Leesplan inligting

Jy Sal Oukei WeesVoorbeeld

Jy Sal Oukei Wees

DAG 7 VAN 7

God dans met jou

Lees Jesaja 43:1b

Oordenking

Hoe wonderlik is die wete dat die God wat jy aanbid met jou wil dans. Dat Hy jou uitnooi om saam met Hom op die dansbaan te beweeg. In harmonie.

Ons elkeen het soms ’n blaaskans nodig. Ons kan nie aanhou stoomroller nie, want dan sal ons uitbrand of selfs siek word van te veel stres. Ons moet doelbewus tyd en ruimte skep vir ander dinge as die normale sloer en stoei van die lewe. Dit is afsluit-en-klaarmaak-tyd. Stilstaan-en-dink-tyd. Besin-oor-môre-tyd. Onthou-en-droom-tyd.

In hierdie tyd kan jy nadink oor die vreugdes wat jy ervaar het. Jy kan jou oorwinnings herleef. Jy kan ook die ervarings wat pyn, teleurstelling, vrees en intense hartseer meegebring het, deurwerk en verwerk. Ja, wees dapper genoeg hiervoor en gaan sit saam met die Gees in die donker hoekies van jou hart en laat Hy die lig vir jou laat deurbreek. En jou met ’n nuwe perspektief op die lewe vul.

God wil meer as net saam met jou leef. Hy wil met jou dans.

Gaan sit in sy teenwoordigheid, en sien hoe Christus sy hand na jou toe uitsteek, jou in sy arms neem en met deernis na jou kyk. Geniet dit om sommer net by Hom te wees. Soos ’n kind – afhanklik, afwagtend, aanvaardend. Ervaar hoe sy liefde jou van alle kante omsluit en sy vrede jou daaraan herinner dat jy regtig sy geliefde oogappel is. Dat jy Syne is. Gaan dan elke dag ligvoets tegemoet, met die diepe wete dat God met jou wil dans. Raak deel van sy volmaakte ritme, bly in pas met Hom en geniet die vloei van sy leiding. Dit is immers die beste, veiligste en gelukkigste plek om te wees.

Waag ’n kans en betree die dansvloer. God wil met jou dans.

Stilword

Ja, Here! U nooi my: Kom dans met My. Die meeste kere kyk ek anderpad omdat verpligtinge my lewe oorheers. Ek probeer dan uit eie krag strompelend voortbeur. En ek besef ek kan dit nie doen nie. Dankie dat U met my dans, sommerso in die verbygaan. Mag ek meer tyd vir U inruim. Ek is veilig in U en deel van U. Ek wil in dankbaarheid na die lewe kyk en glimlag en wéét: U sorg vir my. U dans met my. Amen.

GRATIS HOOFSTUKKE

Hierdie groeiplan is ’n verwerking van gedeeltes uit Jy sal oukei wees van Milanie Vosloo. Laai gratis hoofstukke van die boek hier af: https://eshop.bybelmedia.org.za/youversion/. Ons hoop dit sal jou inspireer op jou geloofsreis. Kontak ons gerus by info@bmedia.co.za.

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Jy Sal Oukei Wees

Dié groeiplan sal jou help om God in die hier en nou te beleef. Om sy teenwoordigheid bewustelik aan te voel. Dit sal jou opnuut bewus maak van hierdie waarheid: God is hier, God is vir jou, God is naby jou. Jy kan God i...

More

Ons wil graag Bybel-Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.biblemedia.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid