Leesplan inligting

Noël: Kersfees Is Vir AlmalVoorbeeld

Noel: Christmas Is For Everyone

DAG 10 VAN 12

Geen Plek in die Huis nie....Maar Almal is Genooi


Deur Danny Saavedras



"Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle ...Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê hulle vir mekaar: 'Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.'"—Lukas 2:6-9, 15.



"'Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys'...Toe hulle die ster sien was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre."—Matteus 2:2, 10-11.



Onthou jy nog jou eerste gesinsvakansie? Ek onthou! Ons s'n was 'n reis na Noord-Carolina vir 'n troue. Dit was ook die eerste keer wat ons ons seun, wat toe ongeveer 17 maande oud was, op 'n vliegtuig geneem het. Soos jy kan verwag het sepie-styl malligheid gevolg. Ons seun het soos 'n besetene op die vlug geskreeu; ons het by goeie vriende gebly, wat ook 'n eenjarige kind gehad het en dit was nogal 'n avontuur en glad nie wat ons verwag het nie. Maar dit was ook baie pret en 'n lieflike tyd met wonderlike herinneringe waarna ons steeds terugkyk en met deernis onthou.



Ek stel my voor dis hoe dit vir Josef en Maria was....Erg chaoties en deurmekaar, lank en moeilik, en vol verrassings, maar uiteindelik een van die wonderlikste herinneringe van hulle lewens. Stel jou voor...Maria was op dié stadium ver swanger en hulle moes 'n donkie laai en na Betlehem vertrek, die plek waarvandaan hulle voorouers gekom het—'n dorp waarin hulle nog nooit gebly het nie, waar daar nog 'n paar vérlangse familielede gebly het, maar waarskynlik niemand met wie hulle noue kontak gehad het nie. Nou moes hulle hoop dat een van hulle familielede plek vir hulle sou hê om oor te bly.



Maar teen die tyd wat Josef en Maria in Betlehem aangekom het, het nie een van hulle familielede vir hulle plek gehad nie. Al hulle kamers was vol, maar waarskynlik omdat hulle familie was en omdat Maria swanger was, het een van die familielede hulle toegelaat om in die onderste vertrek te bly waarin die diere snags aangehou is. Stel jou iets soos 'n kelder of motorhuis voor, waarin jy jou hond of kat... of jou koeie en donkies aanhou!



Is dit nie gek nie? Maar dit raak nog gekker...Weet jy waar Jesus, die Verlosser, Sy eerste nag op aarde geslaap het? Nie in 'n mooi wiegie of sagte bedjie nie; Hy is in 'n krip neergelê, 'n trog waaruit diere sou eet. Hierdie krip word in die tradisionele geboorte-toneel dikwels voorgestel as 'n hout bababedjie uitgevoer met strooi, maar in werklikheid was dit meer soos 'n groot reghoekige plaas opwasbak van klip, op 'n paar houtskoolblokke.



Daardie aand was daar geen plek vir Jesus op die aarde nie, en tog, met die uitnodiging aan die skaapwagters in die veld daar naby, en die latere aankoms van die wyse manne uit die Ooste, wys die Here ons dat almal uitgenooi is om aan Jesus se voete te kom aanbid. Hoekom? Van almal in die hele Joodse samelewing wat genooi kon word, kies God 'n groepie skaapwaters om die nuus van Jesus se geboorte te hoor en Hom te gaan aanbid. Dit is 'n kragtige beeld vir ons, want die skaapwagters was een van die laagste sosiale groepe.



Dink daaraan hoe die skaapwagters se werk hulle daarvan weerhou het om in die hoofstroom van die Joodse samelewing te beweeg, van seremoniële reiniging weerhou is, en dikwels nie al die godsdienstige feeste of feesmaaltye kon bywoon nie. En nou is daardie skaapwagters uitgenooi, hulle wat die skape opgepas het wat heel waarskynlik later as offers in die tempel gebruik sou word. John MacArthur het dit so raak gestel: "Hoe gepas is dit dat hulle die eerste mense was om die Lam van God te leer ken!"



Die aankoms van die wyse manne, 'n groep van Babiloniese/Persiese priesters en sterrewiggelaars, is selfs vandag vir ons van nog groter belang, want hulle was die eerste mense wat op reis gegaan het op soek na 'n Koning. Maar luister hierna: Die wyse manne was heidene, nie-Jode. Hulle het soveel geloof in God se Woord gehad, dat hulle hul land verlaat het op soek na die beloofde Messias. Hulle het hom in geloof en met hulle hele hart gesoek en was oorstelp van vreugde toe hulle die pad na Hom gevind het. Hulle het uiters waardevolle geskenke vir Hom gegee toe hulle Hom in nederinge heerlikheid gevind het, geskenke wat goed genoeg was vir 'n Koning. Dit wys net vir ons dat almal welkom is aan Jesus se voete. Hy is die wonderlike geskenk van God, die Messias en Koning. Almal is welkom om Hom te kom aanbid en gered te word!



Ek bid hierdie Kersfees dat ons dieselfde ingesteldheid sal hê. Ek bid dat ons mense met dieselfde liefde, deernis en vriendelikheid as Jesus sal hanteer, ongeag hulle agtergrond, geloof of leefstyl. Ek bid ook dat ons die lig van die wêreld sal wees wat mense aantrek om die Koning te aanbid, net soos die ster wat die wyse manne na Jesus toe gelei het.


Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Noel: Christmas Is For Everyone

Oor die volgende 12 dae gaan ons deur die Kersfeesverhaal reis en ontdek hoekom dit die grootste verhaal is wat ooit vertel is en ook dat Kersfees vir almal bedoel is!

Baie dankie aan Calvary Chapel Ft. Lauderdale wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asb.: http://CalvaryFTL.org

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid