Leesplan inligting

Noël: Kersfees Is Vir AlmalVoorbeeld

Noel: Christmas Is For Everyone

DAG 7 VAN 12

Die Teenwoordigheid van Jesus


Deur Danny Saavedra



“'n Paar dae later het Maria haastig na die heuwelland van Judea vertrek, na die dorp waar Sagaria gewoon het. Sy is die huis in en het vir Elisabet gegroet. Met die geluid van Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se skoot beweeg en Elisabet is met die Heilige Gees vervul. Sy het met 'n harde stem uitgeroep: ‘Jy is bo alle ander vroue deur God geseën, en jou kind is geseënd. Wat 'n eer is dit dat die ma van die Here my besoek! Toe jy ingekom en my gegroet het, het my kindjie van vreugde beweeg die oomblik toe ek jou stem hoor! Jy is geseënd omdat jy vertrou het dat die Here sal doen wat Hy gesê het’”—Lukas 1:39–45 (NLV).



Daar is 'n pragtige lied deur Bryan en Katie Torwalt met die volgende lirieke: “When You walk into the room, everything changes; darkness starts to tremble at the light that You bring. And when You walk into the room every heart starts burning and nothing matters more than just to sit here at Your feet and worship You.”



Min dele in die Bybel vul my met soveel emosie soos hierdie Skrifgedeelte in Lukas 1. Stel jouself die toneel vir 'n oomblik voor... Die oomblik wat die engel Gabriël met Maria die ongelooflike, wonderbaarlike, wêreld-veranderende nuus deel dat die langverwagte Messias deur haar gebore sou word, het sy begin pak om haar niggie Elisabet te besoek, wat ook swanger was, soos die engel vir Maria gesê het.



'n Paar dae later het sy daar aangekom en haar niggie gegroet, heel waarskynlik met die gebruiklike "Vrede vir jou." En die oomblik wat sy die vertrek binnestap, die oomblik wat Maria se stem Elisabet se ore bereik, gebeur iets wonderliks en ongelooflik: die baba in haar skoot het "sterk van vreugde beweeg". Slegs met die aanhoor van haar stem het die ongebore Johannes, wat eendag die ongebore Jesus sou doop, binne-in haar beweeg. Is dit nie ongelooflik nie?



Die teoloog Matthew Poole het hieroor 'n opmerking gemaak: “Die beweging van die kind in die moeder se skoot. . . is geen ongewone ding nie . . . maar ongetwyfeld was hierdie beweging meer as gewoon.” Dis waarskynlik dat Elisabet vir Johannes voorheen al in haar baarmoeder voel skop of beweeg het, maar nie só nie, nog nie soos hierdie keer nie. Dit was baarmoeder-aanbidding; dit was soos Dawid in 2 Samuel 6:14 (NLV), wat “met volle oorgawe voor die Here gedans het,” maar dit het in Elisabet se baarmoeder plaasgevind! Op daardie oomblik het sy dadelik deur die Heilige Gees die oorsaak van die sterk beweging herken. Sy het geweet sy was in die teenwoordigheid van die Here, die Seun van God; die Messias en Verlosser.



En dus het sy opgewonde uitgeroep: “Hoekom word ek so vereer dat die ma van die Here my besoek?” Ek is mal oor hoe Die Boodskap (met klem) hierdie vers vertaal: “Wie is ek dat jy, die moeder van die Here, hier na my toe kom?”



Elke keer wat ek hierdie gesprek lees, bring dit trane in my oë. Kan jy dink hoe Elisabet moes voel toe sy besef in wie se teenwoordigheid sy verkeer, toe die Heilige Gees aan haar openbaar: Dis Hy, Hy's hier; jou Verlosser en Here is hier in die skoot van jou niggie!? Dit herinner my aan Simeon wat met die aanskoue van Jesus, die eer gehad het om die pasgebore Messias in sy arms vas te hou en toe gesê het: “...want ek het self die Redder gesien. U het Hom vir ons gestuur, en al die volke sal Hom sien” (Lukas 2:30–31 ABA).



Daar is 'n onbeskryflike vreugde wanneer ons die teenwoordigheid van Jesus ervaar. Daar is 'n volheid, 'n vrede, 'n opgewondenheid wat maak dat ons in verheerliking en opregte, onbeskaamde lofprysing uitbars. Kettings word gebreek, die skille val van ons oë af, genesing vind plaas, die donker vlug en die vermoeides vind rus. Daar is niks soortgelyks in die hele wêreld nie! As gelowiges kry ons elke liewe dag die kans om in hierdie werklikheid te lewe.



Ek bid dat elkeen van ons dit sal onthou; dat ons nooit die verwondering, ontsag en vreugde sal verloor om elke oomblik in die teenwoordigheid van die Here te leef deur die inwoning van die Heilige Gees in ons nie. Ek bid dat ons nooit sy teenwoordigheid as vanselfsprekend sal aanvaar nie en dat ons voortdurend, daagliks, 'n vars vervulling van sy Gees sal ontvang.



Net soos Maria tydens haar swangerskap, dra ons die teenwoordigheid van God in ons, oral waar ons gaan. Ons dra die heerlike geskenk van God binne-in ons; 'n gawe wat ons almal met die wêreld om ons moet deel! Wat doen jy dus daarmee? Wat gebeur as jy by 'n vertrek instap? Hoe reageer mense wanneer hulle jou ontmoet, wanneer hulle jou stem hoor? Is die tasbare teenwoordigheid van die Here binne-in jou vir hulle duidelik? Skyn die lig van die wêreld deur jou lewe, of het jy dit bedek en weggesteek?



Vriende, terwyl Kersfees nader kom, 'n tyd wanneer feesliggies ons stede versier, bid ek dat dié van ons wat die teenwoordigheid van die Verlosser in ons dra, Christus se lig die helderste sal laat skyn, sodat "die mense ook julle lig kan sien. Hulle moet sien julle lewe reg. Dan sal hulle ook julle Vader prys wat in die hemel is.” (Matteus 5:16 ABA)


Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Noel: Christmas Is For Everyone

Oor die volgende 12 dae gaan ons deur die Kersfeesverhaal reis en ontdek hoekom dit die grootste verhaal is wat ooit vertel is en ook dat Kersfees vir almal bedoel is!

Baie dankie aan Calvary Chapel Ft. Lauderdale wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asb.: http://CalvaryFTL.org

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid