Leesplan inligting

Begin Hier | Eerste Treë Saam Met JesusVoorbeeld

Start Here | First Steps With Jesus

DAG 7 VAN 15

Markus 12-13 | Vir die Liefde van God


Welkom terug, almal. Vandag gesels ons oor twee teenoorgestelde onderwerpe: geestelike skynheiligheid en onvoorwaardelike liefde. Die teenstrydigheid tussen hierdie twee is nog steeds so opmerklik soos dit altyd was. Skynheiligheid dryf ons met afkeer weg van godsdiens — en tog roep die uitsonderlike liefde van God ons terug. Hoe versoen ons so 'n verskil? 


Hier, in die evangelie van Markus, is dit juis dié konsep wat ons verhaal uitlig. Ons volg nou al vir 'n week lank Jesus se verhaal, maar vir die dissipels is daar al drie jaar verby en Markus 12 bring ons tot by die laaste week van Jesus se lewe op aarde. Die plek is Jerusalem, en groot skares het van oral in Israel gekom om die Pasgafees te vier.


Pasga is 'n godsdienstige fees waartydens die Jode hulle vrylating van slawerny herdenk, en God wat hulle van die dood gered het deur die die bloed van 'n lammetjie. Vir eers moet jy net kennis neem dat die stad vol mense was vir die feestyd en dat almal oor Jesus gepraat het. Die opinies omtrent Jesus het hemelsbreed verskil. Baie is verstom oor sy wonderwerke en leringe, maar die geestelike leiers is kwaad. Hulle verag Jesus se deernis — hulle kan nie sy liefde vir sondaars verstaan nie. 


Hoe is dit moontlik dat sommige mense lyk of hulle so toegewyd aan God is en tog geen liefde het nie? Hulle het God se wette bestudeer, en tog het hulle die doel totaal en al gemis. Jesus het hulle skynheiliges genoem, mense wat God met hulle monde eer, maar wie se harte ver van Hom af is. (Markus 7:6) Toe Jesus vroeër in die week daar aangekom het, het Hy uitgevind dat hulle Pasga verander het in net nog 'n geleentheid om geld uit mense uit te kry. 


Die konflik hier, vat vir my die teenstrydighede van deesdae se Christen praktyke goed saam. Jesus het ons opdrag gegee om lief te hê. Christene moet aan hulle liefde herken word. Tog is ons so dikwels bekend vir ons bevooroordelende, deernislose skynheiligheid. Ons lyk soos die mense teenoor wie Jesus uitgesproke was. Dit behoort nie so te wees nie.


Wat die geestelike leiers betref; Jesus het telkemale hulle gierigheid en verwaandheid blootgelê, en nou het hulle 'n manier gesoek om Hom dood te maak. In hoofstuk 12 daag hulle Jesus uit met 'n ton vrae. Hulle bevraagteken sy gesag en probeer om Hom onkant te vang met 'n paar strikvrae oor God se wette. Die ironie is dat hierdie manne, wat so toegewyd was aan die kleinighede van God se wette, die kern van daardie wette gemis het. 


Daar was egter een wat nie soos die ander was nie. Kyk na vers 28: 


"Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle 'n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: 'Wat is die heel grootste gebod?'”

Goeie vraag. 


"Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.'” (Markus 12:29-30)

Die grootste gebod begin dus met die herinnering dat die Here een is. Die Bybel leer ons dat die Vader God is, Jesus is God, en die Heilige Gees is God. Tog is al drie verenig as een Here. Die opdrag is om God met alles lief te hê! Jesus gaan voort:


"Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ " Geen ander gebod is groter as dié twee nie.” (Markus 12:31).

Die wet word dus in liefde opgesom. God se wil vir ons is meer as net 'n wetboek. Dit is liefde: wees lief vir God en ander mense. Vers 32:


"'Pragtig, Meneer!' sê die skrifgeleerde vir Hom. 'Dit is waar wat u gesê het …'"

Sjoe. In 'n skare van skynheiliges vra een man 'n opregte vraag en neem die antwoord ter harte. Hy toon nederigheid en wanneer Jesus die man se wysheid sien, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”


Kyk nou na die kontras. Die skynheiliges praat oor die die wet, met hulle harte ver van God af. Hierdie man kom nader aan God se koninkryk wanneer hy verstaan dat liefde die kern van die wet is. Wees lief vir God en ander mense. 


Die liefde waarnatoe Jesus ons roep, is 'n rewolusie. Wees lief vir jou naaste, die sondaars en jou vyande. Onvoorwaardelike liefde — met onverdiende genade en oorvloedige guns. Ons grootste werke vir God is waardeloos en leeg as ons nie liefhet nie. (1 Korintiërs 13:1-3)


Hier vind ons nou 'n ander kant van die Christenverhaal. Mense wat deernis, in plaas van oordeel toon. Wat die uitsondelikste dade van selfopofferende liefde onderneem — om vir die weeskinders en weduwees te sorg, vir die minste en uitgeworpenes — ongeag hulle ras of geloof of godsdiens of geslag of seksualiteit of enigiets. Hulle offer hulle lewens op. Hierdie mense verstom my. Hulle gee net … liefde. 


Ek bid dat jy ook so geseënd is om sulke mense te ken. Ek bid selfs nog meer; dat ons sulke mense sal wees. Waar kan ons hierdie liefde aanleer? Hou net aan om Jesus te volg en jy sal gou uitvind. 


Vir Oordenking en Bespreking



  • Wat sê Jesus is die twee grootste gebooie? (v 29-31) Hoekom dink jy is hierdie twee so belangrik?

  • Het jy al mense geken wat op God se wette fokus en die hart van God se liefde mis? Hoe dink jy gebeur dit? ;

  • Het jy al mense geken wat God se onvoorwaardelike liefde op egte en praktiese maniere betoon? Deel hulle verhaal.

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Start Here | First Steps With Jesus

As jy onlangs tot bekering gekom het, nie die Bybel ken nie, of 'n vriend help — Begin Hier. Vir die volgende 15 dae sal hierdie 5-minute klankgidse jou stap-vir-stap deur twee fundamentele Bybelboeke neem: Markus en Kol...

More

Ons sê baie dankie aan "Through The Word" wat hierdie leesplan verskaf het. Besoek asseblief http://throughtheword.org vir meer inligting

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid