Leesplan inligting

Kom Ons GaanVoorbeeld

Let's Go

DAG 7 VAN 21


Doen Iets


Deur S. George Thomas


Het jy al ooit na die nuus gekyk, na die radio geluister of in die kerk gesit en 'n verhaal oor 'n krisis of onreg in die wêreld gehoor en by jouself gedink: “Iemand moet iets doen”?


Het jy al ooit die oorsprong van daardie gedagte oorweeg? Waar het daardie gedagte vandaan gekom? Dink jy dalk ... net dalk ... kon daardie gedagte van God af gekom het? Dalk wil Hy hê jy moet die iemand wees wat iets doen?


Nancy Zirkel en haar man, Doug, het die eerste keer van die VIGS-pandemie gehoor toe Prinses Zulu by hul kerk kom praat het. Prinses Zulu het in Zambië grootgeword en haar baba suster aan VIGS verloor ... toe haar ma ... en daarna haar pa. Toe sy 14 jaar oud was, het sy die skool verlaat en swanger geraak. Op 17-jarige ouderdom het Prinses met haar kêrel getrou, 'n man 25 jaar ouer as sy, en wat reeds twee vroue aan VIGS verloor het. Nou, op 28-jarige ouderdom, is sy MIV-positief. Hoewel sy weet dat sy eendag haar twee dogters, Joy en Faith, sal agterlaat, sê Prinses dat God aan haar vreugde en hoop te midde van haar verpletterende omstandighede gegee het. As gevolg van haar begeerte om alles in haar vermoë te doen om ander te help wat met MIV geïnfekteer is, reis Prinses nou regoor die wêreld om mense van die VIGS-krisis in Afrika te vertel en hulle aan te moedig om iets te doen om die verspreiding daarvan te beveg.


Toe Doug en Nancy hoor hoe prinses Zulu praat oor die verwoestende gevolge van die MIV/VIGS-pandemie, was hulle oorweldig deur die feit dat die grootste humanitêre krisis in die geskiedenis tans plaasvind en hulle het nie enigiets daarvan geweet nie. Hulle het gedink: “Ons moet iets doen! Ons moet help. As ons niks hiervan geweet het nie, weet die meeste mense wat ons ken — ons familie en vriende — waarskynlik ook niks hiervan nie. As hulle geweet het, sou hulle beslis iets wou doen.”


Daarom het die Zirkels besluit om bewustheid van hierdie wêreldwye krisis te bevorder deur 'n partytjie te hou en almal wat hulle ken na hul huis te nooi. Hulle het Prinses Zulu gevra om aan 50 van hul vriende en familie te kom verduidelik wat in Afrika gebeur as gevolg van VIGS. Hulle doel was om die gaste te vra om kinders wat wees gelaat is, te borg. Oor daardie aand sê Nancy: "Ek en Doug het beplan om almal se hulp aan die einde van die aand te vra om 'n kind in Afrika deur Wêreld Visie te borg. Ons wou ook seker maak dat mense, nadat die aand verby is, sal help om bewustheid te bevorder. Ons het gedink dit sal 'n goeie idee wees om almal te nooi om op hulle beurt, 'n partytjie vir hul eie vriende en familie te hou. Ek is gekies om met my familie en vriende te praat, en ek was baie senuweeagtig daaroor. Net voor ek my toespraak moes lewer, het ek kleinkoppie begin trek en vir my man gesê: "Ek kan dit nie doen nie! Jy moet voortgaan en dit doen!" Doug, wat 'n wonderlike en ondersteunende man is, het eenvoudig gesê: "Jy kan dit doen. Ek weet jy kan dit doen. Gaan nou." Hy het my net die bietjie aansporing gegee wat ek regtig nodig gehad het. Terwyl ek vorentoe gestap het, het ek ‘n vinnige skietgebed opgesê: "Help my asseblief, Here. Gee my die moed en plaas die regte woorde in my mond." Ek het almal gevra of hulle sou belangstel om 'n soortgelyke partytjie te hou. Ek het vir hulle gesê: "As twee of drie van julle ouens partytjies hou, en twee of drie van julle vriende hou ook partytjies, kan dit groei en vermenigvuldig. Wie weet hoeveel kinders geborg kan word en hoeveel lewens gered kan word!"


As gevolg van daardie aand het nuwe deure vir die Zirkels begin oopgaan en wonderlike dinge het gebeur. Wêreld Visie het hulle genader oor hul idee om huispartytjies te hou, en dit verder te voer tot 'n nasionale program om dit in kerke regoor die Verenigde State te bevorder. Nancy is ook gevra om met 'n groep kinders van kleuterskool tot graad vyf te praat oor hoe hulle betrokke kan raak om kinders in Afrika te help wat VIGS het. Omdat Nancy geweet het baie kinders voel dat hulle nie regtig iets betekenisvol kan doen nie omdat hulle jonk is en nie aandag trek nie, wou sy hê hulle moet ten volle verstaan dat die teenoorgestelde waar is. Daarom het sy met hulle gepraat oor hoe die apostel Paulus vir Timoteus in 1 Timoteus 4:12 (NLV) gesê het: "Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie ..." Nancy het toe vir elkeen van die kinders 'n klein spaarbussie gegee om met kleingeld te vul. Binne 'n paar weke het die kinders meer as R235 000 ingesamel! Nancy onthou daardie oomblik en sê: "Dit was ongelooflik! Hierdie kinders het ingekom met hul spaarbussies gevul tot bo. Hulle het hul munte in emmers gegooi. Daar was soveel kleingeld dat sommige van die emmers se handvatsels gebreek het omdat hulle so swaar was! Hierdie kinders het egter aangehou om geld met vreugdevolle harte en in 'n gees van barmhartigheid in te samel ... dit was net pragtig om te aanskou.”


Vir Nancy en Doug het die daad van om te "gaan" eenvoudig begin deur vriende en familielede na hul huis te nooi. Toe God 'n las op hulle harte geplaas het, het hulle nie passief teruggesit en gesê: “Iemand moet iets doen” nie. Nee, hulle het besluit om tot aksie oor te gaan. Hulle bereidwilligheid om God se leiding te vertrou en te gehoorsaam, het vrugte afgewerp op maniere wat hulle nooit kon droom nie. Hul eenvoudige daad van gehoorsaamheid het tot 'n kettingreaksie gelei wat die lewens van tallose kinders beïnvloed het.


Dalk is die gedagte oorweldigend om uit te gaan en iets te doen wat God jou lei om te doen. Dalk weet jy nie eens waar om te begin nie. Dis alles reg. Jy hoef nie iets groots of ingewikkeld te doen nie. Vra eenvoudig vir God om jou te wys hoe jy sy leiding kan gehoorsaam. Tree dan op en vertrou Hom om getrou te wees om die res te doen.


Groot dade het 'n klein begin. Elke stortreën begin met een reëndruppel; elke vuur begin met een vonk; elke oes met 'n saadkorrel; elke reis met 'n tree, want sonder daardie tree sal daar geen reis wees nie; sonder daardie reëndruppel kan daar geen stortreën wees nie; sonder daardie saadkorrel kan daar geen oes wees nie.
~ William Wilberforce

Memoriseer Vers


"Maar hoe sal hulle Hom aanroep as hulle nie in Hom glo nie? En hoe sal hulle in Hom glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe sal hulle van Hom hoor sonder dat daar iemand is wat die boodskap bring? En hoe sal hulle die boodskap bring as hulle nie gestuur word nie? Daarom sê die Skrif: 'Hoe lieflik klink die voetstappe van hulle wat die Goeie Boodskap bring!'" (Romeine 10:14–15 NLV).


Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Let's Go

Hierdie 21-dag leesplan van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom" (Markus 16:...

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid