryk van God, óf behoort aan die wêreld. Jy dink óf aangename gedagtes waarin God behae skep óf nie. Jy ervaar óf die oorvloedige lewe wat Jesus aan jou beskikbaar gestel het óf nie.



Vir 'n lang tyd het die idee van die vernuwing van my gedagtes net te uitputtend geklink. Eerlikwaar, dit was vir my baie vervelig om die Bybel te lees. Ek het egter uitgevind dat die Bybel net so lewegewend vir my is as wat ek bereid is om daardeur herskep te word. Voordat ons nie werklik gaan sit, ons harte oopmaak en toelaat dat ons deur die Woord van God herskep word nie, sal ons nooit die lewe vind wat uit oorwinning in ons denke voortspruit nie. Die gedagtes wat by jou spook — die gedagtes wat jou beroof van vryheid, vrede en vreugde — sal jou nooit verlaat voordat jy nie jou denke toelaat om deur die Woord van God vernuwe te word nie. 



Indien ons die oorlog wat rondom ons woed ignoreer, is die geveg verlore. Ons vyand wil graag hê dat ons onbesorgd oor sy aanslae moet wees. Hy wil hê ons moet glo dat sondige gedagtes, verkeerde optrede en leuens net alles 'n deel van die lewe hier op aarde is. Hy weet dat hy geen krag teen die vermoë van die Woord van God het om ons te verander nie. 



Hoe vernuwe jy nou eintlik jou denke? Filippense 4:8 sê: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” Rig jou gedagtes op die dinge van God. Begin elke dag deur aan die wonderlike karakter van die lewende God en jou nuwe identiteit in Christus te dink. Indien jy die Woord van God toelaat om die fondament van jou denkwêreld te wees, deur die eerste oomblikke van die dag oor die Skrif te mediteer, sal die stryd om jou denke vir die koninkryk gewen word. Die negatiewe gedagtes en onsekerhede wat jy elke dag in die gesig staar, sal van jou af wegvlug in die teenwoordigheid van die wonderlike lig van God se waarheid. Dis vandag en elke dag God se belofte vir jou. 



Ruim vandag tyd in om oor die Skrif te mediteer en ervaar die herskeppende krag van genade oor jou denke terwyl jy die begeleide gebed lees.



Begeleide Gebed:



1. Mediteer oor 2 Korintiërs 5:17.



“Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” 2 Korintiërs 5:17.



Herhaal dit oor en oor, selfs hardop. Plaas jouself in die Skrif. Verklaar dit oor jouself: “Ek is 'n nuwe mens in Christus. Die ou sondige ek is verby en die nuwe ek in Christus is hier.” Laat toe dat die waarheid van die Skrif die manier beïnvloed waarop jy jouself en jou wêreld sien. 



2. Op watter manier stem jou lewe of denke nie ooreen met die waarheid van 2 Korintiërs 5:17 nie? Op watter maniere sien jy jouself as iets anders as 'n nuwe skepping? Op watter maniere identifiseer jy jouself met jou sonde, eerder as die vryheid wat jy deur die bloed van Jesus verkry het? 



3. Skryf neer wat God aan jou openbaar. Maak hierdie terreine in jou lewe onderhewig aan die waarheid van die Skrif. Vra die Heilige Gees om jou te help om jouself te sien soos Hy jou sien. Laat toe dat jou perspektiewe deur die Here herskep word sodat jy jouself kan sien soos Hy jou sien. 



Die Woord van God is betroubaarder as dit wat jy voel. Indien jy jou lewe in pas bring met die waarheid van die Skrif, sal dit begin om jou emosies kragtig te beïnvloed. Emosies is die uitvloeisel van jou denke. Ons voel geliefd omdat ons glo dat iemand ons liefhet. Ons is vreugdevol omdat ons glo dat daar rede is om bly te wees. Netso word ons emosies sterk beïnvloed as ons 'n leuen van die vyand glo. Wanneer ons glo dat ons nooit oorwinning oor 'n sonde sal behaal nie, dat niemand ons liefhet nie, of dat ons nie goed genoeg is nie, begin ons lewens die vrugte van daardie leuens te dra. Daar is egter groot krag wanneer ons onsself in die Woord van God vestig. Wanneer ons die Woord van God as ons waarheid vestig, ervaar ons ongekende vreugde en vrede. Mag jou dag gekenmerk word deur 'n nuwe vryheid as gevolg van die vernuwing van jou denke. 



Verdere Leeswerk: Kolossense 3:1-17


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 d...

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid