Leesplan inligting

Kruis & KroonVoorbeeld

Cross & Crown

DAG 5 VAN 7

Die Opstanding — Waarom Dit Belangrik Is


Wat as Jesus Christus nie uit die dood opgestaan ​​het nie? Waar sou dit ons laat? Watter versekering sou ons van enigiets in die lewe hê? Ons selfvertroue, gedagtes oor die dood en ons hoop op 'n voortbestaan ​​ná hierdie lewe, sou beïnvloed word.


God het geweet dat Jesus se opstanding baie vrae by ons sou laat opkom; daarom het hy Paulus gelei om vir ons 'n paar antwoorde te gee. In 1 Korintiërs 15:14 spreek die apostel die hoofpunt aan: Wat as die opstanding nie regtig gebeur het nie? Hy skryf: "En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud."


Dit beteken dat, as die opstanding nie plaasgevind het nie, sou ons geloof leeg en sonder fondament wees; ons sou valse getuies wees, leuens versprei; al ons inspanning vir die geloof sou waardeloos wees. Om die Skrif te lees en die goeie nuus te deel, sou 'n algehele vermorsing van tyd wees (1 Korintiërs 15:17). Alle volgelinge van Christus, wat gesterf het met die geloof dat hulle bestem is vir die ewige lewe, sou eenvoudig vergaan; hulle hoop op die hemel sou niks meer as 'n misleiding wees nie (1 Korintiërs 15:18). Die ergste van alles is dat ons nog steeds in ons sondes sou leef (1 Korintiërs 15:17), nog steeds skuldig sou wees, en ons lewens verskuldig wees as die straf vir ons oortredings (Romeine 6:23). Paulus som dit só op: "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense" (1 Korintiërs 15:19).


Gelukkig strek ons hoop verder as hierdie lewe, omdat Jesus werklik uit die dood opgestaan ​​het. God het in sy wysheid vir ons onbetwisbare bewyse nagelaat. Om mee te begin, was die graf deur Romeinse soldate bewaak, wat met die dood gedreig is as hulle nie die opdrag sou uitvoer nie. Alhoewel hierdie voorsorgmaatreël moes voorkom dat Christus se volgelinge die liggaam steel en valslik beweer dat Hy opgestaan ​​het (Matteus 27:62-66), was die graf nietemin leeg. Nog 'n aanduiding is dié van veranderde lewens — iets betekenisvols moes plaasgevind het vir Christus se bang dissipels om, ten spyte van gewelddadige dreigemente, dapper verkondigers van die evangelie te word (Johannes 20:19).


Die belangrikste is dat Jesus self belowe het dat Hy uit die dood sou opstaan (Matteus 16:21). Hy het daarop aanspraak gemaak dat Hy een met die Vader is (Johannes 10:30), dus was en is Hy die Seun van die lewende God, of anders was Hy 'n leuenaar. Die rekord toon egter dat Hy nooit 'n leuen vertel het nie (Johannes 14: 6). Alles wat Hy belowe of voorspel het, het gebeur, net soos Hy gesê het, behalwe vir daardie profesieë wat nog vervul moet word (soos sy wederkoms). Ook dit sal eendag presies gebeur soos Hy voorspel het, want daar is niks vals omtrent die sondelose Seun van God nie (Johannes 7:18).


Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Cross & Crown

Heelwat van die Nuwe Testament is geskryf sodat ons Jesus Christus kan ken; die verlossing wat Hy deur sy kruisdood en die belofte van sy opstanding verseker het. In hierdie leesplan besin dr. Charles Stanley oor die kos...

More

Ons wil graag "In Touch Ministries" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Besoek gerus https://intouch.cc/yv-easter vir meer inligting

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid