Leesplan inligting

Jy Sal Oukei WeesVoorbeeld

Jy Sal Oukei Wees

DAG 5 VAN 7

Wat regtig belangrik is

Lees Filippense 1:10

Oordenking

Ons het “lagies-mense” geword. Dit werk só: Van ons geboorte af verf die lewe (én onsself) verskillende lewenskleure, laag op laag, oor die kern van wie ons eintlik is. Reeds vroeg in ons lewe verf ons ouers, met die beste bedoelings denkbaar, só-doen-jy-dit oor ons kinderlike spontaneïteit. Daarna volg die lagies die een ná die ander: leer-nou dit, word-nou-dit, presteer-nou-só, lyk-verkieslik-só. Dit alles plak nog dikker lae verf om ons harte. En iewers in die proses raak ons so gewoond aan die kleure waarmee ons toegeverf is dat ons nie meer weet wie ons regtig is nie.

Dan gebeur daar iets dramaties in ons lewe: Ons word ernstig siek; ons verloor iemand naby aan ons; ons beleef groot trauma; daar kom ’n enorme krisis. Skielik stroop dié dinge elke laag van ons lewe en hart af – en dan wonder ons waarom ons alles tog so gekompliseerd gemaak het. In ons nuwe gestrooptheid besef ons dat bitter min van daardie “lagies” regtig saak maak óf langdurig is. En dat daar maar ’n handjievol dinge is wat werklik belangrik is. Soos om bloot te lééf, om ons sintuie te geniet, om te werk. Om te lag. En veral om lief te hê en om liefde te ontvang.

Dis dan dat ons besluit om anders te leef. Om ons eie en ander se menswees as dié belangrikste in ons lewe te koester.

Mag ons, hoe ongemaklik en selfs seer so ’n stropingsproses ook al mag wees, dapper genoeg wees om dit toe te laat. Totdat ons by ons oorspronklike self uitkom. Want dis daar, daar waar ons naak en eerlik is, dat die Gees ons bewus maak van alles wat goed en mooi in ons en in die mense rondom ons is. En dis dán dat ons met sagte oë en diepe vervulling ánders kan leef, in hierdie wete: Al wat regtig saak maak, is die liefde.

Stilword

Here, mag die lagies wat oor my geverf is, afval. U is my rots en my bergvesting. U staan ewig vas, al wankel ek soms wanneer die lewe my tref. Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek voel veilig by U en in U. Daarom skuil ek by U. Ek bid dat U my sal beskerm en vir my sal voorsien, dat U my veilig sal hou in u hand en dat ek laagloos sal leef. Amen.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Jy Sal Oukei Wees

Dié groeiplan sal jou help om God in die hier en nou te beleef. Om sy teenwoordigheid bewustelik aan te voel. Dit sal jou opnuut bewus maak van hierdie waarheid: God is hier, God is vir jou, God is naby jou. Jy kan God i...

More

Ons wil graag Bybel-Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.biblemedia.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid