Leesplan inligting

Kom Ons GaanVoorbeeld

Let's Go

DAG 2 VAN 21


Altyd met Jou


Deur S. George Thomas


“Die armes sal julle altyd met julle hê.” As 'n jong meisie, het Jessica Jackley se hart ontsteld geraak wanneer sy hierdie woorde in haar Bybel gelees het. Aanvanklik was sy vreesbevange oor die gedagte dat arm mense haar deur haar hele lewe gaan agtervolg en iets van haar gaan vra. Toe lees sy Jesus se woorde in Matteus 25:40 “'… Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen'”, en dit het haar houding teenoor die armes begin verander.


Jessica het in Pittsburgh grootgeword en het verskeie ervarings gehad wat 'n passie vir die armes in haar laat vlam vat het. By die kerk het sy talle sendelinge regoor die wêreld hoor praat oor mense oorsee wat in haglike omstandighede lewe. Sy het elke maand geld gegee om 'n kind in 'n Derdewêreldland te borg en te voed, en toe sy in die hoërskool kom, het Jessica verkies om in haar lentevakansie op ‘n sendingreis na Haïti te gaan. Om te sien hoe kinders van haar eie ouderdom die hele dag deur werk — net sodat hulle iets te ete kon kry — het 'n blywende indruk in haar hart gelaat.


'n Paar weke nadat sy van Haïti teruggekeer het, was sy besig om gereed te maak vir haar matriekafskeid toe die gedagte haar skielik tref: "Hoewel dit voel asof daardie kinders in Haïti ‘n wêreld ver verwyderd is, is hulle nie regtig nie. Hulle is net 'n vliegrit ver. Hulle is nie onbereikbaar nie. Ek gaan iets met my lewe doen om hulle te help.”


Sy het daaroor nagedink en besluit die beste manier om 'n verskil te maak in plekke soos Haïti, was om betrokke te raak by die regering, en daarom het Jessica besluit om by Bucknell Universiteit in Lewisburg, Pennsylvania te gaan studeer waar haar hoofvakke filosofie en politieke wetenskap was. Sy het voortdurend haar passie uitgeleef om diegene in nood te help deur by “World Vision” ‘n internskap te volg. Gedurende haar eerste jaar op universiteit het sy ingeskryf vir 'n studieprogram, "Semester at Sea", en vir drie maande om die wêreld op 'n skip gevaar en verskeie lande besoek. In haar finale jaar, het Jessica die “National Prayer Breakfast” in Washington, D.C bygewoon waar sy Matt Flannery, 'n student van Stanford Universiteit in Kalifornië, ontmoet het. Die twee was dadelik aangetrokke tot mekaar en het gou 'n langafstandverhouding begin.


Kort nadat sy gegradueer het, het Jessica na Kalifornië verhuis en 'n werk by Stanford Besigheidskool gekry terwyl Matt aan sy meestersgraad gewerk het. By die kerk het hulle by 'n 13-week voor-verlowingsklas aangesluit en met ander paartjies vergader om oor belangrike lewenskwessies soos geloof, familie en finansies te praat. Een week, ongeveer halfpad deur die kursus, het die groeplede hul langtermyn loopbaandoelwitte begin bespreek. Matt het begin: "Ek wil in die Bay Area woon en by 'n hoëtegnologie, opkomende maatskappy in Silicon Valley werk." Jessica het hom toe opgevolg deur te sê: "Wel, ek wil in Afrika woon en met finansiering werk om die armes te help." Skielik was dit baie ongemaklik. Daar was 'n oorverdowende stilte in die vertrek, want almal — insluitend Matt en Jessica — het besef hulle het 'n probleem wat hulle sal moet oplos.


'n Jaar later is Matt en Jessica getroud ten spyte van hierdie saak, want hulle het gerasionaliseer dat die situasie uiteindelik op een of ander manier vanself sou uitwerk. Ses maande na hul huwelik het Jessica die geleentheid gekry om haar droomwerk na te streef deur aan boere in landelike gebiede van Oos-Afrika, 'n ses-maande opleidingskursus in sake, befondsing en mentorskap aan te bied. Sy het die aanbod aanvaar en na Afrika vertrek terwyl Matt in die San Francisco Bay Area agtergebly het om op sy nuwe werk by TiVo Inc. te fokus.


Terwyl Jessica in Afrika was, het Matt 'n paar weke verlof geneem om haar te besoek. Tydens daardie reis het die paartjie gebid en besluit om hul individuele passies te kombineer en Kiva.org te stig — 'n mikro-finansieringswebwerf wat 'n persoon van enige plek in die wêreld toelaat om klein bedrae geld direk aan 'n entrepreneur in 'n Derdewêreldland te leen wat andersins geen befondsing sou kry nie. Dit help op sy beurt die armes wat die lening ontvang om die lewe vir hulself, hul gesinne en uiteindelik hul gemeenskappe te verbeter.


Aanvanklik het Matt en Jessica hul webwerf as niks meer as 'n stokperdjie beskou nie — 'n klein bysaak — waarby hul vriende en familie betrokke kon raak. Inligting oor die Kiva-projek het egter soos 'n veldbrand versprei. Gou het hul webwerf gemiddeld meer as 'n miljoen besoeke per dag gekry, en Matt het besluit om sy werk by TiVo te bedank om voltyds op Kiva te fokus.


Wat begin het as 'n eenvoudige begeerte om Jesus se oproep te volg om diegene in desperate nood te help, het uiteindelik tot 'n klein webwerf-stokperdjie ontwikkel wat nou verander het in 'n massiewe internasionale nie-winsgewende organisasie wat al verskyn het op The Today Show, The Oprah Winfrey Show, CNN, FOX News, TIME Magazine en The Wall Street Journal. Vandag help Kiva die armes regoor die wêreld deur elke 24 uur meer as R1,5 miljoen in lenings te versprei! Meer as 500 000 individue uit 182 verskillende lande het byna R1,6 biljoen aan 228 000 entrepreneurs in ongeveer 50 lande geleen. Wat nog meer verstommend is, is dat Kiva se huidige terugbetalingskoers vir hul lenings 98,5% is!


Vandat Jessica 'n dogtertjie was, het God 'n droom diep in haar hart geplaas om die armes te help. Hy het die hele tyd geweet watter kinkels en draaie haar lewe sou neem. God doen niks per toeval of sommer nie. Hy bring spesifieke mense en ervarings in ons lewens wat ons vorm vir sy doeleindes. Jessica se lewe is 'n pragtige voorbeeld van hoe God ons voetstappe lei om sy doel te bereik … om sy koninkryk te bevorder. As gevolg van haar passievolle en onwrikbare begeerte om te volg en oor te gee aan God se leiding, het Hy die gebeure en geleenthede in haar lewe geskep wat haar stap vir stap, bietjie vir bietjie, gelei het tot waar sy nou is — 'n jong vrou wat haar droom nastreef om 'n groot verskil in die wêreld te maak deur hoop te bied aan diegene wat geen hoop het nie.


God wil jou gebruik ... jou stuur. Moenie dink jy is te jonk of te oud vir Hom om jou te gebruik nie. Ongeag jou ouderdom, is sy planne vir jou soveel groter as wat jy ooit kan dink. Wat roer jou hart? Watter brandende passie het God vir jou gegee? Moenie moeg word en moed verloor nie. Die drome wat Hy in jou hart geplaas het, sal Hy bereik — op wonderlike, kreatiewe en onverwagte maniere — as jy kies om Hom te soek, Hom te vertrou en Hom te gehoorsaam. Vra jouself vandag af: "Is ek bereid om vir God se wil vir my lewe oop te wees?”


Memoriseer Vers

"Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly" (Matteus 16:19).


Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Let's Go

Hierdie 21-dag leesplan van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom" (Markus 16:...

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid