Leesplan inligting

Op Jesus Se HakkeVoorbeeld

Op Jesus Se Hakke

DAG 6 VAN 8

’n Warm-hartige dissipel


Ek wil jou vandag vat na ’n wonderlike verhaal. ’n Verhaal van warm-hartigheid, en van barmhartigheid. Ek wil vir jou ’n persoon wys wat hierdie hele dissipelskapproses so warm-hartig en barmhartig geleef het. Dit is Barnabas en sy naam beteken iemand wat mense moed inpraat. 


Paulus en Barnabas het in ’n besondere verhouding met mekaar gestaan. Ons ken Paulus se verhaal. Hoe hy Christene vervolg en gehaat het. Soos ’n besetene agter hulle aangegaan het. En toe kom die lig op pad Damaskus toe, en Paulus kom tot bekering. Dan wil Paulus aansluit by die gelowiges, en hy loop hom vas teen die gelowiges. Hoekom? Hulle is bang vir hom! Hy’t nou die dag nog gelowiges vervolg en nou probeer hy by die volgelinge van Jesus aansluit. Maar almal was bang vir hom omdat hulle nie kon glo dat hy ’n volgeling van Jesus geword het nie. Barnabas het hom egter oor Paulus ontferm en hom na die apostels toe gebring. Barnabas het hom “ontferm” oor Saulus. Hoor die warm-hartigheid. Hoor die barmhartigheid. Hoor hoe amper was Paulus uitgesluit. Nie deel van die familie, die gesin van gelowiges gewees nie. Te danke aan Barnabas word Paulus ingetrek in hierdie familie. In Handelinge 11 lees ons weer van Barnabas wat die gelowiges gehelp het. Dit is ook Barnabas wat in Handelinge 15 vir Markus ’n tweede kans gee.


Ons kan ook dink aan Jesus se voorbeeld. Jesus is verraai deur Petrus wat gesê het hy sal nooit, nooit teen Jesus draai nie, hy sal Jesus nooit verloën nie. Ja, en toe doen hy dit drie keer in een aand. Jesus het alle rede gehad om Petrus weg te stoot. Hom te verwerp. Kwaad te wees. Maar wat gebeur in Johannes 21? Petrus het Jesus drie keer verloën. En drie keer vra Jesus vir Petrus: “Het jy My lief?” Jesus kom herstel Petrus ten volle in die fynste, fynste detail: “Jy het My drie keer verloën, Petrus. Ek kom jou drie keer vergewe.” Jesus kom demonstreer sy warm-hartigheid en sy barmhartigheid. 


En dit is hoe ek en jy teenoor ander behoort te leef. Ek en jy moet die Barnabasse wees in ander se lewens. Kom ons vat hierdie uitdaging, en kom ons gaan leef as volgelinge van Jesus Christus, op die hakke van Jesus, met warm harte van barmhartigheid.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Op Jesus Se Hakke

Om Jesus se volgelinge te wees in ’n stukkende wêreld is beslis nie kinderspeletjies nie. Maar dit is elke kind van God se roeping; daarom belowe Hy om elke stap van die pad saam met ons te wees wanneer ons onsself toewy...

More

Ons wil graag RightNow Media South Africa bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.rightnowmedia.org/promo/op-jesus-se-hakke

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid