Leesplan inligting

Oorweldig Deur My Seëninge (Deel 3)Voorbeeld

Overwhelmed by My Blessings: Encouragement for Moms (Part 3)

DAG 2 VAN 5

Wanneer 'n mens baie kinders het, het jy 'n geleentheid om dinge oor te doen — dank die Vader. Ons arme, oudste kinders het 'n ma gehad wat daarop gefokus het om hulle al die dinge te leer wat hulle nie moes doen nie. Gedragsverandering. In my naïwiteit het ek geglo, as ek vir hulle die regte dinge leer en dit gereeld herhaal, hulle sou kies om nie die verkeerde dinge te doen nie. Belaglik, dit weet ek nou.


Ek het my kinders grootgemaak om soos ek te wees. 'n Spieëlbeeld, 'n weerkaatsing van myself, dit het ek hulle geleer. Dit het nie goed verloop nie — hulle het vasgeskop teen die reëls en beperkings wat daar gestel is om reg te leef.


Namate God in my eie hart gewerk het, het ek begin sien die lewe gaan nie oor wat ons nie doen nie, maar eerder oor wie Hy in ons is. Die toestand van ons harte. Soos my verhouding met Christus al hoe meer oor vryheid, die lewe en nabyheid aan Hom gegaan het, het my onderrig ook verander.


Ek het begin deur hulle te leer om lig en nie spieëlbeelde te wees nie. Hulle is as sy beeld geskape, nie myne nie. Die eer wat hulle kon weerspieël, was sy — lig, lewe en liefde! Nie my misplaaste idee van goeie maniere nie.


My uitgangspunt het verander van behep te wees met die regte optrede — na 'n liefdevolle, lewende verhouding met Christus. Hierdie onderskeid het my gehelp om te besef dat my onderrig nie daarop moet fokus om weg te bly van pornografie, dwelms, alkohol, vloek, bedrog, seksuele losbandigheid, ensovoorts nie — alhoewel ons oor al hierdie dinge gepraat het. Ons het eerder gefokus op die gevolge van doelbewuste onafhanklikheid van God, en die sonde wat daardie verhouding sou skade aandoen, asook die vreugde en vryheid wat uit 'n liefdevolle verhouding met 'n lewende God sou ontstaan.


Hierdie verandering van denkrigting het ook vir my verligting en vryheid gebring in die wete dat ek nie die verantwoordelikheid het om skitterende spieëlbeeld-kindertjies groot te maak nie, maar eerder die verantwoordelikheid het om hulle te lei na 'n verhouding met die Gewer van Lewe. Hulle het die geleentheid om ligdraers te wees. Dis hulle keuse.


Ek het vir jou goeie nuus. Hulle het almal gekies om ligdraers te wees, nie spieëlbeelde nie. Mamma, haal diep asem en wys vir jou kinders die liefde wat daaruit voortspruit om Jesus te ken. Hulle sal dit mettertyd self wil hê.


As jy nooit die geleentheid gehad het om langs die pad jou ouerskapstyl te verander nie, is dit nooit te laat om vir jou kinders jammer te sê oor dit wat jy nie geweet het nie. Dit mag dalk net die deur na 'n paar helende gesprekke open.


Vader, ek erken dat dit vir my 'n moeilike ding is om te oordink. Ek wil nie hê dat my kinders deur moeilike dinge moet worstel nie, veral nie van die dinge wat ek gekies het toe ek jonger was nie. Ek bid dat U vir my die wysheid sal gee om te besef watter grense ek moet stel, maar meestal die wysheid om u liefde en lewe vir my kinders te leer. Ek bid dat hulle U sal kies en dat die voorbeeld wat ek aan hulle stel slegs u eer sal weerspieël. Mag ek ligdraers en nie spieëlbeelde van myself grootmaak.


Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Overwhelmed by My Blessings: Encouragement for Moms (Part 3)

Aanmoeding vir ma's, van 'n ma wat sewe kinders grootgemaak en dit oorleef het om die storie te vertel. Deel 3 van 12 in hierdie reeks van oordenking-leesplanne deur Robin Meadows

Ons wil graag vir Robin Meadows bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: instagram.com/manymeadows

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid