Leesplan inligting

Die Stryd in jou Gedagtes DagstukkiesVoorbeeld

Die Stryd in jou Gedagtes Dagstukkies

DAG 9 VAN 14

Positiewe Geloof

Teen alle hoop in het Abraham met vaste hoop geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word op grond van God se belofte: “Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel.” En Abraham se geloof het nie verswak nie, al het hy baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns alreeds gedaan was – hy was al omtrent 100 jaar oud – en dat sy vrou Sara nie meer kinders kon hê nie. Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee. Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het. - ROMEINE 4:18-21

Die verhaal van Abraham verbaas my, ongeag hoeveel keer ek dit lees. Dit is nie net die geboorte van 'n seun toe hy honderd jaar oud was nie. Dis ‘n wonderwerk. Maar net so verstommend is die inligting dat hy vyf-en-twintig jaar gewag het vir die vervulling van die belofte. Hy was vyf-en-sewentig toe God hom 'n seun belowe het. 

Ek wonder hoeveel van ons sou God glo en vyf-en-twintig jaar in afwagting geleef het. Die meeste van ons sou waarskynlik gesê het: ‘’Ek het nie regtig van God gehoor nie.’’ ’’Ag, ek dink nie God het dit regtig bedoel nie.’’ Of: ‘’Ek moet êrens anders gaan om 'n nuwe woord van die Here te kry.’’

Sarah en Abraham het wel probleme gehad om aan hierdie belofte vas te hou. As 'n manier om te probeer kry wat hulle wou hê, het Sara se slavin, Hagar, vir hom 'n seun gebaar, maar God het hom laat weet dat dit nie die manier was waarop dit gaan plaasvind nie. Ek glo dat hul optrede die koms van die beloofde kind van God vertraag het.

In ons ongeduld neem ons sake dikwels in eie hande. Ek sê altyd ons kry ‘’blink planne’’ - ons eie planne, wat ons hoop dat God sal seën. Hierdie planne maak die deur oop vir verwarring en chaos. Dan moet ons die gevolge dra en dit behels dalk dat ons wonderwerk vertraag word.

Toe Moses van die berg Sinaï af gekom het, nadat hy die Tien Gebooie van God ontvang het, het hy die boosheid van die Israeliete gesien, wat al baie ongeduldig was oor die lang wag. Woedend het hy die tablette waarop God die gebooie geskryf het vernietig. Alhoewel ons Moses se woede kan verstaan, moet ons onthou dat dit nie deur God geïnisieer was nie. Daarom het Moses weer teen die berg Sinaï opgeklim en weereens deur die proses gegaan om die Tien Gebooie te ontvang. Moses het dalk vir ‘n klein rukkie emosionele verligting ervaar, maar dit het hom baie werk gekos. Dit is ‘n goeie les vir ons almal. Ons moet eerstens bid en saamstem met God se plan, nie beplan en bid dat ons plan sal werk nie.

Dikwels is dit baie moeilik om God te glo en jaar na jaar te wag.

Soms kom mense ná my vergaderings na my toe en vertel my baie hartseer verhale. Ek moedig hulle aan om positief en optimisties te word. Sommige mense sal luister na elke woord wat ek sê, knik, miskien selfs glimlag, en dan sê hulle die negatiefste woord van almal: ‘’Maar...’’ Met daardie enkele woord ontken hulle alles wat ek gesê het. Dit is nie die gees van Abraham nie.

Die Bybel gee aan ons beloftes, hoop en bemoediging. God belowe die beste vir dié van ons wat Hom dien. Ondanks die teenspoed van ons omstandighede - en sommige mense het absoluut vreeslike situasies - beloof God steeds goeie dinge. Ons gevoel van goedheid is egter miskien nie dieselfde as God s'n nie. Om onmiddellik te kry wat ons wil hê, is miskien nie die beste vir ons nie. Soms is dit beter om te wag, want dit help om die karakter van God in ons te ontwikkel.

Die Here kies om goed te doen aan ons en om ons gelukkig te maak; die duiwel kies om verkeerd te doen en om ons ellendig te laat voel. Ons kan geduldig bly en aanhou om God se beloftes te glo, of ons kan toelaat dat die bose een se gefluister ons ore vul en ons laat verdwaal.

Te veel van ons het die feit geïgnoreer dat God die skepper van wonderwerke is. Hy spesialiseer daarin om die onmoontlike te doen: Hy het 'n seun aan die onvrugbare Sarah gegee; Hy het die Rooi See oopgemaak vir die Israeliete om oor droë land te loop; Hy het Goliat met 'n enkele klip uit 'n slingervel vernietig. Dit is wonderwerke. Dit is die Heilige Gees wat besig is om die natuurwette te verontagsaam (Hy het die wette gemaak, sodat Hy dit kan verbreek).

Hebreërs 11 is 'n hoofstuk oor geloof en die volk van God wat dit gewaag het om die beloftes te glo. ‘’As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, beloon.’’ (v.6)

As ek na hierdie vers kyk, kan ek sien hoe die duiwel insluip. Hy sê vir ons: ‘’Ja, dit is waar. Dit was besonderse mense. Jy is niemand. God sal niks spesiaal vir jou doen nie. Waarom moet Hy? ‘’

Dit is 'n sataniese leuen - en een wat te veel mense maklik aanvaar. God het elkeen van ons lief, en die Bybel sê dat Hy ons Vader is. Enige goeie pa hou daarvan om goeie dinge vir sy kinders te doen. God wil goeie dinge vir jou en my doen.

Verwag 'n wonderwerk in jou lewe. Verwag baie wonderwerke.

Positiewe geloof in God se beloftes lewer goeie resultate, omdat die Goeie Een dit na ons toe stuur. Weier om op te gee, en jy sal die resultaat sien van jou positiewe geloof.

Liewe Vader in die hemel, vergewe my my gebrek aan geloof. Vergewe my dat ek Satan toegelaat het om my te mislei of te laat dink dat ek waardeloos of onwaardig is vir u wonderwerke. Ek is waardig omdat U my waardig gemaak het. U is die God van die onmoontlike, en ek vra U om my te help om op U te wag en nooit moed op te gee nie. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus, my Here. Amen.

Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

Die Stryd in jou Gedagtes Dagstukkies

Hierdie dagstukkies sal jou toerus met inspirasies van hoop om woede, verwarring, veroordeling, vrees, twyfel, te oorwin ... noem maar op. Hierdie insigte sal jou help om die vyand se komplot te ontbloot om jou te verwar...

More

Ons wil graag Joyce Meyer Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://tv.joycemeyer.org/afrikaans/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid