Leesplan inligting

Noël: Kersfees Is Vir AlmalVoorbeeld

Noel: Christmas Is For Everyone

DAG 1 VAN 12

Wat 'n Lieflike Naam Is Dit


Deur Danny Saavedra


"In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie."-Johannes 1:1-3


Wat is die eerste ding wat jy van iemand te wete kom as jy hom vir die eerste keer ontmoet? Sy naam! Hoekom? Name help ons om mense te onthou, om hulle te identifiseer en te weet met wie ons gesels of na wie ons verwys. 


In die ou dae het name nog iets beteken. Deesdae kies mense vir hulle kinders name op grond van wat hulle dink oulik of gewild is, sonder om na te vors wat die etimologiese oorsprong of kulturele betekenis en erfenis daarvan is. In die antieke tye was name vir 'n spesifieke rede gegee. Isak ("hy lag") se naam verwys na Abraham en Sara se reaksie toe God hulle vertel het dat hulle 'n seun sou kry op hulle ouderdom. Jakob ("hy gryp die hakskeen") het sy naam gekry omdat hy gebore was terwyl sy "hand aan Esau se hakskeen vasgehou het." (Genesis 25:26)  


Name in die Bybel was baie betekenisvol, omdat hulle dikwels iets omtrent die persoon vertel het. Dit is veral waar in God se geval, want Hy het baie name wat uiters betekenisvol is. Van El Shaddai tot Jehovah-Raah onthul iets omtrent Hom. Van al die name wat aan God gegee is in die Bybel, is die mees interessante en unieke een waarskynlik die een wat in Johannes 1:1 aan Hom toegeskryf word. "In die begin was die Woord..."


Die Griekse woord wat hier vir Woord gebruik word is logos. Die konsep van logos is kragtig, ingewikkeld en 'n lieflike idee. Die eenvoudigste manier om die Griekse filosofie omtrent dit te verduidelik, is dat logos die rede of onuitgesproke redenasie van iets is. Die bewoording beskryf 'n groep dinge wat as een gedagte gereken en in woorde uitgedruk word. Dit word beskou as die universele rede wat onafskeidbaar deel van alle dinge is; die bindende wette wat alles wat lewe onderhou.


In die Hebreeuse kultuur verwys hierdie idee na die dinamiese krag van God se wil. Hulle gebruik dikwels die bewoording memra - 'n woord wat afgelei word van die Aramese woord vir "praat" - om God se kreatiwiteit en wil te beskryf. 


Hierdie begrip van die konsep, en ook die bewoording wat in Johannes 1:1 gebruik word, vat ons terug na die skeppingsverhaal in Genesis 1. Daar sien ons hoe God praat en alles in die heelal tot stand kom. Hebreërs 11:3 verduidelik dit verder so: "...dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie." 


Wanneer ons Johannes 1:1 lees wat sê: "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God," sê die apostel eintlik dat Jesus Christus, die Seun van God, die lewende verpersoonliking van die Woord van God is. Hy is God in die vlees, die beeld (eikón: allerhoogste uitdrukking, weerspieëling en verteenwoordiging; spieëlbeeld) van die onsigbare God (Kolossense 1:15); die Een wat aan die begin alles deur Sy woorde geskep het (Genesis 1:1-2; Psalms 33:9; Hebreërs 11:3). Hy is die karakter, hart, wil en gedagte van God die Vader, wat aan die wêreld geopenbaar is. Hy is, soos die Grieke glo, die universele rede vir alle dinge (Johannes 1:3); die wette wat alle dinge laat bestaan (Kolossense 1:15-17). 


Raai wat? Johannes 1:14 vertel vir ons dat die Woord, Hy wat die heelal bymekaar hou en deur wie die hele skepping tot stand gekom het, "vlees geword het en tussen ons kom woon het." Dis waaroor Kersfees gaan. God het mens geword! Hy het ons so lief, dat Hy die hemel verlaat het om vir ons 'n manier te gee om in die hemel te kom en die ewigheid saam met Hom te kan deurbring! Dis hoekom ons in Matteus 1:23 lees van die engele wat vir Josef gesê het: "Hulle sal hom Emmanuel noem" (wat "God met ons") beteken. Die Seun van God het gekom om Sy Vader se gedagtes en hart - Sy Woord - aan die wêreld bekend te maak . . . en ons te red. Dis hoekom die engel Josef beveel het om Hom Jesus te noem (Yeshua: God is redding), "want dit is hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." (Matteus 1:21)


Terwyl ons gereed maak om oor 'n paar dae Kersfees te vier, onthou dat Emmanuel, ons wonderbare Jesus, die ewige Woord, ons Koning en Redder, aarde toe gekom het sodat ons God kan leer ken en Sy teenwoordigheid kan ervaar, en gered kan word. Hy het gekom om ons "die reg om kinders van God te word", verniet te gee. (Johannes 1:12) Môre gaan ons uitvind hoekom God moes kom...

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Noel: Christmas Is For Everyone

Oor die volgende 12 dae gaan ons deur die Kersfeesverhaal reis en ontdek hoekom dit die grootste verhaal is wat ooit vertel is en ook dat Kersfees vir almal bedoel is!

Baie dankie aan Calvary Chapel Ft. Lauderdale wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asb.: http://CalvaryFTL.org

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid