Leesplan inligting

Hoop: 'n Studie in die SkrifVoorbeeld

Hope: A Study in Scripture

DAG 8 VAN 12

HOOP EN HERINNERING


Deur Janice Harley  


“Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop: Dit is deur die troue liefde van die HERE dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut — groot is u getrouheid” — Klaagliedere 3:21-23 (AFR20).



Wanneer ek oor hoop dink, raak ek soms oorweldig met opgewondenheid omdat ek weet en glo dat iets wonderlik gaan gebeur. Ek weet nie wanneer nie. Ek weet nie hoe nie. Ek het net 'n selfversekerde verwagting diep in my siel dat my hart se begeerte, weerspieël deur die gebede wat ek honderd en een keer gebid het, beantwoord gaan word. Ek kan onthou hoe die goedheid van die Here in my lewe my beskerm, vir my voorsien, my troos en keer op keer lei.



In die boek, Klaagliedere, is Jeremia by 'n allerlaagste punt in sy lewe. Hy betreur 'n tragedie wat Jerusalem totaal en al oor haarself gebring het. Hy was in 'n situasie wat heeltemal hopeloos gelyk het. Die mense het teen hom gedraai en dit het gelyk of selfs God hom in die steek gelaat het. Sy oplossing vir sy hopelose toestand was om die goeie dinge wat God gedoen het te onthou. Hy het opgehou om oor homself te tob en begin onthou wie God is. Soos Jeremia, wanneer ons kan ophou om op onsself te fokus en ons gedagtes op God te rig, sal ons ingesteldheid vernuwe word.



Daar was 'n tydperk in my lewe wat dit gevoel het ek jaag 'n hopelose droom na. Ek het vir agt lang jare probeer om swanger te raak. Ek het na 'n baba gesmag. Ek het vir 'n baba gebid. Ek het gehuil, gesmeek en gepleit om 'n baba: 'n seun. Ek het die een mislukte swangerskap op die volgende deurgemaak — miskraam op miskraam. Ek het verlies op verlies betreur. 



Gedurende daardie tydperk het ek egter ook hoop gehad ... hoop dat God my gebede sou beantwoord. Hoop is 'n selfversekerde verwagting. Hoop is 'n rustige versekering dat iets wat nog nie gebeur het nie wel sal gebeur. Ek het hoop gehad want ek kon die goedheid en getrouheid van my liefdevolle Vader in herinnering roep. 



Hoop is 'n selfversekerde verwagting wat uit geloof spruit. My geloof was gegrondves in my herinneringe aan my verlede en nadenke oor die groot getrouheid van God. Was daar moeilike dae? Ja! Was daar dae wat ek gewonder het hoekom almal om my babas kry, behalwe ek? Ja! Tog het ek geloof gehad in 'n God wie se ontferming geen einde ken nie, wie se genade elke oggend nuut is en wie se troue liefde ons nooit in die steek laat nie. 



Sonder geloof is daar geen hoop nie. Omdat ek geloof in sy eindelose liefde vir my gehad het, kon ek nie deur my diep gebroke hart verteer word nie! As gevolg van hoop en die herinnering aan die goedheid, genade en krag van God, kon ek volhard, en nie opgee nie, totdat ek my gesonde, pasgebore seun in my arms kon vashou. Hoe lief het Hy ons nie! 



Nadenke: Dink na oor die vele maniere waarop God vir jou en jou gesin sy getrouheid gewys het.



Maak dit prakties en Bid: Het jy hoop van die Here nodig? Lees Klaagliedere 3:17-26, waar jy iemand sal kry wat bedroef is oor 'n desperate situasie, maar wat sy hoop en vertroue in die Here geplaas het. Wy dan tyd daaraan om oor jou situasie te bid.


Dag 7Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

Hope: A Study in Scripture

1 Korintiërs 13:13 sê: "En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!" Geloof, hoop en liefde is dié drie kenmerkende eienskappe van Jesus se volgelinge. Regdeur die Skrif word ...

More

Baie dankie aan Calvary Chapel Fort Lauderdale wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asb.: http://CalvaryFTL.org

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid