Leesplan inligting

Op Jesus Se HakkeVoorbeeld

Op Jesus Se Hakke

DAG 8 VAN 8

Dissipels is draers van hoop


Hoop is vandag so ’n belangrike konsep. Ons kan nie sonder hoop nie. Waar daar lewe is, is daar hoop, en waar daar hoop is, is daar lewe! 


Die realiteit van die tyd waarin ons leef, is dat dit ’n seer, stukkende, gebroke wêreld is. Daarom is hoop vandag so nodig. Nou wil ek vir jou twee vrae vra: Hoe gee ’n mens hoop? En ek dink die beter vraag wat ek eintlik vir jou wil vra, is: Hoe ís jy hoop vir ander? Dis ’n identiteit wat ’n volgeling van Jesus moet hê. Jy moet hoop wees wat hoop gee.


In Hebreërs 12:1-3 lees ons dat ons besig is met ’n lewenswedloop en ons weet enige wedloop het opdraandes en afdraandes. Op die afdraandes het ons nie rêrig hoop nodig nie. Dis die opdraandes, wanneer ons uitsukkel, wanneer ons stoei, wanneer ons moeg raak – dis dan wat ons hoop nodig het. En wanneer die mense langs ons uitsukkel teen die opdraandes, dis dan wanneer dit nodig is dat ek en jy hoop moet wees, sodat ons hoop vir ander kan gee. Die Hebreërsskrywer maak dit baie prakties – Hy sê vir ons: “Hardloop met die oog op Jesus.” Ek kyk nie na die opdraand nie, ek kyk nie na my omstandighede nie; my hoop lê nie in my omstandighede nie. My vertroue is in Jesus Christus. En dan kom sê die Hebreërsskrywer vir ons ons moet hardloop met volharding, wat beteken ons moet aanhou hardloop.


Dink gerus aan Josef se verhaal. Wat ’n uitstekende voorbeeld van volharding, van geloof en van hoop. Hy is in ’n droë put gegooi, verkoop, na ’n vreemde land toe gevat. Hy beland onskuldig in die tronk. Hoor die swaar en die opdraand in Josef se lewe – en dis nie net een opdraandetjie nie, dis ’n paar. En hy het aangehou en aangehou. En uiteindelik het hy hoop geword, en uiteindelik kon hy hoop gee vir ander.


Josef se verhaal begin by swaarkry en eindig by hoop. Want swaarkry vat jou na volharding toe – om nooit op te gee nie, om nooit moeg te word en uit te sak nie. Dít vat jou na egtheid van geloof toe. En dít bring jou uiteindelik by hoop. En ek en jy doen die lewenswedloop saam met ander mense. Dit is ook my en jou verantwoordelikheid as dissipels van Jesus Christus om ’n agent van hoop, ’n draer van hoop in hierdie wêreld te wees.


Volg hierdie skakel vir gratis toegang tot die Video Bybelstudie van Op Jesus se Hakke.

Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Op Jesus Se Hakke

Om Jesus se volgelinge te wees in ’n stukkende wêreld is beslis nie kinderspeletjies nie. Maar dit is elke kind van God se roeping; daarom belowe Hy om elke stap van die pad saam met ons te wees wanneer ons onsself toewy...

More

Ons wil graag RightNow Media South Africa bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.rightnowmedia.org/promo/op-jesus-se-hakke

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid