Leesplan inligting

40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 1 VAN 40

Begin Jou Dag met die Beste Ding



Weeklikse oorsig



Hoekom behoort ons tyd alleen met God deur te bring? Hoekom is dit so belangrik om God op 'n afgesonderde plek te ontmoet? Voordat ons nie 'n begrip van die onmeetbare waarde en beskikbaarheid van 'n ontmoeting met God het nie, sal ons nooit op 'n gereelde basis hierdie fundamentele, noodsaaklike praktyk beoefen nie. Soos ons gaandeweg ontdek dat dit God se begeerte is om ons te ontmoet sodat ons die diepte van sy liefde kan ervaar, bid ek dat jou lewe gekenmerk sal word deur 'n nuwe genade om die lewende God op 'n gereelde basis, op 'n kragtige manier te ontmoet. 



Skrifgedeelte: “Hoe groot is u goedheid: dit is altyd daar vir dié wat U dien, U bewys dit voor die oë van die mense aan dié wat by U skuil” Psalm 31:20.



Oordenking:



Ons as Christene weet dat ons veronderstel is om ons dag met God te begin. As jy al vir 'n lang tyd 'n gelowige is, is jy heel waarskynlik al deur 'n prediker, onderwyser, mentor of vriend aangemoedig om elke oggend tyd in God se teenwoordigheid deur te bring. Baie van ons het egter nog nooit gehoor hoekom God wil hê ons moet soggens tyd met hom deurbring nie. Ons het nog nooit alles ontdek wat God graag in die eerste oomblikke van ons dag wil doen nie. Ons gaan net gebuk onder die las van die wete dat ons tyd alleen met God moet deurbring. Hierdie week gaan ons gesels hoekom dit so noodsaaklik is. Hoekom behoort ons elke oggend tyd met God deur te bring?



God wil graag hê dat jou dag op die absoluut beste noot begin en dit beteken om in sy teenwoordigheid te wees. Indien God se teenwoordigheid alreeds die beste deel van jou dag is, weet jy watter invloed dit al op jou gehad het. Ek is bly dat jy die "First15" hulpbron gebruik as deel van jou ontmoeting met Hom en jy is uiters welkom hier. Die meeste van ons, skat ek, moet nog ten volle ontdek hoe wonderlik dit is om tyd met God deur te bring. Dink 'n oomblik na oor jou lewe. Hoe gereeld bring jy tyd met God deur? Dit is nie 'n toets waar die mense met die meeste tyd in God se teenwoordigheid 'n goue sterretjie kry nie. Wees eerlik met jouself. Dis tot jou voordeel. Dink 'n oomblik na oor hoeveel tyd jy in werklikheid inruim om God te ontmoet.



Jy weet, ons sal slegs op 'n gereelde basis iets doen wat ons wíl doen, spesifiek wat ons vrye tyd betref. Ons moet dalk gaan werk. Ons voel dalk verantwoordelik teenoor mense of praktyke. Wat ons persoonlike tyd betref, sal ons begeertes altyd eerste kom bo ons verpligtinge. Vir baie jare het ek uit verpligting probeer om tyd met God deur te bring. Die gevolg was dat ek dit skaars reggekry het. Dit was eers nadat ek die wonderbaarlike liefde en vrede in God se teenwoordigheid ervaar het, dat ek daarna begin verlang het om tyd met Hom deur te bring. Toe ek eers die bevrediging van sy teenwoordigheid ervaar het, het ek begin smag na tyd met Hom, uit 'n behoefte om my verlange na liefde, doelgerigtheid en 'n verhouding met Hom te bevredig. Ek het ontdek dat my tyd met God absoluut die beste deel van my dag was. 



Psalm 16:11 sê: “U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.” Verder sê Psalm 84:2-3 (AFR53) die volgende: “Hoe lieflik is u woninge, o Here van die leërskare! My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die Here; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God.” Ek kan getuig dat 'n voortdurende openbaring van die liefde van God my lewe heeltemal verander het. Die dae wat ek nie in sy teenwoordigheid begin het nie, was definitief my slegste dae. Sy teenwoordigheid gee my hernude passie, liefde, doelgerigtheid en 'n gevoel dat ek hier hoort. Niks anders kan dit regkry nie.



Wil jy God beter leer ken, ongeag waar jy vandag in jou verhouding met Hom staan? Wil jy 'n dieper openbaring van sy goedheid en liefde hê? Ruim tyd in om jou hart vir God oop te maak en laat toe dat Hy jou ewige behoefte bevredig om gemeenskap met die Vader te hê. Laat toe dat Hy jou met sy teenwoordigheid vul sodat jy die werklikheid van sy liefde kan ervaar. Laat 'n ware, herskeppende ontmoeting met die lewende God jou met 'n groter begeerte vul om deurgaans elke oggend jou eerste oomblikke met Hom deur te bring. 



Mag jy vandag “oorvloedige blydskap” (Psalm 16:11) ervaar wanneer jy God in die begeleide gebed ontmoet. 



Begeleide gebed:



1. Ruim tyd in om God se teenwoordigheid te ervaar. Dink na oor die waarheid van die Skrifgedeelte en laat toe dat God die werklikheid van sy nabyheid aan jou openbaar. 



“Hoe groot is u goedheid: dit is altyd daar vir dié wat U dien ...” Psalm 31:20.



“U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is” Psalm 16:11.



“Hoe lieflik is u woninge, o Here van die leërskare! My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die Here; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God” Psalm 84:2-3 (AFR53).



2. Beoordeel jou eie hart. Hoe gereeld bring jy tyd in God se teenwoordigheid deur? Voel jy dat die tyd met Hom eerder 'n verpligting as 'n begeerte is? Wees eerlik teenoor God! Hy wil graag sy onbeperkte genade uitstort oor alles in jou lewe wat jou daarvan weerhou om die volheid van sy liefde te ervaar.



3. Vra vir God om sy begeerte om jou te ontmoet aan jou te openbaar. Vra Hom hoe Hy oor jou voel. Vra Hom om die begeertes van jou hart, wat Hy graag wil bevredig, aan jou te openbaar wanneer jy tyd alleen met Hom deurbring. Skryf alles neer wat Hy aan jou bekendmaak. 



Voordat jy vanaand bed toe gaan, bring 'n oomblik in God se teenwoordigheid deur. Laat sy goedheid die laaste ding wees waaraan jy dink voordat jy gaan slaap en die eerste ding as jy in die oggend wakker word. As jy deur die loop van die dag terneergedruk, passieloos of afgemat voel, dink 'n oomblik na oor God se goedheid. Hy wil graag regdeur jou dag tyd met jou deurbring en jou met vreugde, passie en doelgerigtheid vul, om sy koninkryk op aarde te verteenwoordig in alles wat jy doen. Mag jou dag vandag met die volheid van God gevul wees.



Verdere leeswerk: Psalm 84 


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 d...

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid