Leesplan inligting

Kom Ons GaanVoorbeeld

Let's Go

DAG 4 VAN 21


Reik uit ... en Raak Iemand Aan


Deur S. George Thomas


As 'n begaafde professionele baars-visserman, het Sonny ‘n goeie lewe gelei deur te toer, mee te ding op die ESPN TV kanaal en saam met bekendes by die beste restaurante in Amerika te eet. Hy was vinnig op pad om 'n miljoenêr te word, totdat hy in 'n verskriklike dwelmverslawing vasgevang is en al sy besittings begin verkoop het — sy huis, sy boot, sy Harley Davidson motorfiets ... alles.


Sonny was uiteindelik haweloos en het op die strate van Las Vegas gewoon. Vir agt maande het hy elke oggend wakker geword en mense se motorvensters gewas. Die meeste dae was "Dankie" al wat hy ooit sou sê as mense hom 'n fooitjie gegee het. Later in die dag het hy op 'n bus geklim, deur die stad gery om dwelms te gaan koop en dan teruggekom na waar hy in die veld langs 'n kerk geslaap het.


Sonny wou niks met God te doen gehad het nie, maar eendag het hy in die kerk ingestap omdat hy gehoor het dat hy 'n stort, kos en 'n stel skoon klere daar kon kry. Dit was drie maande sedert hy laas gestort het, en hy het so sleg geruik dat selfs die hawelose ouens hom begin vermy het. Tog, toe hy deur die deure van die kerk loop, het 'n vrou met die naam Michelle — 'n sokker-ma — reguit na Sonny gekyk en vir hom gesê: "Jy lyk asof jy 'n drukkie nodig het.”


Op daardie oomblik het Sonny gesê al wat hy wou doen, was om 'n geweer in sy mond te druk en die sneller te trek. Hy het na Michelle gekyk en gesê: "Jy wil my nie omhels nie."


Sy het gesê: "Ja ... jy lyk asof jy 'n drukkie nodig het.”


Ten spyte van die feit dat hy so sleg geruik het, het Michelle na Sonny geloop en hom omhels. Terwyl sy in sy oë kyk, het sy gesê: "Jesus het jou lief.”


Sonny het later gesê: "Ek was maande laas omhels. Met al die straatpredikers wat ek teëgekom het, al die traktaatjies wat mense my gegee het en al die "Christelike dinge" wat ek in my lewe gesien het, het niks my voorberei vir daardie oomblik van ware menslike kontak nie." Terwyl hy Michelle in die oë gekyk het, was sy hart diep bedroef.


Sonny het gaan stort, skoon klere gekry en 'n Bybel uit die kerk se biblioteek uitgeneem. 'n Paar weke later het hy op sy knieë gegaan en gebid: "Here, ek is klaar. Ek weet nie hoe ek hierdie verslawing gaan oorkom nie. Ek weet nie hoe ek vorentoe kan beweeg nie, maar ek gee my lewe aan U oor.”


Vier jaar later … Sonny het getrou en het sy eie onderneming begin. Terwyl hy een oggend na die nuus gekyk het, het hy gehoor dat die burgemeester van Las Vegas 'n wet wou proklameer wat individue verbied om die haweloses te voed. Jy mag hulle nie 'n toebroodjie of 'n bottel water gee nie, niks nie. Toe Sonny dit hoor, het iets in hom in opstand gekom: "Dit is net verkeerd." Hy het toe ‘n saak aanhangig gemaak om hierdie mosie van die burgemeester van Las Vegas teen te staan.


Toe Sonny se klagte uiteindelik aangehoor is, het die regter daarna gekyk en verklaar: “Dit is ongrondwetlik om doelbewus teen 'n spesifieke groep mense te diskrimineer,” en hy het die saak uitgegooi.


Die rede waarom jy dus vandag vir iemand 'n toebroodjie op die strate van Las Vegas kan gee, is omdat 'n voormalige hawelose man, Sonny, deur 'n sokker-ma, Michelle, omhels is. Deur hulself in Christus te sien, het hulle albei verander om 'n verskil in die wêreld te maak.


Die evangelies vertel ons dat wanneer Jesus iemand in nood teëgekom het, was Hy nie net 'n passiewe toeskouer wat bemoedigende woorde aangebied het nie. Hy het altyd gereageer deur aktief uit te reik en hulle lewens aan te raak, of dit nou fisiek, emosioneel of geestelik was. Hy roep elkeen van ons om sy voorbeeld te volg en dieselfde te doen — om sy hande en sy voete te wees vir diegene met wie ons elke dag in aanraking kom.


Dis wat "uitreik" regtig is … om net uit te reik na iemand. Stel jou voor watter verskil jy kan maak as jy God net toelaat om jou te gebruik om uit te reik en diegene in nood om jou aan te raak!


As ons net 'n bietjie meer soos [Jesus] kan wees, sal die wêreld herskep word.
~ Bono

Memoriseer Vers


"… Wie onder julle ‘n leier wil wees, behoort julle dienskneg te wees. En wie die eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het Ek, die Seun van die Mens, nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en boonop my lewe te gee as 'n losprys vir baie mense" (Matteus 20:26–28 NLV).


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Let's Go

Hierdie 21-dag leesplan van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom" (Markus 16:...

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid