Leesplan inligting

40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 3 VAN 40

Leef vir Liefde



Weeklikse oorsig:



Hoekom behoort ons tyd alleen met God deur te bring? Hoekom is dit so belangrik om God op 'n afgesonderde plek te ontmoet? Voordat ons nie 'n begrip van die onmeetbare waarde en beskikbaarheid van 'n ontmoeting met God het nie, sal ons nooit op 'n gereelde basis hierdie fundamentele, noodsaaklike praktyk beoefen nie. Soos ons gaandeweg ontdek dat dit God se begeerte is om ons te ontmoet sodat ons die diepte van sy liefde kan ervaar, bid ek dat jou lewe gekenmerk sal word deur 'n nuwe genade om die lewende God op 'n gereelde basis en op 'n kragtige manier te ontmoet.



Skrifgedeelte: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie” Markus 12:30-31.



Oordenking:



Indien daar een hooftema in die Bybelse verhaal is, is dit die krag van God se liefde. Dit was sy liefde wat ons geskape het. Dit was in liefde wat Hy genade aan die mensdom gebied het, al rebelleer ons voortdurend. Dit was sy liefde wat Jesus gestuur het om ons te red en dis sy liefde wat sal oorwin by ons uiteindelike verlossing — wanneer al God se kinders by die groot bruilofsfees bymekaarkom.



God is liefde. Hy kan niks doen as dit nie uit liefde is nie. Jesus sê in Markus 12:30-31 dat al die gebooie vir ons in een woord opgesom is — liefde. Jy is geskape sodat God jou kan liefhê en jy Hom en mense in reaksie daarop kan liefhê. Jy sal nooit bevrediging vind voordat jy nie in die onvoorwaardelike liefde van jou hemelse Vader rus vind nie. Jy sal nooit jou ware doel vind voordat jy nie begin leef om God en mense lief te hê nie.



Om vir liefde te leef, moet jy buite die beperkings van die bekommernisse en optrede van jou lewe beweeg en eerder vir die koninkryk van God lewe. Dis 'n keuse om jouself te anker in die onvoorwaardelike toegeneentheid van jou hemelse Vader, eerder as om in die wispelturige liefde van die mensdom vervulling te vind. Dis 'n keuse om te dien en te gee, eerder as om van 'n wêreld te ontvang wat baie min kan bied. Om vir liefde te leef, is om God en sy weg eerste te soek en so die volheid van die lewe te ontvang wat net Hy kan gee. 



Wanneer jy jou dae in die teenwoordigheid van God begin, lê jy vir jouself 'n fondament van God se onvoorwaardelike liefde. Om God in die eerste oomblikke van jou dag toe te laat, met die waarheid van sy liefde vir jou, sal jou krag gee om op te hou om in die dinge van die wêreld vervulling te vind. Dis onmoontlik om vir liefde te leef soos Jesus beveel het, tensy ons daagliks eers die volmaakte, kragtige liefde van ons hemelse Vader ontvang. “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het” 1 Johannes 4:19.



My hoop en gebed is dat "First15" 'n voordelige hulpbron vir jou sal wees om die liefde van God te ervaar. Ek bid dat jou hart tot oorlopens toe met liefde gevul sal word en dat jy dan in reaksie op die liefde van God sy koninkryk van liefde op aarde sal bevorder. God se liefde vir jou is so intens, so doelgerig en so oorvloedig dat net 'n voorsmakie daarvan die krag het om jou lewe te verander van selfsug na 'n lewe wat selfopofferend geleef word. Mag hierdie liefde jou beweeg om Hom en mense lief te hê. Mag jy vandag deur die liefde van jou hemelse Vader 'n veranderde lewe leef. Mag jy vir liefde leef.



Begeleide gebed:



1. Ontvang God se teenwoordigheid. Fokus vir 'n tyd lank op sy nabyheid en hoe dit jou uitkyk en emosies verander. Maak dit vandag die hooftema van jou gebed en word oorweldig deur die diepte van God se liefde.



“En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom” 1 Johannes 4:16.



“Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?” Psalm 139:7.



2. Gee vir God jou liefde in reaksie hierop. Sê vir Hom dat jy Hom liefhet. Sê vir Hom jy hou daarvan hoe Hy jou laat voel. Sê vir Hom dankie vir die werk wat Hy besig is om in jou lewe te doen.



3. Vra vir God om jou te help om vir ander te leef. Vra Hom om vir jou te wys waar Hy in die lewens van die mense om jou aan die werk is. Vra Hom om vir jou te wys hoe jy vandag sy vennoot kan wees in die proses om sy koninkryk uit te brei.



“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie” Johannes 15:5.



“Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel” Johannes 15:12-14.



“... God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” Efesiërs 2:10.



Lees nou Efesiërs 3:16-19. Dit som die krag en werklikheid van liefde so volkome op:



"Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God."



Verdere leeswerk: 1 Johannes 3


Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 d...

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid