Leesplan inligting

Kom Ons GaanVoorbeeld

Let's Go

DAG 3 VAN 21


Gelei deur die Gees


Deur S. George Thomas


Amy, wat grootgeword het in kerke en godsdienstige skole met streng vereistes, kon nie wag om van hoërskool te gradueer en van al die reëls en voortdurende skuldgevoel los te breek elke keer as sy iets verkeerd gedoen het nie. Na skool het sy op haar eie manier begin leef en het sy haarself uiteindelik op die ouderdom van 19 jaar enkellopend en swanger bevind. Bang en met niemand om na uit te reik nie, het Amy alleen en verward gevoel — sodat sy 'n aborsie oorweeg het, al het sy geweet dit was nie die regte keuse nie. Sy het gesmag na iemand se liefde en aanvaarding. Sy het verlang dat iemand vir haar wou sê alles sal reg uitwerk. Sy het 'n vriend nodig gehad.


Amy het na 'n aborsiekliniek gegaan, en die sonartegnikus het vir haar gesê dat aangesien sy amper sewe weke swanger was, dit vir 'n aborsie te laat was en sy die baba sou moes hou of vir aanneming beskikbaar stel. Omdat Amy nie geweet het wat om te doen nie, het sy huis toe gegaan, steeds bang en eensaam. Uit die bloute het haar foon gelui. Dit was Sacha, 'n ou hoërskoolvriendin wat gedurende hul senior jaar deur 'n swangerskap gegaan het. Amy het Sacha vertel van haar situasie en die keuses waarmee sy geworstel het. Om haar aan te moedig en op te beur, het Sacha met haar gesels totdat sy seker was Amy het geweet dat hierdie swangerskap nie die einde was nie. Sacha het vir Amy gesê dit was maar net die begin, dat God getrou sou wees om alles ten goede te verander, en dat haar baba 'n geweldige seën sou wees.


Amy het gekies om haar baba te behou en het met die liefde van haar lewe getrou. Sy het geboorte geskenk aan 'n babaseuntjie en besluit om hom Jess te noem, wat "gawe van God" beteken.


Terwyl sy in 2008 by 'n vroue-konferensie by die Gateway Kerk was, het Amy gehoor hoe Christine Caine praat oor die soeke na God om sy roeping vir jou lewe te vind. Op die laaste oggend van die konferensie het God vir Amy 'n visie gegee: Sy het 'n blik op haar dag by die aborsiekliniek gehad, vol hartseer en eensaamheid; toe verskuif die visie na haar vol en gelukkige lewe met haar pragtige kinders en man. Dit het geëindig waar sy help om vir 'n enkellopende, swanger vrou ‘n ooievaarstee te reël. Daarna het Amy met haar vriendin, Salina, wat saam met haar by die konferensie was gepraat en uitgevind dat sý ook tydens die konferensie 'n woord ontvang het oor die hulp aan "mammas en babas!”


Ses maande later, na verskeie vergaderings en ‘n bietjie opleiding, het Amy en Salina 'n uitreik, "Embrace Grace", vir enkellopende swanger vroue begin. Hierdie groep bedien jong vroue deur hulle te bemoedig en te leer hoe God se genade alles bedek; hulle moes eenvoudig net sy gawe ontvang. Sedert die groep begin het, het hulle baie wonderwerke gesien en lewens wat verander. Dit het alles begin net omdat Amy se vriendin, Sacha, geluister het na die Heilige Gees se leiding om 'n eenvoudige telefoonoproep te maak.


Die boek Handelinge vertel ons van 'n ander individu wat sensitief was vir die stem van die Heilige Gees en sy leiding en oop was vir alles wat God in gedagte gehad het. Toe die vroeë kerk begin het, het dit so geweldig vinnig gegroei dat dit vir die apostels moeilik geword het om kos en geld aan sy behoeftige lidmate te versprei sonder om hulle primêre bediening van gebed en prediking te verwaarloos. Sommige weduwees het by hulle kom kla dat hulle oor die hoof gesien word en nie hulle regverdige deel ontvang nie. Hulle het besef dat iemand verantwoordelik moes wees vir die administrasie van die daaglikse bedrywighede van die kerk. Die twaalf apostels het 'n groep van sewe mans aangestel wat vol geloof, wysheid en die Heilige Gees was om toesig te hou oor hierdie kritieke behoefte. Filippus was een van hierdie sewe manne wat gekies is.


Eendag het 'n engel van die Here na Filippus toe gekom en vir hom gesê: "'... Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop'" (Handelinge 8:26). Alhoewel hierdie spesifieke pad vir 80 kilometer deur die woestyn gestrek het en hoewel hy nie die rede vir sy reis geweet het of waarheen dit hom sou neem nie, was Filippus aan God gehoorsaam en het hy gegaan — hy het geen vrae gevra nie en nie gehuiwer nie.


Ons weet nie hoe ver Filippus daardie warm, stowwerige 80 kilometer pad deur die woestyn geloop het voordat hy die geluid van 'n perdekar agter hom hoor aankom het nie. Terwyl die wa verby hom gery het, het Filippus 'n blik gekry op 'n hooggeplaaste Etiopiese amptenaar wat in die wa sit en 'n boekrol lees. Op daardie oomblik het die Heilige Gees met Filippus gepraat en vir hom gesê om die wa in te haal. Alhoewel die wa deur perde getrek is en Filippus te voet op pad was, het hy weereens nie gehuiwer of dit bevraagteken nie. Hy was eenvoudig gehoorsaam en het begin hardloop.


Toe Filippus nader aan die wa kom, het hy gehoor hoe die Etiopiese amptenaar 'n gedeelte van die Skrif uit die boek Jesaja hardop lees. Filippus het langs die wa gehardloop en vir die man gevra: "'... Verstaan u wat u lees?'" (Handelinge 8:30). Hy het geantwoord: "'... Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie ...?'" (Handeling 8:31). Die amptenaar het die wa gestop en Filippus genooi om in te klim en by hom te kom sit. Terwyl die twee mans voortgegaan het met hulle reis, het Filippus begin verduidelik hoe die gedeelte uit Jesaja 'n profesie was van honderde jare tevore wat onlangs deur Jesus, die Seun van God, vervul is; dat Hy gekruisig is, maar drie dae later uit die dood opgestaan het.


Hierdie goeie nuus het so sterk in die Etiopiër se hart weerklink dat hy opgewonde begin raak het. Toe hy 'n stroom water sien, het hy Filippus gevra: "'... Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?'" (Handelinge 8:36). Filippus het die man in die water ingelei en hom gedoop. Toe hulle uit die water kom, het Filippus skielik verdwyn! Nadat hy die Here gehoorsaam het deur te doen wat die Here wou hê, het die Heilige Gees Filippus wonderbaarlik weggeneem. Hy het later in die stad Asdod, sowat 30 kilometer van Gasa af verskyn, waar hy voortgegaan het om oral die evangelie te verkondig. Intussen het die amptenaar sy reis vol vreugde hervat en was hy opgewonde om die goeie nuus oor Jesus aan sy eie mense te verkondig.


Filippus, Sacha en Amy was almal waar God wou hê hulle moes wees ... op die regte plek, op die regte tyd. Nog belangriker, hulle was sensitief daarvoor om die Heilige Gees te hoor, te glo en te gehoorsaam. Omdat Sacha bereid was om die Heilige Gees se aansporing te gehoorsaam om haar vriendin te bel, is nie net Amy se lewe verander nie, maar uiteindelik haar gesin sowel as elke jong vrou wat na die "Embrace Grace" ondersteuningsgroep gekom het. Net so was Filippus sensitief vir die Heilige Gees se leiding, al het dit nie sin gemaak nie en aanvanklik 'n bietjie vreemd geklink. Nietemin het hy gehoorsaam, en omdat hy bereid en oop was om die Heilige Gees te hoor, te glo en te gehoorsaam, is die Ethiopiër se lewe verander en die lewens van almal met wie hy weer die evangelie gedeel het.


Is jy — soos Amy, Sacha en Filippus — ingestel op die Heilige Gees se stem en sensitief vir sy leiding? Vra die Heilige Gees vandag om jou die spesifieke maniere te wys waar Hy wil hê jy moet uitreik en sy liefde aan iemand bewys.


Memoriseer Vers

"Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly" (Matteus 16:19).


Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Let's Go

Hierdie 21-dag leesplan van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom" (Markus 16:...

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid