Leesplan inligting

Begin Hier | Eerste Treë Saam Met JesusVoorbeeld

Start Here | First Steps With Jesus

DAG 10 VAN 15

Kolossense 1 | Leef Dit Uit 

Welkom terug, vriende — ons het dit gedoen! Ons het Jesus deur die evangelie van Markus gevolg. Wat is nou volgende? Wel, nou volg ons Jesus. Ek weet — ons het dit al voorheen gedoen. Nou is dit egter anders. Aan die einde van Markus het Jesus se dissipels gekyk hoe Hy in die Hemel opvaar. Wonderlik! Na hulle Hom drie jaar lank gevolg het, wat moes hulle nou doen? 


Wel, voor hy weg is het Jesus vir hulle die Sendingopdrag gegee: 

"Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels …" (Matteus 28:19) 

Onthou — dissipel beteken volgeling. Die eerste dissipels is dus geroep om meer dissipels te maak — net soos ons. 

En hulle het dit gedoen! Die boek van Handelinge vertel wonderlike verhale van hoe hulle die wêreld met die evangelie bereik het. Ek wens ek kon sê dat alles sedertdien goed verloop het, maar dit het nie. Die Christenkerk het baie goeie werk op aarde gedoen, maar ons het ook skade aangerig. Dit het toe al begin — korrupsie, gierigheid, skynheiligheid — dit het vroeg al begin. Daar was tog ook goeie dinge: meegevoel, hoop en genade. As ons die ding gaan doen, kom ons doen dit reg. Kom ons leef dit uit. 

Maar hoe leef ons dit uit? Ek kan sê: "Hou op om slegte dinge te doen en begin om goeie dinge te doen." Dan werk ons egter van die buitekant af na binnetoe — dis 'n resep vir skynheiligheid. Jesus verander ons van die binnekant af na die buitekant toe. Hoe werk dit? Kom ons gaan kyk in die Bybel en vind uit.


Na die boek van Handelinge is daar 'n reeks persoonlike briewe wat deur die apostels geskryf is, met voorskrifte hoe om Jesus nou te volg. Valse godsdiens het alreeds vroeg die kerk binnegedring, dus is die briewe geskryf om die gelowiges te help om die leuen van die waarheid te onderskei en daarvolgens te leef. 


Dit is dus waarheen ons volgende gaan: na Kolossense. Dit is deur die apostel Paulus aan die Christene in Kolosse geskryf. Hulle was splinternuwe gelowiges, so dit pas ons goed. Vandag, in hoofstuk een, vind ons drie noodsaaklikhede om hierdie ding reg te doen: genade, die Heilige Gees en om Jesus te ken. 

Die brief begin met 'n vriendelike groet van Paulus en ek hou van hoe persoonlik hierdie briewe is. Amper elke brief begin met genade. Dit was 'n algemene groet, maar ook 'n fundamentele waarheid. Genade is 'n geskenk; ons verdien dit nie en is dit nie werd nie. God het ons net lief omdat Hy vir ons lief is — dis genade. Ons moet genade verstaan om ons geloof te begin uitleef. 


Hier, in Kolossense, begin Paulus om God te dank vir die ongelooflike werk wat Hy in die lewe van hierdie nuwe Christene doen: hulle geloof, hulle liefde en hulle hoop. En Paulus sê dat alles begin het die dag toe hulle die evangelie gehoor het: 

"... en waarlik God se genade verstaan het." (Kolossense 1:6)

Dit is stap nommer een. Verstaan dat God ons gered het omdat Hy ons liefgehad het. Nie omdat ons dit verdien het nie — ons kan dit nie verdien nie. Nie omdat ons dit werd is nie — ons is dit nie werd nie. Jesus het die volle prys betaal en ons kan niks daarby voeg nie. In 'n ander brief aan die Efesiërs skryf Paulus so:

"Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie." (Efesiërs 2:8) 

Daar is onbeskryflike vrede en werklike vryheid in hierdie eenvoudige waarheid: ons is deur genade gered. "Nie deur verdienste nie", beteken dat ons nie ons redding kan verdien nie. As ons probeer om ons redding te verdien, lei dit tot hoogmoed, verwaandheid en beoordeling — net soos die skynheiliges. As jy genade verstaan, sal jy nederig wees. Ons doen nog steeds goeie werke, maar ons doen dit met dieselfde genade wat God vir ons gegee het. Paulus noem dit "vrug dra"  - die natuurlike uitvloeisel van die verandering binne-in ons. 


So van binne-in gepraat; wat gebeur werklik binne-in ons? Hoe vind daardie verandering plaas en waar kom die begrip vandaan? In vers 8 sê Paulus dat die nuwe liefde wat tussen die gelowiges gebeur, die "liefde in die Gees"  is. En in vers 9 bid hy: 

"Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken."

Dit is die volgende sleutel: die Heilige Gees. Die Gees is God — die derde deel van Vader, Seun en Heilige Gees. Die Gees werk in ons, gee vir ons liefde en meegevoel, help ons om die bose te weerstaan met oortuiging en krag, en gee ons kennis en wysheid vir die lewe. Die Gees is hoe ons dit uitleef.


Die resultaat, in vers 10, is "... 'n lewe tot eer van die Here." Dit is die sleutel. Nie om sy liefde te verdien nie, maar om tot eer van die wonderlike liefde wat Hy ons gewys het, te leef. Genade haal die fokus van ons werke af en plaas dit op sy eer en op ons "groei in die kennis van God." (1:10)


Dit is eintlik waaroor dit gaan om Jesus te volg: om Hom te ken. Onthou: wees lief vir God en vir mense. En dit bring ons by die derde noodsaaklikheid: genade, die Heilge Gees en om Jesus te ken. Die hoofstuk eindig met 'n kragtige herinnering van wie Jesus is. Ek sluit daarmee af, maar ek moedig jou aan om Kolossense 1 te lees en spesiaal tyd daaraan af te staan.Leer ken die Seun van God. In vers 15:


"Die Seun (Jesus) is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand."

Vir Oordenking en Bespreking

  • Vandag se gids sê, dat as jy probeer om van buite-af te verander, is dit 'n resep vir skynheiligheid. Hoekom dink jy is dit so?
  • Daar word gesê dat as jy vir jou redding werk, dit tot skuldgevoelens en verwaandheid lei, maar dat God se genade na vrede en nederigheid lei. Dink jy dis waar?
  • Kolossense 1:10 vra ons om "tot eer van die Here" te leef. Hoe dink jy lyk daardie lewe?
Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Start Here | First Steps With Jesus

As jy onlangs tot bekering gekom het, nie die Bybel ken nie, of 'n vriend help — Begin Hier. Vir die volgende 15 dae sal hierdie 5-minute klankgidse jou stap-vir-stap deur twee fundamentele Bybelboeke neem: Markus en Kol...

More

Ons sê baie dankie aan "Through The Word" wat hierdie leesplan verskaf het. Besoek asseblief http://throughtheword.org vir meer inligting

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid