Leesplan inligting

Op Jesus Se HakkeVoorbeeld

Op Jesus Se Hakke

DAG 7 VAN 8

Dissipelskap se drie V’s


Daar is drie V’s wat ons in gedagte moet hou wanneer ons oor dissipelskap praat: Dit is vervolging, vrygewigheid en vreugde


Kom ons vat die moeilikste een eerste: Vervolging. Dit kos ’n prys om Jesus te volg. Dit is “tough”. Dit is uitdagend. Jesus sê in Lukas 10 Hy stuur ons soos lammertjies tussen die wolwe in. Dis nie ’n lekker beeld nie. As jy ’n plaasboer is, gaan jy nie jou lammertjies tussen wolwe laat loop nie. Tog is dit waarvoor Jesus ons roep. En Hy draai nie doekies om nie: Dit gaan moeilik wees; julle kan selfs julle lewens verloor. En dit het deur die eeue al soveel keer gebeur. 


Maar tweedens is daar vreugde. Net nadat Jesus in Lukas 10 gesê het Hy stuur ons soos lammertjies tussen die wolwe in, sê Hy ons moet baie bly wees. Ons moet baie bly wees dat ons name in die Boek van die Lewe geskryf is. Daar’s eintlik net twee dinge wat op ’n dissipel se pad kom: moeilikheid en vreugde. Want die vreugde van die hemel, die blydskap van die Heilige Gees word in ons lewe uitgestort. En daarom kan ’n Christen sing al huil ons, dans al gaan dit swaar. C.S. Lewis het gesê: “Christene met hulle oog op die ewigheid maak die grootste verskil op die hier en nou.” Ons weet ons is op pad na die Here toe. Ons weet ons het ’n huis by God. Daarom kan ons met vreugde lewe. 


Dan is daar ’n derde V: vrygewigheid. Jesus se dissipels het geleer om te deel. Om weg te gee, om vrygewig te leef. Handelinge 20:35, Handelinge 4:34 en 2 Korintiërs 8:1-5 is maar enkele voorbeelde van Christene wat hulle geld gedeel het sodat honger Christene kon eet. Vrygewigheid is deel van ’n dissipel se lewe. Vrygewigheid is in 2 Korintiërs 6 se taal: “Al is ek self brandarm, dan maak ek ander mense ryk.” 


Die lewe van ’n dissipel is ’n uitdagende lewe. Dit is ’n lewe van kruis-dra. Dis ’n lewe van opoffering. Dis ’n lewe van gehoorsaamheid. Maar dit is ook ’n lewe waar ek die Here beter sien, en beter verstaan, en meer sorgvry lewe. Waar ek meer vreugde kan hê en saam met die Here Jesus kan dans, want Hy hou sy lammertjies veilig in sy hande. En daarom kan ek ’n lewe van vrygewigheid leef. Ek wil jou uitdaag om ’n dissipel van Jesus te wees. Tel jou kruis op en volg Hom. Jy gaan jou lewe verloor, maar verloor dit vir Jesus. Jy gaan alles wen. Volg Hom. Dit is deur en deur die ewigheid werd. 

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Op Jesus Se Hakke

Om Jesus se volgelinge te wees in ’n stukkende wêreld is beslis nie kinderspeletjies nie. Maar dit is elke kind van God se roeping; daarom belowe Hy om elke stap van die pad saam met ons te wees wanneer ons onsself toewy...

More

Ons wil graag RightNow Media South Africa bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.rightnowmedia.org/promo/op-jesus-se-hakke

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid