Leesplan inligting

Kom Ons GaanVoorbeeld

Let's Go

DAG 6 VAN 21


'n Druppel in die Emmer


Deur S. George Thomas


Taylor het die eerste keer van “Cans for Africa” gehoor terwyl hy gedurende sy eerste jaar op 'n leierskapsraad aan die Universiteit van Sentraal-Oklahoma gedien het. 'n Man van Kenia met die naam, John Kipsitet, het met die groep leiers kom praat oor “Cans for Africa” — 'n organisasie wat hy begin het omdat hy iets wou doen om kinders in Afrika te help wat deur VIGS geaffekteer is. Sy begeerte was om geld in te samel om 'n skuiling, 'n kliniek en 'n skool vir die weeskinders van Afrika te bou.


Die konsep agter “Cans for Africa” is gebore toe John die VSA die eerste keer besoek het en oral leë aluminium blikkies gesien het wat mense weggooi. Hy was stomgeslaan oor wat hy gesien het, want in Afrika is blikkies 'n waardevolle kommoditeit. Jy het nooit 'n blikkie op die grond gesien nie, want vir daardie mense het dit geld verteenwoordig. John het besef dat as mense net die blikkies in 'n houer vir herwinning sou plaas, hulle geld kon insamel en 'n ewige impak maak in die lewe van miljoene kinders wat in Afrika deur VIGS geraak word.


Toe Taylor van John se visie hoor, het hy verplig gevoel om op te tree. Op daardie stadium, was “Cans for Africa” nie veel meer as die visie van een man nie, en John het by die Universiteit van Sentraal-Oklahoma se leierskapsraad gaan hulp vra. Terwyl John gepraat het, het Taylor die woorde onthou wat Jesus in die Bergpredikasie gesê het: “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie?” (Matteus 5:46). Hy het besef dat Jesus nie dinge vir ander gedoen het op grond van wat Hy van hulle kon terugkry nie; Hy het dit gedoen uit die oorvloedige liefde in sy hart.


Taylor het gevoel hy word uitgedaag om buite sy gemaksone te beweeg en het dus besluit om betrokke te raak. Hy is aangestel as die leierskapsraad se verantwoordelike lid om oor die “Cans for Africa”-projek toesig te hou. Hy het dit sy missie gemaak om ondersteuning vir die organisasie te werf deur duisende pamflette te versprei om die projek bekend te maak. Saam het Taylor en John R308 000 ingesamel deur byna een miljoen aluminium blikkies te versamel.


Wat is 'n aluminium blikkie vir jou werd? Waarskynlik niks nie. Dit is 'n bietjie meer as 'n druppel in 'n emmer. Vir diegene wie se lewens deur “Cans for Africa” beïnvloed word, is 'n blikkie egter die verskil tussen lewe en dood.


Die Bybel vertel ons die verhaal van 'n seuntjie wat nie veel gehad het nie, maar die bietjie wat hy gehad het vir Jesus gegee het, en daardeur is duisende mense gevoed.


Jesus het die hele middag mense geleer en genees, maar nou het dit laat geword en mense het begin honger word. Omdat die dissipels nie die honger skare mense — ten minste tienduisend — wou voed nie, het hulle vir Jesus gevra om die skare huis toe te stuur sodat hulle vir hulleself kos kon kry. In plaas daarvan om hulle raad te volg, het Jesus vir sy dissipels gesê om self uit te gaan en die skare mense iets te gee om te eet. Die dissipels was verstom. Daar was absoluut geen manier waarop hulle genoeg kos bymekaar kon kry om so 'n groot hoeveelheid mense te voed nie.


Die dissipels het halfhartig rondgekyk of iemand dalk iets te ete saam met hulle gebring het. Petrus se broer, Andreas, het toevallig afgekom op 'n seuntjie wat sy middagete saam met hom gebring het om na Jesus te kom luister. Ons weet nie veel van die kind nie. Ons ken nie sy naam, sy ouderdom of waar hy vandaan gekom het nie. Wat ons wel weet, is wat hy gedoen het ... Hy het sy middagete — alles wat hy gehad het — vir Jesus gegee.


Die middagete was nie veel nie. Dit was net vyf stukkies brood en twee klein vissies. Dit het niks meer as 'n druppel in 'n emmer beloop in vergelyking met wat hulle nodig gehad het om 'n skare van vyf duisend honger mans, plus hul vroue en kinders, te voed nie. Die seun was waarskynlik huiwerig om selfs sy middagete aan te bied. In die lig van so 'n oorweldigende behoefte moes dit onbeduidend en selfs belaglik gelyk het. Die seun het nietemin sy middagete gegee. Hy het nie besluit om vir Jesus sy middagete te gee omdat dit logies of prakties was nie; hy het dit op grond van geloof gegee.


Jesus het die brood en vis geneem, God gedank dat Hy dit voorsien het en dit aan sy dissipels gegee om aan die skare uit te deel. Die dissipels het mekaar in verwarring aangekyk, hulle skouers opgetrek en voortgegaan om Jesus te gehoorsaam, hoewel hulle waarskynlik gedink het dat Hy die kluts kwyt was. Terwyl hulle die brood en die vis uitgedeel het, het iets wonderbaarlik gebeur. Hoe meer kos hulle uitgedeel het, hoe meer kos het bly verskyn! Nie net kon die dissipels die hele skare voed totdat hulle vol was nie, maar hulle kon twaalf mandjies vol oorskiet versamel!


Vir die oorgrote meerderheid mense is vyf stukkies brood en twee klein vissies of 'n aluminium blikkie heeltemal onbeduidend. Dit is 'n klein druppel in 'n massiewe emmer. Maar 'n klein druppeltjie in God se hande is meer as genoeg om 'n menigte mense te voed of 'n skuiling, kliniek en skool vir weeskinders in Afrika te help bou.


Wat van jou? Sal jy alles gee wat jy het — al dink jy dit is nie veel nie, dalk net 'n onbeduidende druppel in die emmer — in die hande van God oorgee? As jy gewillig is, kan God neem wat jy gegee het en dit wonderbaarlik gebruik om Hom te verheerlik.


Neem my lewe en laat dit geheilig word, Here, aan U ... neem my hart, dit is u s'n; dit sal u koninklike troon wees.
~ Frances R. Havergal

Memoriseer Vers

"… Wie onder julle ‘n leier wil wees, behoort julle dienskneg te wees. En wie die eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het Ek, die Seun van die Mens, nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en boonop my lewe te gee as 'n losprys vir baie mense“ (Matteus 20:26–28 NLV).


Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Let's Go

Hierdie 21-dag leesplan van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom" (Markus 16:...

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid