Leesplan inligting

40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 5 VAN 40

Alleentyd



Weeklikse Oorsig:



Hoekom behoort ons tyd alleen met God deur te bring? Hoekom is dit so belangrik om God op 'n afgesonderde plek te ontmoet? Voordat ons nie 'n begrip van die onmeetbare waarde en beskikbaarheid van 'n ontmoeting met God het nie, sal ons nooit op 'n gereelde basis hierdie fundamentele, noodsaaklike praktyk beoefen nie. Soos ons gaandeweg ontdek dat dit God se begeerte is om ons te ontmoet sodat ons die diepte van sy liefde kan ervaar, bid ek dat jou lewe gekenmerk sal word deur 'n nuwe genade om die lewende God op 'n gereelde basis en op 'n kragtige manier te ontmoet. 



Skrifgedeelte: “Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid” Lukas 5:16.



Oordenking:



Hoekom is alleentyd met God so belangrik? Hoekom is dit nie genoeg om net kerk toe, na die selgroep of Bybelstudie toe te gaan nie? Dié van ons wat in die kerk grootgeword het of al vir baie jare kerk toe gaan, het geleer dat alleentyd met God noodsaaklik vir ons verhouding met Hom is. Baie van ons het egter nooit die rede hiervoor gehoor nie. Dit is uiters belangrik dat ons verstaan hoekom hierdie praktyk noodsaaklik is, sodat ons dit gereeld en effektief kan beoefen. 



Kom ons kyk wat die Skrif ons leer aangaande hierdie alleentyd saam met God. Die Skrif stel dit baie duidelik dat Jesus tyd alleen met sy hemelse Vader deurgebring het. Lukas 5:16 (ABA) sê: “Jesus het altyd graag na stil plekke gegaan om alleen te wees en daar te bid.” Markus 1:35 (ABA) sê: “Baie vroeg die volgende oggend, toe dit nog donker was, het Jesus opgestaan en uitgegaan. Hy het na 'n stil plek gegaan om alleen te wees en Hy het daar gaan bid.” Ons lees dikwels in die Skrif dat Jesus Homself van die skare onttrek het om te gaan bid. Die eerste rede hoekom ons dus tyd alleen met God moet deurbring, is omdat Jesus dit gedoen het. As Jesus alleentyd met sy hemelse Vader nodig gehad het, kan ons vir seker weet dat ons dit selfs nog nodiger het. Jesus het gereeld tyd in God se teenwoordigheid deurgebring. Jesus het voortdurend op God se wil vir sy lewe gereageer. Hy is ons volmaakte voorbeeld, maar selfs Hy het steeds tyd alleen met God nodig gehad.



Ons sien ook uit Jesus se voorbeeld dat alleentyd met God ons bemagtig om God se doel vir ons lewens uit te voer. Na sy tyd in die woestyn, waarvan ons in Lukas 4 lees, het Jesus begin om wonderwerke te verrig. Jesus was baie bedroef en hartseer in die tuin van Getsemane en het vir God gevra om 'n ander manier as sy kruisdood te vind om redding vir sy mense te bewerkstellig. Na sy tyd alleen in die tuin met God, het Hy krag gehad om die ergste gruweldaad in die geskiedenis te verduur. Alleentyd met God bemagtig ons om 'n lewe te leef wat gevul is met die kennis van God se doelwitte en die vermoë om dit getrou na te kom. 



Laastens sê Jesus baie duidelik in Matteus 6:5-6 hoe ons moet bid. Die Skrif sê: “... as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” God beloon jou vir die tyd wat jy alleen in gebed saam met Hom deurbring. Dit is deur in afsondering te bid dat ons God se liefde vir ons duidelik en tasbaar ervaar. Dit is deur tyd in te ruim om met die Gees in gesprek te tree dat ons leer hoe sy stem klink. Dis deur vrae vir God te vra dat ons sy wil ontdek. Dis deur tyd alleen met Hom deur te bring dat ons lewens om sy nabyheid en goedheid wentel. 



Al die geld in die wêreld kan nie die belonings koop wat God graag vir jou wil gee nie. Al die guns van mense sal nie jou onversadigbare begeerte vervul om ten volle geken en liefgehê te word nie. Ontvang nou die beste geskenk wat jy ooit kan kry — persoonlike gemeenskap met jou hemelse Vader. 



Begeleide Gebed:



1. Waar jy ook al is, soek 'n plek waar jy alleen kan wees om te bid. Soek 'n plek waar jy ongestoord alleen kan wees. 



“... Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid” Lukas 5:16.



“Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid” Markus 1:35.



2. Lees en bid deur hierdie Skrif. Mag God jou 'n openbaring gee van sy voorsiening en liefde vir jou terwyl jy Jesus se modelgebed bid.



“... Ons Vader wat in die hemele is,



laat u Naam geheilig word.



Laat u koninkryk kom.



Laat u wil geskied, soos in die hemel,



so ook op die aarde.



Gee ons vandag ons daaglikse brood.



en vergeef ons ons skulde,



soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan.



En bring ons nie in versoeking nie,



maar verlos ons van die Bose” 



Want aan U behoort die koninkryk 



en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen 



Matteus 6:9-13 (AFR20).



3. Tree in gesprek met God. Vra Hom hoe Hy oor jou voel. Kom na Hom toe met enigiets wat jou neerdruk en lê jou laste voor sy voete neer. Vind rus in die vrede wat daar in sy teenwoordigheid is. 



“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” Matteus 11:28-30.



God se begeerte om tyd alleen met jou deur te bring, is nie bedoel om spanning of druk tot jou lewe by te voeg nie, maar om jou daarvan te verlos. Hy is nie 'n God wat 'n alleentyd-lysie afmerk nie, maar 'n goeie Vader wat graag jou lewe met sy genade, krag en liefde wil vul. Ruim vandag tyd in om na te dink oor die belangrike vrae wat Brennan Manning in sy boek, The Furious Longing of God, hieronder vra. Mag jou dag deur die liefde van jou gawe, goeie Vader gekenmerk word. 



“Word jou persoonlike gebedslewe gekenmerk deur die eenvoud, kinderlike eerlikheid, oneindige vertroue en gemaklikheid van 'n kind wat op sy pa se skoot klim in die wete dat die pa nie omgee of die kind aan die slaap raak, met speelgoed begin speel of selfs met maatjies begin gesels nie, omdat die pa weet dat die kind spesifiek gekies het om vir daardie oomblik by hom te wees? Is dit die gevoel wat in jou binnekamer heers?”



Verdere Leeswerk:

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 d...

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid